Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hemelse Vader, ek vra omverskoning dat ek nog nie geleer het om U volkome te vertrou nie. Leer my asseblief om al my vrese na U te bring en hulle daar by U te los met die vaste wete dat U sal sorg. Amen.
BEWAAR SY WOORD
Hannes Ollewagen
Joh. 14:1-31
“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke.”
Die tyd van “vrye denke” – hierdie konsep is met ope arms verwelkom, veral op politieke- en teologiese gebied. En ongelukkig het soveel mense op teologiese gebied in hul vrysinnige denke heeltemal verdwaal. ’n Mens sien dit vandag wanneer besluite in sogenaamde kerke geneem word wat lynreg teen die Woord van God indruis. Baie kerke in ons samelewing het daarom vandag ontaard in napraters van wat ookal die heersende kwessie in die samelewing mag wees en ’n plek waar mense darem ’n ritueel van godsdiens kan beoefen. Dit het geestelike begraafplase geword eerder as die huis van God waar die Evangelie van lewe verkondig word. En die vertrekpunt van hierdie dwalinge sal altyd die afdwaal van die suiwere leer van die Woord van God wees.
Ons sien uit ons gelese gedeelte vandag dat Jesus omtrent met verbasing vir Filippus vra – “...Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Fillipus?...”. En dan stel Hy dit aan hom duidelik dat wie Hom gesien het, het ook die Vader gesien. Dit wat van die Vader gesien kan word, is deur Hom aan ons geopenbaar. Dit wat van die Vader geleer kan word, is deur Hom aan ons geopenbaar. Ek wil hê dat ons vir ’n oomblik by Filippus se versoek moet vertoef. Filippus rig ’n versoek aan Hom wat vir ons dalk nie vreemd lyk nie – “... toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Wanneer ons egter in ag neem dat Filippus op hierdie punt al so lank saam met Christus geleef het, soveel wonders gesien het en oortuig was dat Hy die Seun van God is, lyk die saak ’n bietjie anders. Jy leef en wandel daagliks in die teenwoordigheid van Christus. Tewens, jy is op hierdie spesifieke tydstip besig om ’n persoonlike gesprek met Hom te voer en daar is werklik ’n hunkering na nog “iets beter” by jou? Daar kort dalk net “nog ietsie” meer om jou tot volle oortuiging te bring. Of dink jy dalk vir ’n oomblik, Filippus, dat wat Christus van die Vader voorhou net ’n mite is? Wil jy werklik die Vader sien om oortuig te word dat Hy werklik bestaan? Is Christus se Woord vir jou nie genoeg nie – trek jy dit in twyfel? Ons praat hier van die Een saam met Wie jy al so lank wandel en nog nie een maal het jy gesien dat Hy nié sy Woord gestand doen nie. En tog so ’n versoek? Het jy My nie geken nie, Filippus? Dink jy vir ’n oomblik dat Ek ’n leuenaar is? In hierdie lig sien ons eintlik die aanstootlikheid van Filippus se versoek alhoewel ek nie dink dat dit sy bedoeling was nie.
Hierdie hunkering van Filippus laat my dink aan ’n verskynsel wat nie vreemd is op die terrein van godsdiens nie. Daar is soveel mense wat vandag ook nie tevrede is met die Woord van God as die wyse waarop God bepaal het ons van Hom moet leer nie. Daar is steeds soveel mense wat die Woord nie as die algenoegsame kennis van God sowel as hul redding aanvaar nie, maar net na “nog ietsie” soek. En ironies genoeg is die verlating van die beginsel van Sola Scriptura menigmaal die rede waarom soveel mense op teologiese dwaalweë beland. Dit is die ekwivalent van Filippus wat in hierdie saak waarvan ons lees sy rug op Christus sou draai op soek na daardie openbaring wat Christus op sy versoek nie toegestaan het nie. Christus het hom eerder gewys op die verkeerdheid van sy versoek. En genadiglik aanvaar Filippus hierdie teregwysing en keer nie die rug op die waarheid omdat hy nie sy sin kon kry nie.
Wanneer ons met die nodige erns met God se Woord omgaan, sou ons uitvind dat die Woord vir ons ook teen hierdie verkeerde hunkering waarsku.Dit is in 2 Tim. 3:16&17 so duidelik en reguit gegee as wat Christus se antwoord aan Filippus was. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” Wanneer ons die Woord van God het en dit ondersoek met opregte harte waarin die Heilige Gees woon en ons gees steeds nie vergenoegd is en in vrede met Hom staan nie is dit nie omdat daar iets aan die Woord ontbreek nie. Dit wat ontbreek, is in onsself en ons moet die probleem in onsself gaan soek. En as ons daarbinne nie die probleem kan raaksien nie, moet ons ons harte bring na die lig van sy Woord wat ons lewens kan verlig. “Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.” (Ps. 36:10). Dit is hierdie lig van God wat die duisternis in ons lewens en harte kan opklaar. “Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.” (Joh. 3:20&21).
Dit is goed dat ons met erns en ywer ons aan God se diens wy. Ons moet wel in gedagte hou dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes ook in hul godsdiens baie ywerig was. Hulle het in daardie ywer van hulle menige profete gedood en selfs vir Christus aan die vloekhout opgehang. Ons opregte diensbaarheid aan God en liefde vir Hom moet die dryfveer van ons ywer wees en ons ywer moet nooit die botoon voer nie, want dan loop ons die gevaar om as gevolg van te veel ywer en te min kennis die spoor van die Waarheid te verlaat.“Selfs ywer is sonder kennis nie goed nie;...” (Spr. 19:2).
Laat ons nie in oorywerigheid op die verkeerde plekke na die waarheid gaan soek en so op ’n dwaalweg raak nie. Maar laat ons met aanwending van alle ywer die waarheid van God,soos deur die Woord aan ons openbaar, in ons lewens omarm en in hierdie waarheid bly.
“Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” (Joh. 14:23).