Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God se verlossingsplan vir sy kinders is sekuur uitgewerk en uitgevoer deur die eeue en sal uiteindelik uitloop op die volkome geluksaligheid in die hiernamaals. Iewers in hierdie volmaakte plan pas hierdie nuwe jaar ook in.
LAAT ONS HOM MET VOLHARDING VOLG
Hannes Ollewagen
Jos. 14:1-15.
”Daarom het Hebron die erfdeel geword van Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, tot vandag toe, omdat hy volgehou het om die Here, die God van Israel, te volg.” (:14).
Ons lees in Núm. 13 waar die HERE aan Moses die opdrag gee om twaalf spioene te stuur om die land Kanaän te gaan verken. Hierdie is die land wat God aan die volk Israel beloof het. Ons onthou dat een van hierdie spioene bekommerd was oor die mag van die vyand wat hulle sal moet trotseer om die land te verower. Daarenteen was daar net twee van die spioene, Josua en Kaleb, wat posief oor die inneming van hierdie beloofde land was. Hierdie twee manne se fokus was op die Almagtige God gerig en nie op die gevaar van die dreigende vyand nie. En die gevolg hiervan was dat net hierdie twee manne wie se oog op God gerig was en wie se geloof in Hom gesetel was dan die beloofde land gesien het. “Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die Here se heerlikheid vol sal word, al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al een maal versoek het en na my stem nie geluister het nie, hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met 'n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie. Maar my kneg Kaleb, omdat 'n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg — hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.” (Núm. 14:21-24).
Ons lees op verskeie plekke in die Woord van God waar hierdie optrede van Kaleb uitgesonder en beklemtoon word. Kaleb het volgehou om God te volg. En hierdie getrouheid en volharding van Kaleb is deur God beloon. En wat meer is, is die pragtige skadubeeld wat ons hier in die Ou Testament raaksien. Kaleb het God gehoorsaam. Kaleb het in God geglo. En Kaleb het in geloof en gehoorsaamheid (geloofsgehoorsaamheid) volhard. En die resultaat hiervan was die beloning uit God se Hand. Hy het die erfdeel ontvang wat God aan hom beloof het.
Die beloftes uit die Nuwe Testament laat ons as gelowiges ook uitsien na ons erfdeel wat ons eendag van God mag ontvang. “En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle 'n erfdeel te gee onder al die geheiligdes.” (Hand. 20:32). Ons moet egter versigtig wees vir die dwaling van mense wat verkondig dat ons hierdie erfdeel van God sal ontvang, ongeag hoe ons lewe daar uitsien.
Dieselfde beginsels wat in die tyd van Josua en Kaleb gegeld het, geld ook vandag nog vir ons as gelowiges. God het ons lief. En Hy wil graag aan ons ‘n mooi afgemete erfdeel gee. Hy wil sien dat ons die erfdeel wat Hy vir ons voorberei het in besit neem. Maar dit sal nie vir ons moontlik wees om dit uit eie krag of op enige ander wyse te doen as om Hom met volharding te volg nie. Ons moet ook, soos Kaleb, in geloof en gehoorsaamheid volhard om eindelik ons erfdeel van die ewige lewe van Hom te ontvang. “...wat elkeen sal vergeld na sy werke: aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek — die ewige lewe; maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is — grimmigheid en toorn;” (Rom. 2:6-8).
Ek wil graag in die lig hiervan, dat ons ook kyk na ‘n paar gedeeltes uit die Nuwe Testament. Ons lees van die gelykenis van die saaier wat deur Christus vertel is. En uit hierdie baie bekende gelykenis uit Lukas 15 word daar verwys na die verskillende plekke waar die saaier se saad val en dat dit eindelik tot niet gaan. En op die een plek waar die saad nie tot niet gaan nie, maar waar dit vrug oplewer, is die opbrengs nie kortstondig of eenmalig nie. Die vrug word met volharding gelewer. “En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in 'n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.” (Luk. 15:15). En in Lukas 21:9 word dit weer vir ons bevesg dat ons met volharding in die geloof die erfdeel van ons ewige lewe in besit sal neem. “Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.” Mat. 24:13 is ook baie duidelik oor hierdie saak. “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”
Geliefdes, Josua en Kaleb het met geloof, gehoorsaamheid aan God en volharding in die stryd eindelik die erfdeel ontvang wat God aan hulle beloof het. En die voorbeeld van hulle lewe behoort ons nie alleen te besiel nie, maar ook te herinner aan ons verantwoordelikheid om in gehoorsaamheid aan God en in die geloof in Hom te volhard. En dit behoort ons ook daaraan te herinner dat die erfdeel waarna ons in hierdie lewe onderweg is, baie kosbaar is en daarom het ons die verantwoordelikheid om hard te stry om dit in ontvangs te neem. “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.” (Luk. 13:24).
Ons sluit af met die vermaning in hierdie verband wat die Woord van die HERE vir ons in Tim. 6:12 leer. “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.”
Amen.