Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe gebeur dit dat ’n mens die Bybel as God se Woord aanvaar en nie maar as ’n wonderlike boek deur goeie mense geskryf nie? Dit is die Heilige Gees wat in jou werk en jou oortuig dat jy hier nie met ’n gewone boek te doene het nie. Dit sluit egter nie die verstand uit nie. Die aanvaarding van die Bybel as God se Woord, is ook ’n verstandelike aanname, ’n deurdagte besluit.
BEDINK DIE DINGE DAARBO
Hannes Ollewagen
Matt. 16:13-23
“Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” (:21
Die Woorde van onse Here Jesus Christus teenoor Petrus was baie sterk. Die aanspreekvorm wat Christus teenoor Petrus gebruik in hierdie situasie val ‘n mens beslis op. Dit is dalk selfs iets waaroor baie van ons wonder. Petrus is dan ‘n dissipel van Jesus – hoe noem hy hom Satan?
Wanneer ons dit lees in die konteks van Rom. 6:13 verstaan ons die aanspreekvorm wat gebruik word dalk heelwat beter. “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” Terwyl Petrus wel ‘n dissipel van Jesus was, was hy op daardie stadium besig om teen die soewereine wil van God op te tree. Dit was God die Vader se wil dat Christus moes sterf om sodoende die prys vir gelowiges se skuld te betaal. En Petrus wou, hoewel met goeie bedoeling in sy posisie, hierdie dood van Christus verhoed. En dit was teen die Vader se wil en daarom was Petrus nie op daardie stadium ‘n werktuig van geregtigheid nie. En hy is hieroor deur Christus bestraf.
Christus wys dan ook vir Petrus op die oorsprong van sy verkeerde optrede – dit waarmee sy gedagtes besig was, was verkeerd. “...omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” Ons lees van die vroegste tye af dat hierdie menigmaal die oorsaak is waarom die mens verkeerd optree – omdat die dinge wat die mens bedink, verkeerd is. “...Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,” (Gén. 6:5). Luister gerus ook na die gebed van Dawid wat hy tot die HERE bid. Hierdie gebed in Psalm 35 is ‘n gebed tot God om die goddelose te straf. En interessant genoeg lees ons in hierdie gebed dat Dawid ook melding maak van die feit dat hierdie goddelose mense verkeerde dinge bedink. En dit gee dan eindelik tot verkeerde optrede aanleiding. “Want hulle spreek nie van vrede nie, maar hulle bedink bedrieglike woorde teen die stilles in die land.” (Ps. 35:20). En Dawid spreek verder in Ps. 36 oor die goddelose. “Hy bedink onreg op sy bed; hy gaan staan op ‘n weg wat nie goed is nie; wat sleg is, verfoei hy nie.” (Ps. 36:5).
Ons lees in Psalm 140 weer waar Dawid tot God bid om hom teen goddelose mense te beskerm. En ook in hierdie gebed is dit duidelik dat hierdie mense se verkeerde optrede spruit uit die verkeerde dinge wat bedink word. “Red my, HERE van die kwaaddoeners, bewaar my vir die manne van geweld; wat slegte dinge in die hart bedink, wat elke dag stryd verwek.” (Ps. 140:2&3). En die wyse koning Salomo is nog ‘n getuie in hierdie saak. Hy stel dit in Spr. 24 vir ons dat kwaaddoeners dinge wat verkeerd is, bedink. “WEES nie afgunstig op die kwaaddoeners nie, en begeer nie om met hulle saam te wees nie. Want hulle hart bedink verwoesting, en hulle lippe spreek moeite.” (Spr. 24:1&2). En dan is die opdrag uit die Woord van die HERE in Sag. 7:10 baie duidelik daaroor dat ons gedagtes reg en suiwer moet wees. “...en kwaad in julle hart teenoor mekaar bedink nie.” (Sag. 7:10).
Die HERE onderrig ons dan verder in die brief aan die Romeine in hierdie saak, geliefdes. Hierin stel die HERE dit dat vleeslike gedagtes vyandskap teen Hom is – soos wat in Christus se woorde teenoor Petrus baie duidelik onderstreep is. En die keersy is dat ons in vrede met God leef wanneer ons nie die vleeslike nie, maar die geestelike dinge bedink. “ Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.” Ons vind ook in Fil. 4:8 ‘n duidelike voorskrif in hierdie verband. “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
Geliefdes, die mens in ons samelewing is toenemend besig om sy gedagtes met oppervlakkige en sekulêre vermaak op te hou. Dit is sedelose, lasterlike films waarin goddeloosheid, ongebondheid en selfsug seëvier. En hierdie is dan ook dinge wat toenenemd in mense se gedagtes bedink word. Minder en minder tyd spandeer mense aan die Woord van die HERE en derhalwe word die dinge van die HERE minder en minder bedink. En tog wil ons kla oor die verval en slegte omstandighede rondom ons wat eintlik maar niks minder is as die logiese gevolg van ‘n samelewing se bedorwe, selfsugte en goddelose optrede wat gesetel is in verrotte gedagtes nie. ‘n Gesegde lui mos dat iets van sy kop af vrot word. Ons kan dit dalk anders verwoord – ‘n lewende wese word van sy kop af, vanuit sy gedagte, verrot.
Geliefdes, mag ek en u hierdie vermaning van die HERE vandag tot ons heil met goeie gesindheid aanneem. En mag ons daardie dinge wat ons gedagtes besoedel onverwyld verwerp. Mag ons terselfdertyd ywer om ons gedagtes te vul met daardie dinge wat waar, eerbaar, rein, regverdig, lieflik en loflik is. En mag die HERE ons help om die dinge wat daarbo is, eerder as dit wat hier benede is, te bedink. “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” (Kol. 3:2).
Amen.