Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moed is om te doen wat gedoen moet word met die diep, innerlike oortuiging dat, as jy jou plig doen, jy vir die res op God kan vertrou
DIE AARDE BEHOORT AAN DIE HERE!
Hannes Ollewagen
Ps. 24:1-10
“... Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hý het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.” (:1&2).
Die kwessie van eienaarskap – iets wat universeel bekend is. Ja, selfs ’n kleuter het bykans uit die staanspoor die idee van hierdie of daardie is “myne”. Die mens hanteer dan gewoonlik ook iets waaroor hy eienaarskap het met groter sorg om dit te beskerm en behoue te laat bly. Die mens wil graag sy eienaarskap oor sy eiendom behou aangesien die eiendom nie alleen waardevol is nie, maar eienaarskap gee ook aan die eienaar die voorreg om te besluit hoe daar met die eiendom gehandel kan word.
Ons sien nie alleen in die lewe van die eerste mense al hierdie kwessie van eienaarskap nie. Ons sien ook dat Satan van die vroegste tye al werksaam is om die mens se gedagte rondom eienaarskap en reg probeer versteur. ’n Versteuring hiervan baan die weg vir vergrype teen God – die Eienaar van alle dinge. Nadat God die aarde en ook die Paradys geskape het, het Hy die mense (Adam en Eva wat ook deur Hom geskape is) die voorreg gegun om hierdie eiendom van Hom te bewoon. Hy het as Eienaar hiervan aan hulle die voorreg gebied om van al die bome in die tuin vryelik te eet met uitsondering van die boom van kennis van goed en kwaad. Satan kom dan na die mens en vertroebel hierdie reg van God se Eienaarskap sonder om eers na eienaarskap te verwys – dit word gewoon hanteer asof dit nie bestaan nie. Hy kom met ’n baie slu en uitgeslape plan na die mens en wek by Adam en Eva die indruk of oortuiging dat hulle geregtig is om van hierdie boom van kennis van goed en kwaad te eet ten spyte van die Eienaar se verbod om dit te doen.
Ons word vandag op só ’n kosbare wyse opnuut deur God se Woord aan sy Eienaarskap oor die hele aarde en ook ons eie lewens herinner. En hoe nodig is dit nie ook in ons dae nie. Ons leef in ’n tyd waarin elke tweede persoon hom- of haarself bekwaam beskou om motiveringspraatjies en wat nog, te hou omdat mense tog so graag belangrik wil wees. En hierin sien en hoor ’n mens gedurig hoe belangrik die mens en sy eie geluk is. En nie alleen is dit in allerhande video’s die geval nie - dit is ook in menige kerke die grondslag van die geketter. Die mens word as die hoogste gesag en sentrale punt verhef en God word verneder tot ’n dienskneg watgereed moet staan om al die begeertes van die mens – wat nou so belangrik geword –het te vervul. Diegene wat hierdie lewenskouïng het, het ’n totale wanbegrip van die eienaarskap van elke mens se lewe sowel as die eienaarskap van God se skepping.
Die woorde uit Psalm 24 stel dit vir ons baie duidelik – die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. Dit is seker so volledig as wat dit omvat kan word – die aarde met alles daarop, daarbinne, daarbo, daaronder en oral waar daar plek is. Daarbenewens word dit ook duidelik gestel dat die wêreld en die bewoners van die wêreld ook aan Hom behoort. Motiveringsprekers en dwaalleraars, julle het dit verkeerd as julle dink en vir mense leer dat die mens en sy lewe aan homself behoort en die reg tot hierdie of daardie in sy of haar eie lewe kan afdwing of met sy of haar lewe na hartelus kan handel. Die teendeel word vir ons in 1 Kor. 6:19&20 gegee. “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
U sou dalk wou redeneer dat laasgenoemde net vir gelowiges geld in wie die Gees van God kom woon het. Dit is ongelukkig waar dat daar baie mense is wat hul nie voor God verootmoedig en Hom as hul Koning aanvaar nie. Dit verander nie iets aan die feit dat hulle deel is van die mense op die aarde oor wie Hy Eienaarskap het nie. En boonop is dit sy wil dat hulle gered moet word. “...wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Tim. 2:4). Hy wil hê dat hulle moet verstaan dat hulle nie aan hulself behoort nie, maar dat Hy die Eienaarskap oor hul lewens het.
