Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Goeie sin vir humor maak alle dinge beter. Behou jou humorsin veral in moeilike tye – dit het niks te make met die erns van die situasie nie, lag verskaf net die vonk wat mense meer gewillig maak om probleme op te los. Het u opgemerk hoe min die mense om u deesdae lag? Lag is 'n teken van geestesgesondheid en kom seker die heel naaste aan die genade van God – ons moet dit net aangryp.
LEER OM GOED TE DOEN
Hannes Ollewagen
Jes. 1:1-31
“Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.” (:16&17).
Dit is ineteressant dat die HERE aan sy volk deur die mond van Jesaja twee opdragte gee in hierdie verse waaruit ons oordenking kom. Die HERE beveel sy volk enersyds om op te hou kwaaddoen. En andersyds word aan hulle nog ‘n opdrag gegee en dit is om goed te doen.
Hierdie opdrag laat my dink aan die vergelyking van Christus waarvan ons in Matt. 5:13 lees.
“JULLE is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? ...” Sout word gebruik om voedsel te preserveer, m.a.w. om te keer dat dit nie sleg word nie, maar dan het sout ook nog ‘n kosbare eienskap en dit is dat dit kos smaaklik maak.
Die opdrag van die HERE aan ons as sy kinders is dus duidelik. Hy verwag nie alleen van ons om ons van verkeerde optrede te weerhou en om die sonde in ons lewe te bestry nie. Hy verwag ook van ons om aktief werksaam te wees om goed te doen. Ek dink dat laasgenoemde opdrag menigmaal deur gelowiges oor die hoof gesien word. Ons fokus daarop om nie die verkeerde te doen en te sondig nie, om nie ander leed aan te doen of te na te kom nie en dan voel ons tevrede met onsself. En dit is goed om hierdie dinge te doen, maar dit is nie waar ons verantwoordelikheid as God se kinders eindig nie. Luister
ook gerus na die woorde uit Jak. 4:17. “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.”
Ons leer uit Spreuke 11:17 dat dit vir ‘n mens se siel goed is om weldadigheid te bewys. “’n Man wat ‘n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel, maar ‘n wreedaard pynig sy eie vlees.” En uit 3 Johannes 1:11 leer ons dat wedergeborenes, hulle wat uit God gebore is, mense is wat goed doen. “Geliefdes, moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goed doen, is uit God; maar hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie.” Paulus skryf in sy brief aan Timótheüs as volg : …“dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam,”. (1 Tim. 6:8). Dit onderstreep weer vir ons hierdie opdrag om goed te doen. Die rykes word hierin nie alleen vermaan om nie verkeerd op te tree nie, maar ook om die gawes wat hulle van God ontvang reg aan te wend en dit te gebruik om daarmee goed te doen.
Ons leer ook uit die lewe van Kain ‘n baie kosbare les in hierdie verband. En dit is dat ons makliker die sonde tot prooi sal val wanneer ons hierdie opdrag om goed te doen, nalaat.
“Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (Gén. 4:7). Dit is asof daar ‘n wisselwerking-bestaan tussen “goed doen” en sonde. Hoe minder ons goed doen hoe meer geneig sal ons wees om te sondig en hoe meer ons sondig, hoe minder sal ons daartoe geneig wees om goed te doen. Dit blyk uit Psalm 14:3 dat koning Dawid ook hierdie verband raakgesien het. “Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie.”
Paulus het ook in sy brief aan aan die Galásiërs nie nagelaat om hulle in hierdie
saak te onderrig nie. Ons vind derhalwe ook duidelike onderrig hierin deur die mond van Paulus uit Gal. 6:9&10. “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”
Mag ons as kinders van die HERE ons daartoe toespits om nie alleen van die kwaad af te wyk en die sonde in ons lewe te bestry nie, maar ook as God se kinders besig wees om goed te doen.
Amen.