Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bid saam in die gesin en lees saam uit die Bybel want niks maak 'n huwelik en 'n gesin sterker nie. Niks is 'n beter verdedigingsmeganisme teen die duiwel nie.
OPREGTE GELOOF HOU ONS STAANDE
Hannes Ollewagen
Dan. 3:1 - 30
“As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.” (:17&18).
Daar is ‘n pragtige spreekwoord wat lui dat iemand by iets sal staan of val. En die optrede van hierdie drie vriende van Daniël het my dadelik aan hierdie spreekwoord herinner. Hierdie manne was bereid om vas te staan vir dit wat vir hulle belangrik was – hulle geloof in God, hul liefde vir Hom en hul gehoorsaamheid aan Hom. Hierdie manne was so vasberade om vas te staan dat hulle bereid was om hulle lewens daarvoor te gee. Ja, hulle was bereid om in ‘n pynigende, brandende vuuroond ter wille van dit waarin hulle glo te sterf. Die eerbied teenoor God en hulle gehoorsaamheid aan Hom het vir hulle meer gewig as selfs hul eie lewe gedra! Indrukwekkend! Prysenswaardig!
Die vriend van hierdie drie manne, Daniël, het by ‘n ander geleentheid dieselfde prysenswaardige optrede getoon. Hy was willens-en-wetens bereid om die gebod van die land te oortree ten einde steeds aan God gehoorsaam te wees en Hom te eer. “En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op 'n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.” (Dan. 6:11). Daniël was bereid om vir hierdie geloof van Hom vas te staan. Hy was deurentyd daarvan bewus dat hierdie optrede hom bes moontlik sy lewe kon kos. Nietemin het Daniël in geloof vasgestaan. Hy het nie die gevaar voor oë gevrees nie, maar eerder in geloof die oë op sy Verlosser gehou wat in staat was om hom uit enige gevaar te red.
Ons sal natuurlik ook na die baie bekende voorbeeld van Petrus se lewe in hierdie onderwerp verwys. U onthou van Petrus wat op die water na Jesus geloop het? Petrus was baie bewus van die lewensgevaarlike storm rondom hulle. Hy het egter op uitnodiging van Christus uit die skuit geklim en op die water na Hom geloop. “En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan.” (Matt. 14:29). Petrus het egter op ‘n stadium sy oë nie op Christus gevestig gehou nie, maar op die gevaar van die dreigende storm rondom hom gefokus. En dit het tot gevolg gehad dat hy nie in geloof staande gebly het nie, maar weens die vrees vir die storm gestruikel het. “ Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!” (Matt. 14:30). Tog was Christus getrou om Hom te hulp te kom. Nadat Hy Petrus gered het, het Hy vir Petrus egter daarop gewys dat hy in geloof moes staan om sodoende die gevaar rondom hom te kon trotseer. “En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” (Matt. 14:31).
Geliefdes, sou ons kan praat van mense wat in geloof staan sonder om aan die inspirende optrede van Dawid te dink? Hierdie jongman wat bereid was om in geloof die dreigende gevaar van ‘n ervare oorlogsheld trompop te loop ter wille van die eer van God! “... Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?” (1 Sam. 17:26). En Dawid bely openlik dat hy hierdie gevaarlike reus die stryd in geloof aansê! “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.” (1 Sam. 17:45). Dawid was bereid om ter wille van die eer van God vas te staan. En in geloof het Dawid bly staan en die reus geval!
Geliefdes, soos in die geval van Dawid, so was dit ook vir Daniël en sy drie vriende en die ander geloofshelde. Deur hulle geloof het hul eindelik oorwin en staande gebly en deur die getrouheid en krag van hulle Verlosser het die gevare geval.
Ons het dan ook veel te leer uit die inspirerende voorbeelde van hierdie mense. Aangesien die tyd waarin ons leef ook nie ‘n gebrek aan uitdagings en reuse gevare het wat op verskeie lewensterreine dreig nie, is dit van uiterste belang dat ons elke dag daarvan bewus moet wees dat ons alleen in die krag van ons geloof in God Drie-enig, ons Verlosser, staande sal kan bly. Hy is ons rots waarop ons kan bou en waarin ons lewe stewig geanker moet wees. “Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie.” (Ps. 62:7).
Amen.