Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
...en Ek sal onder hulle stuur die swaard, die hongersnood en die pes, totdat hulle omgekom het uit die land wat Ek aan hulle en hulle vaders gegee het – Jeremia 24:10
WEES BARMHARTIG
Hannes Ollewagen
Luk. 6:17-49
“Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.” (:36).
Barmhartigheid is een van die kenmerkende eienskappe van God. Ons lees in Exodus 34:6 van Moses se getuienis hiervan. “En toe die Here by hom verbygaan, het Hy geroep: Here, Here, barmhatige en genadige God, …”. En baie jare later getuig die profeet Joël saam met Moses oor hierdie selfde eienskap van God. “…en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid,…” (Joël 2:13). En natuurlik is daar geen gebrek aan die getuienisse hiervan by koning Dawid nie. Een van hierdie getuienisse vind ons in Ps. 86:15. “Maar U, Here, is 'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.”
Daar is natuurlik in die Nuwe Testament ewe veel, eintlik nog meer, verwysings na en getuienisse van hierdie eienskap van barmhartigheid wat eie aan God is. Luister gerus na die getuienis hiervan uit Mark. 5:19 deur Jesus Christus self. “…Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.” En ook die duidelike getuienis uit Titus 3:5. “...maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees”.
Net so duidelik as wat die Woord van die HERE daarvan getuig dat barmhartigheid
‘n kenmerkende eienskap van God is, so duidelik stel die Woord van die HERE dit dat Hy van ons as sy kinders verwag om sy voorbeeld hierin na te volg. Hy verwag dat hierdie eienskap van barmhartigheid ook in ons lewens teenwoordig sal wees. “Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie;” (Matt. 9:13). Die wil van God en sy verwagting in hierdie saak word verder vir ons duidelik in Sag. 7:9 uitgelig. “So het die Here van die leërskare gespreek en gesê: Spreek 'n eerlike vonnis uit en bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander.” Wanneer Christus die skrifgeleerdes en Fariseërs tereg wys, blyk dit vir ons duidelik hoé belangrik barmhartigheid in God se oë is. “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. …”
Kyk vandag rondom u. Hoeveel barmhartigheid sien u? Hoeveel barmhartigheid is in u familie sigbaar? Hoeveel barmhartigheid is daar in u kerklike kringe te bespeur? Kyk na binne – hoeveel barmhartigheid is daar in u eie lewe nog te bespeur? Omdat daar nie ‘n voorbeeld daarvan in die wêreld rondom ons is nie sal ons moeilik besef dat barmhartigheid in ons eie lewens dalk ook nie ‘n lewende werklikheid is nie. Maar dank die Vader wat aan ons sy volmaakte, onverandelike Woord gee wat ons hieraan herinner!
Wanneer ons daaraan dink dat elkeen van ons eendag voor die Regterstoel van Christus moet verskyn, sal ons opnuut bewus word van die belangrikheid van hierdie eienskap van barmhartigheid wat in ons lewens tuishoort. Ek glo nie dat daar een van ons is wat dit kan beskostig om voor God se Regsterstoel sonder barmhartigheid te verskyn nie. Ek sê dit in die lig van die woorde uit Jakobus 2:13: “Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie;…”.
Ek sluit vandag af met die woorde uit die saligsprekinge van Christus uit Matt. 5:7 wat ons daaraan herinner om volgens hierdie voorskif van God te leef en die eienskap van barmhartigheid deel van ons lewens te maak. “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
Amen.