Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waar die Here boosdoeners aan die stuur van landsake toelaat, is hulle ‘n instrument in God se hand. God gebruik hulle as ‘n tugroede om sy kinders mee te straf. Daarvan kon oud-Israel getuig! Agab en Manasse was twee sulke konings. As hulle verkeerd gedoen het, het God ‘n goddelose koning oor hulle laat heers.
WANDEL IN DIE HERE SE WEË
Hannes Ollewagen
Ps. 119:33-40
“Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek ‘n behae.” (:35).
Geliefdes, wat ‘n mooi versoek is hierdie nie van die Psalmdigter nie! Hy vra die HERE om hom langs die weg van sy gebooie te lei. En dan stel hy dit ook dat dit vir hom ‘n vreugde is om in die weë van die HERE te wandel. Hy het ‘n behae daarin om te doen wat in die oë van die HERE reg is. Hy doen dit nie uit vrees of manipulasie om iets van die HERE te ontvang nie, maar uit liefde vir die HERE. En daarom put hy vreugde hieruit. Ja, daarom kan hy hom hierin verlustig!
Ons lees in verse 33 & 34 hoedat die Psalmdigter die HERE vra om in sy insettinge en in sy wet onderrig te word. Hy het ‘n begeerte om die insettinge en die wette van die HERE te ken. En hierna vra hy van die HERE om dit te verstaan en te bewaar. Die Psalmdigter gaan dan ook verder om die HERE te vra om hom te help om sy gebooie te onderhou en daarin te wandel. Hierdie is ‘n erkenning dat die verordeninge van die HERE goed en reg is, daarom is daar ‘n begeerte by die Psalmdigter om daarin te wandel. Hy wil nie alleen weet van die insettinge en die wet van die HERE nie, hy wil dit nie alleen ken nie, hy begeer ook om hierin te leef.
Geliefdes, hierdie versoek van die Psalmdigter is ook iets waarin ons by verskeie verskillende geleenthede uit die Woord van die HERE onderrig word. Ek dink sommer dadelik aan die Woorde van onse Here Jesus Christus uit Matt. 7:21.
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”
Ja, geliefdes – nie hulle wat net die Woord, die insettinge, die verordeninge van die HERE ken, is na die ewige saligheid onderweg nie. Die saligheid is beskore vir hulle wat die verordeninge van die HERE ken, dit bewaar, dit liefhet, daarin glo en gehoorsaam daarin wandel. Luister ook na wat die HERE in Lukas 6:46 spreek.
“En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”
Wat is die punt daarvan om die insettinge en verordeninge van die HERE te ken as daar geen begeerte by die mens bestaan om daarin te wandel nie?
Geliefdes, ons luister ook na die woorde uit Job 31 waar Job spreek van die verkeerdheid van die afwyking van die weë van die HERE. Dit is uit hierdie gedeelte duidelik dat die oortreding daarin lê om nie te leef, nie te wandel in dit wat die mens weet die regte insettinge en verordeninge van die HERE is nie.
“As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande ‘n vlek gekleef het - laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word. As my hart verlok was oor ‘n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste – laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig. Want dit is ‘n skandelike daad, en dit is ‘n strafbare misdaad.” (Job 31:7-11).
Ons lees ook in Jesaja 58 van hierdie saak geliefdes.
“Wel soek hulle My dag vir dag en het ‘n behae in die kennis van my weë! Soos ‘n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ‘n behae in die toenadering tot God.” (:2).
En hierna stel die HERE duidelik sy afkeur in die volk wat nie met opregtheid in sy weë en insettinge wandel en leef nie. En ook in Jeremia 6:16 vind ons hoedat die HERE aan sy volk bevel gee om nie net na sy weë te vra nie, maar om ook daarin te wandel.
“So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.”
Geliefdes, mag ek en u ook vandag opnuut besin daaroor of ons ook werklik in die weë van die HERE wandel. Ja, laat ons nie van Hom af wegdwaal agter die verleiding van die vleeslike en wêreldse begeerlikhede nie. Maar laat ons eerder daarna streef om ons daarin te verlustig om in sy weë te wandel.
“...en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Ps. 37:4).