Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Onvergenoegdheid en ewige gefoutvindery met alles is soos gif in mens se gestel. Daar is net een entstof om dit weg te neem: dankbaarheid. Wanneer probleme oor ons pad kom het 'n gees van dankbaarheid 'n strelende antiseptiese uitwerking.
VERVULLING VAN DIE WET
Hannes Ollewagen
Matt. 5:17-48
“MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” (:17).
Geliefdes, die woordeboek verklaar vir ons die betekenis daarvan om te vervul as volg –
- Om iets vol te maak.
- Om iets na te kom.
Die definisies van hierdie woord, “vervul”,maak vir ons‘n kosbare skat oop uit hierdie bergpredikasie van Christus. Hy het nie gekom om die wet of die profete te ontbind nie, maar om te vervul. Hy het derhalwe nie gekom om dit uitmekaar te haal, ongedaan te maak of tot ‘n einde te bring (te ontbind) nie, maar om dit ten volle, volkome na te kom – te vervul. En dit is vir ons volkome duidelik uit die voorbeelde wat Hy self in hierdie bergpredikasie tot ons lering gebruik. Hy neem telkens ‘n wet uit die Ou Testamentiese tyd en verduidelik dat die eise wat Hy vir ons daar stel veel hoër is as die letter van die wet soos in die wet van Moses opgeteken. “Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.”
Ons neem as eerste voorbeeld sommer die sesde gebod wat dit stel dat jy nie mag doodslaan nie. Christus se lering in verse 21 – 24 in hierdie verband is duidelik. Hy verwag van ons veel meer as die nakoming van die letter van die wet tot die minimum. Ja, wanneer ek en u luister na hierdie gebod wat dit stel dat ons nie mag doodslaan nie, voel ons heel tevrede met onsself aangesien hier na alle waarskynlikheid nie een van ons is wat al ‘n ander met opset doodgeslaan het nie. Maar wanneer ons luister na die vervolmaking van hierdie wet, m.a.w. die volkome nakoming, die vervulling van hierdie wet soos wat Christus dit aan ons stel, lyk die prentjie anders. Ja, Hy stel dat ons hierdie gebod van God oortree wanneer ons sonder rede vir ons broeder kwaad is. En ek twyfel of daar enige van ons is wat nog nie hierin teen God oortree het nie.
Eweneens neem Christus die volgende voorbeeld, die sewende gebod wat egbreuk verbied. En hierin stel Hy dit ewe duidelik dat die volmaking van hierdie gebod veel hoër is as die minimum vereiste van die wet van Moses. Weereens kan ons hierdie toets doen. Wanneer ons beoordeel word of enige van ons in ons huwelik aan ons huweliksmaats ontrou was, lyk die meeste van ons se rekord hopelik baie indrukwekkend. Maar wanneer ons luister na Christus se eis vir volmaking van hierdie gebod, nl. dat ons teen God oortree wanneer ons selfs net na ‘n vrou kyk om haar te begeer, lyk die prentjie heelwat minder rooskleurig. “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” (:27&28).
Ja, geliefdes ek wil graag ook die vyfde gebod as voorbeeld neem. Hierin stel God dat ons aan ons ouers eer verskuldig is. Die minimum vereiste van hierdie gebod is sekerlik nie te moeilik om te onderhou nie. Ek en u praat tog ordentlik met ons ouers en vloek hulle nie of behandel hulle nie sleg nie. En dit wat hulle van ons vra sal ons boonop sekerlik doen omdat ons verstaan dat dit ons verpligting is. Maar wanneer ons weereens kyk na die voorbeeld wat Christus vir ons hierin gestel het, verstaan ons hoe hoog die standaard vir die vervulling van hierdie gebod is waarna ons moet streef. Ja, dink aan die voorbeeld wat Hy vir my en u in hierdie verband gestel het. Die eerbied wat Hy aan sy Vader, ons Vader, bewys het deur Hom in alles te gehoorsaam. Ja, Hy was selfs in eerbied bereid om sy eie lewe af te lê en ‘n vernederende marteldood te sterf omdat dit in ooreenstemming met die wil van God onse Vader was. Ten spyte daarvan dat dit nie vir Hom ‘n maklike opdrag was om uit te voer nie het Hy hierdie wet van God vervul en die hoogste denkbare voorbeeld van vervulling hiervan aan ons gestel. “...Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Luk. 22:42).
Die agtste gebod leer ons weer om nie die eiendom van ons naaste te steel nie. En hopelik kan ek en u ook hierin met sekerheid sê dat ons nie opsetlik in hierdie saak oortree nie. Dit is tog nie só moeilik om vir jou eie bestaan te werk en jouself daarvan te weerhou om nie ‘n ander se eiendom te gaan roof nie. Maar wanneer ons dink aan die hoër vereiste van hierdie gebod, die vervulling van hierdie gebod, voel ons dalk minder tevrede met onsself, geliefdes. Hoeveel van ons voldoen aan die vervullig van hierdie gebod deur nie alleen ons daarvan te weerhou om ons hand na ‘n ander se eiendom uit te steek nie, maar om ook die belang van my naaste op die hart te dra? Ja, dit is tog duidelik dat God dit van ons verwag in die vervulling van hierdie gebod. “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.” (Fil. 2:4).
Geliefdes, hierdie hoofstuk sluit af met ‘n opdrag wat vir ons net absoluut onmoontlik klink. “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” (:48). Ons weet tog dat niemand só volmaak as God kan wees nie. Dit verander egter niks aan die opdrag van God dat ons elke dag steeds hierna moet streef nie. Ja, net soos wat ons elke dag ook daarna moet streef om nie alleen die minimum van God se wet te probeer onderhou nie, maar om die wet van God tot die uiterste, ten volle na te kom.
Mag ek en u onsself beklee met die liefde vir God en ons naaste wat aan die grondslag lê vir die nakoming en vervulling van God se volmaakte wet. “En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” (Kol. 3:14).
Amen.