Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wonder soms wat van ons in hierdie deurmekaar wêreld gaan word. Maar sodra ons weer onthou dat by ons liefdevolle God niks onmoontlik is nie, word dit maklik om jou in sy Hande te stel. Soos Hy in Jeremia 32:27 vra: "Ek is die Here, die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?"
ONS BEHOORT AAN DIE HERE
Hannes Ollewagen
1 Kor. 10:23-33
“Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.” (:26).
Paulus herhaal hierdie waarheid in vers 28. En dit is nie alleen deur die mond van Paulus wat die HERE ons hieraan herinner nie. Hy het alreeds deur Moses hierdie boodskap aan sy volk gebring. “Kyk, aan die Here jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is.” (Deut. 10:14). En in Psalm 89:12 lees ons weer van Etan se getuienis hiervan. “Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid — Ú het dit gegrond.”
Wanneer ons ook in Psalm 24:1 van Dawid se getuienis van hierdie saak lees, is dit opvallend dat Dawid ook spesifiek melding daarvan maak dat ook die inwoners van die aarde aan God behoort. “...Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;”. Hy meld dus spesifiek dat dit nie alleen die aarde is nie, maar ook die mens op die aarde wat aan God behoort. En hierdie is ’n belangrike waarheid waaraan ons as God se kinders herinner moet word. In ’n wêreld wat God die rug keer en Hom nie in erkentenis hou nie is dit maklik om van hierdie belangrike waarheid te vergeet. En ons sien dit ook gebeur in die alledaagse lewe van mense – ook by kerkmense.
Ons het oor die afgelope paar dekades toenemend die volgende onder mense gehoor : “Dit is my lewe, ek kan daarmee doen wat ek wil.” Hierdie uitspraak sal redelik algemeen gehoor word van mense wat teen hul ouers in opstand kom, mense wat in die rigting van ’n egskeiding beweeg, mense wat probleme met iets soos ’n verslawing het. En sou mense in hierdie moeilike plekke daaraan dink dat hul lewe nie hul eie is nie maar eerder aan God behoort, sou dit hul van veel verkeerde optrede teruggehou het. Maar Satan het ’n groot oorwinning in hierdie aspek behaal om mense van hierdie leuen te oortuig dat hul lewe hul eie is en alles nie aan God behoort nie.
Wanneer ons na mense se onbehoorlike kleredrag kyk en ons ook sien hoedat mense hulself, in stryd met God se gebooie, met tatoeërmerke verniel, op ’n verskriklike wyse hul eie asook ander se liggame deur hoerery onteer, lees ons die getuienis van mense wat nie glo dat hul die eiendom van God is nie. Hulle beskou hul lewens as hul eie eiendom en nie as God se eiendom nie. En hierdie verkeerde gedagte wat die samelewing besoedel, stroop die mens tot ’n groot mate van sy sin van verantwoordelikheid omdat daar nie verantwoording van sy optrede gevra word nie.
Die samelewing treur oor die swaarkry wat sy deel geword het. En hierdie waarheid waarvan die mens vergeet het – dat ons as mense ook die eiendom van God is – speel ’n groot rol hierin. ’n Groot rede vir die swaarkry wat ons rondom ons sien is niks anders as die gevolg van mense se selfsugtige en onverantwoordelike optrede nie. Ja, hierdie is die logiese gevolg van mense wat meer behep daarmee geraak het om “die lewe te geniet” as om verantwoordelik te leef. Hierdie saak word vir ons baie duidelik in Romeine 1 uitgelig. “...hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid....” (:25). “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:” (:28). En dan is die mens steeds verwaand genoeg om na die verwoesting en hartseer rondom hom te kyk en te vra: “Hoe kan ’n God van liefde al hierdie hartseer en ellende laat gebeur?” Geliefdes, die hartseer en ellende is nie God se werk nie. Dit is juis die werk van die mens wat op onverantwoordelike wyse in God se Skepping met die werk van sy Hande (wat ons eie en ander se lewens insluit) omgegaan het.
Wanneer ons as gelowiges rondom ons kyk en die ellende en verwoesting aanskou, behoort dit ook ons harte met hartseer te vul. Ja, om te sien hoedat die mens dit wat God geskape het met onverantwoordelikheid verniel behoort ons te bedroef. Maar dit behoort ons ook te herinner aan ons eie verantwoordelikheid teenoor ons Skepper. Dit moet ons herinner aan hierdie waarheid dat ook ons sy eiendom is en dit derhalwe ons eerste belange moet wees om Hom in ons lewens te eer en diensbaar te wees. Ons moet soek na ’n lewe van gehoorsaamheid aan Hom en nie aan ons vleeslike begeertes nie. Ons moet soek na ’n lewe wat met sy volheid gevul is eerder as ’n lewe vol kortstondige, aardse genot.
Nie alleen het God ons geskape en aan ons die gawe van lewe geskenk nie. Hy het ons ook in hierdie lewe met die kosbare bloed van onse Here Jesus Christus van die sondemag vrygekoop. Laat ons daarom opnuut hierdie verantwoordelikheid as God se kinders opneem om nie ons lewe te leef asof dit vir onself is, asof dit ons eie is nie, maar laat ons daarna streef om vir Hom te leef. “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” (1 Kor. 6:20).