Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy verdrukking van die arme, en berowing van reg en geregtigheid sien in die land – verwonder jou nie oor die saak nie, want 'n hoër een loer op die hoë, en die hoëres weer op hulle. Maar 'n voordeel vir 'n land onder alles is dit: 'n koning wat aan die landbou diensbaar word – Prediker 5:7,8
HET U DEEL AAN DIE FEESMAAL VAN DIE HERE?
Hannes Ollewagen
Matt. 22:1-14
“Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ‘n ander na sy handelsaak.” (Matt. 22:4&5).
Geliefdes, elkeen van ons was seker al na ‘n feestelike geleentheid genooi. Ons weet dat dit ‘n eer is wat ‘n mens te beurt val om so ‘n uitnodiging te ontvang. Die gasheer wat hiermee te kenne gee dat die gaste vir hom in sy lewe tog van belang is. En daarom word daar baie tyd, geld en moeite vooraf spandeer om die feesmaal vir die genooides ‘n aangename geleentheid te maak.
Ons lees uit vanoggend se Skrifgedeelte van ‘n gelykenis wat deur onse Here Jesus Christus vertel is. En hierdie gelykenis handel ook oor ‘n feesmaal wat berei is. Ja, geliefdes, ‘n feesmaal nie net vir belangrike, gesiene, geleerde en ryk mense nie gereserveer is nie. Nee, ‘n feesmaal vir gewone mense, gebroke mense, sondige mense, mense wat honger en dors na die geregtigheid. Hierdie feesmaal wat deur God self berei is waarheen mense gratis kan kom om met die ware brood uit die hemel versadig te word. En tog sien ons ook self in ons tyd hoedat mense steeds hierdie wonderlike uitnodiging nie aanneem nie en hulle nie daaraan steur nie, maar verkies om hulself eerder met hul eie sake besig te hou.
“Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ‘n ander na sy handelsaak.” (:5).
Ja, geliefdes – sien ons nie self hoedat die dag van die Here weekliks ongesiens by mense verbygaan omdat hulle só besig is om rykdom en sukses na te streef dat daar nie meer tyd is om na die huis van die Here te gaan en aan die tafel van Sy feesmaal te gaan aansit nie? Ja, hier waar ‘n mens met die brood van die lewe versadig kan word! En ander is sommer net besig om eerder by ‘n pretpark, op ‘n sport stadion of voor ‘n televisie hul tyd te verwyl eerder as om te gaan aansit aan die feesmaal van die Here.
Ons lees in Jesaja 55 van hierdie dringende uitnodiging aan die mens. “Waarom weeg julle geld af vir wat nie brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.” (Jes. 55:2). Ja, geliefdes – die mens wat homself na hierdie en na daardie dinge in die lewe wend met die hoop om versadig te word. ‘n Nuwe motor, ‘n verhoging en bevordering by die werk of dalk ‘n groter en mooier huis – dan sal ek tevrede wees. En tog is daardie tevredenheid van korte duur, omdat daardie mens se siel nie tevrede en versadig is nie. Ja, al hierdie begeertes in die vlees kan vervul word, maar die mens kan steeds nie versadig wees nie. Luister maar na die woorde uit Ps. 106:14&15:
”En hulle het baie begerig geword in die woestyn en God versoek in die wildernis. Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur.”
Ons Here Jesus Christus het self ook die mens in hierdie saak onderrig in Sy lering wat ons in Joh. 6:27 opgeteken vind.
“Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; …”
Geliefdes, geen mens kan op dieselfde tyd by twee maaltye gelyktydig aansit nie. En so kan ons nie ons versadiging in hierdie wêreld en die begeerlikhede van die vlees tegelykertyd soek met ‘n versadiging uit God se Hand nie. Dit staan tog ook so duidelik vir ons in 1 Kor. 10:21 geskrywe.
“…Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.”
Laat ons nie in dwaasheid vandag hierdie uitnodiging van die Here om na sy bruilofsmaal te kom van die hand wys nie. Laat ons ook daagliks na Hom gaan en in diepe afhanklikheid vra dat Hy ons ook elke dag ons daaglikse brood sal gee. Ja, laat ons ook van Hom vra om ons altyd hierdie ware brood te gee. Ja, mag Hy ons daagliks aan sy bruilofsmaal sal laat aansit en ons met die ware brood van die lewe versadig.
“Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (Joh. 6:34&35).