Dit is baie belangrik dat ons hierdie Eienaarskap van God oor alles reg moet verstaan en gedurigdeur moet onthou. Wanneer hierdie begrip by ons deeglik ingraveer is, sien ons ook meer duidelik die erns van ons oortredinge teenoor God wanneer ons aan sy insettinge ongehoorsaam is. Dink byvoorbeeld aan God se gebod wat diefstal belet. Wanneer ons duidelik God se Eienaarskap oor alle dinge verstaan, sien ons duidelik hoe verskriklik hierdie vergryp is. Nie alleen het ’n mens ’n ander mens sy besitting ontneem en hom daardeur skade berokken nie, maar een mens het sy hand uitgesteek na ’n geskenk van God aan ’n ander mens. Die gebod van egbreuk maak dit vir ons ewe duidelik. Wanneer hierdie gebod oortree word is dit nie alleen leed wat mense mekaar aandoen nie, maar een man steek sy hand uit na ’n kosbare geskenk wat God aan ’n ander man gegee het. Dit is tog vir ons duidelik in Spreuke 19:14 dat ’n vrou ’n geskenk van God aan ’n man is. “Huis en goed is ’n erfenis van die vaders, maar ’n verstandige vrou is van die HERE.” Hierdie konsep van God se Eienaarskap oor alle dinge en dat Hy na sy wil aan elke mens gee, word vir ons so duidelik ook in 2 Samuel 12 uitgedruk. Dit is juis die hoofstuk waarin God die profeet Natan na Dawid stuur om hom aan te spreek oor sy sonde om sy hand na Uría se vrou uit te steek. Al was Dawid koning oor Israel het hy steeds nie die reg gehad om sy hand na ’n geskenk van God aan ’n ander man uit te steek nie. “Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die HERE, die God van Israel: Ék het jou as konining gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul; en ek het die huis van jou heer aan jou gegee, en die vroue van jou heer in jou skoot, en ek het die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil voeg. Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het.” (2 Sam. 12:7-9).
Die gesonde begrip van God se Eienaarskap oor alle dinge laat ons ook die verkeerdheid van ondankbaarheid meer duidelik sien. Ondankbaarheid is ’n belediging teenoor God wat impliseer dat Hy iets beter aan ons verskuldig is as dit wat Hy wel aan ons toevertrou of geskenk het. En verder dui dit op ’n liefde vir die gawes wat groter is as liefde vir die Gewer. Ons verstaan dan beter waarom ondankbaarheid ook op die lys van slegte eienskappe is wat in 2 Tim. 3 uiteengesit word. “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;” (2 Tim. 3:2-4). Daarenteen leer Ps. 50:23 dat dankbaarheid teenoor God eerbied teenoor God is. “Die een wat dank offer, eer My;...”.
Sal ons nie ook beter verstaan om met opregtheid ons begeertes na Hom te bring wanneer die gesonde begrip van God se Eienaarskap oor alle dinge by ons bestaan nie? Ons sal met ’n gesonde begrip van God se Eienaarskap oor alle dinge die woorde uit Fil. 4:6 beter verstaan. “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” En met die nodige liefde en eerbied teenoor Hom wat die Eienaarskap oor alle dinge het, sal ons nie uit eie krag onsself probeer help om ons eie begeertes te bevredig nie, maar sal ons in ootmoed op Hom wag om die deel wat Hy vir ons afgemeet het aan ons te gee. Ons sal nie daarop aandring dat Hy al die begeertes wat in ons opwel moet bevredig nie, maar ons sal in nederige afhanklikheid van Hom dit wat ons begeer van Hom vra en Hom vertrou om dit wat vir ons goed en nodig is af te meet en aan ons te skenk. Ons sal ook tevrede wees met dit wat ons nie ontvang nie, omdat ons sal verstaan dat Hy nie alleen niks aan ons verskuldig is nie, maar ook nie sonder rede die goeie van ons sal weerhou nie. Hierdie getuienis is vir ons duidelik in Rom. 8:32. “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”
Ek sluit vandag af met die baie gepaste lofsang uit Rom. 11:33-36.
“o, DIEPTE van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”