Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Aan Jesus behoort alle mag oor lewe en dood omdat Hy God is! Daarom kan diegene wat aan Hom behoort, nooit in ‘n skaakmatsituasie beland nie. Die Koning van alle konings maak altyd die laaste skuif!
AAN WIE IS HY IETS SKULDIG?
Hannes Ollewagen
Job 41:1-25
“Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.” (:2)
Hierdie woorde is dalk iets wat ons samelewing met sy menstaliteit van “die wêreld skuld my” , meer gereeld moet hoor. Hierdie verwerplike houding is wêreldwyd onder veral die Westerse beskawing te bespeur. En dit is besig om samelewings te laat verrot. Ons kan dit ook hier naby aan ons sien. Dit is nie alleen die swart volke rondom ons wat hierdie mentaliteit het nie, maar ook onder ons eie volk is dit nie meer ‘n ongewone verskynsel nie.
Daar is myns insiens min gedeeltes wat hierdie verkeerde gedrag so kragtig en duidelik aanspreek as die lewensverhaal van Job. Hierdie man, Job, was ‘n vroom en Godvresende man. En hy was skatryk en baie voorspoedig. En God het toegelaat dat hierdie man van al sy besittings, sy kinders en selfs sy gesondheid gestroop word. Die natuurlike gevolg was dat Job gevra het waarom al hierdie dinge hom oorkom. En dit was nie noodwendig ‘n verkeerde ding om te doen nie, want selfondersoek is nie alleen nodig vir ‘n mens nie, maar noodsaaklik. Job het egter mettertyd sy eie vrome en regverdige lewe met die verkeerde lewe van die goddelose vergelyk en volgens sy oordeel was dit nie reg dat hierdie mense in hul goddeloosheid voorspoedig is terwyl hy in sy Godvresendheid soveel teëspoed moes ervaar nie. En hierin het Job vir God vertoorn.
“EN die Here het Job uit 'n storm geantwoord en gesê: Gord tog jou heupe soos 'n man; Ek sal jou ondervra en onderrig jy My. Wil jy werklik my reg verbreek, My veroordeel, dat jy gelyk kan hê? Het jy dan 'n arm soos God? En kan jy donder met die stem soos Hy?” (Job 40:1-4).
God het vir Job duidelik daarop gewys dat Hy, die Almagtige en die Skepper van die heelal aan geen mens enigiets verskuldig is nie – nie eers ‘n verduideliking nie. Hy is die Skepper van die heelal deur Wie alles tot stand gekom het en Hy het reg om met sy Skepping volkome na sy welbehae te handel. Ons het nie die “reg” om gesond te wees nie. Ons het nie die “reg” op lewe nie. Ons het nie die “reg” tot finansiële voorspoed of sukses nie. En nee, ons kan nie in oordrewe charismatiese styl vir God opdragte gee om op ons bevel ons te seën nie. Ons het nie die “reg” op ‘n goeie werk of die “reg” op die mooiste en oulikste vrou en kinders nie. Al hierdie dinge is gawes wat ons uit die Hand van die Almagtige Skepper en ons liefdevolle Vader ontvang. Ja, was dit nie vir sy liefdevolle vrygewigheid nie sou nie een van ons eers bestaan het nie. Ons eerste asemteug was alreeds ‘n gawe uit sy Hand. “... omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.” (Hand. 17:25).
Ons leer alreeds uit die geskiedenis van die eersgeskape mense van God se liefdevolle vrygewigheid. Nadat Hy die mens geskape en aan hulle die asem van lewe gegee het, het Hy hulle ook liefderyk versorg deur aan hulle die plante as voedsel te gee. “Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees.” (Gén. 1:30). Die mens het nie nodig gehad om op iets aan te dring nie – God weet reeds wat die behoefte van die mens is wat Hy self geskape het en voorsien in sy liefdevolle goedheid self daarin.
Ons leer egter ook uit die Skeppingsverhaal dat God sedert die vroegste tye vir die mens voorskrifte gegee het oor hoe ons met die gawes uit sy Hand behoort te handel.
Ons lees in Psalm 8 ook waar Dawid aan die nietigheid van die mens teenoor God dink en daarmee saam dink hy aan alles wat God as gawes aan die mens gegee het. Maar hy dink ook aan die voorskrif van God aan die mens oor hoe ons daarmee behoort te handel. “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het — wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see. o Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (Ps. 8:4-10). Ja, hieruit is dit so duidelik dat die mens nie die reg oor God se Skepping het om iets op Hom af te dwing nie, maar dat ons wel ‘n verantwoordelikheid teenoor Hom het!
Ons is bevoorreg om in ‘n verwarde samelewing onder die geklank van die Woord nog aan hierdie dinge herinner te word. Die herinnering hieraan vul ons harte met dankbaarheid vir die mooi gawes wat ons onverdiend van Hom ontvang. En die besef van ons verantwoordelikheid teenoor Hom verseker dat ons hierdie gawes wat ons van Hom ontvang oppas, beskerm en koester. En dit bring vir ons vergenoegdheid, tevredenheid en vrede wat van ons gelukkige mense maak. Dit midde van ‘n samelewing wat deur die aandrang op regte, wat nie bestaan nie, in onvergenoegdheid, ontevredenheid en ondankbaarheid met onverskilligheid optree en eindelik in diepe ongelukkigheid en wanhoop verval.
Ons sluit dan vandag af met die uiters gepaste lofsang uit Paulus se brief aan die Romeine. Rom. 11:34-36. “Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
“Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”