Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie pyn vrees nie: daar is geen groei sonder verandering nie, en daar is geen verandering sonder vrees of verlies nie, en dan is daar ook geen verlies sonder pyn nie – en dit is wat jou sterk maak teen die aanslae van die lewe.
DIT WAT DIE MENS SAAI
Hannes Ollewagen
Gal. 6:1-18
“Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” (:7&8).
Ek dink dat ons as mense die erns van hierdie waarskuwing nie behoorlik ter harte neem nie. Ons bring onsself dalk maklik onder die wanindruk dat God se genade en barmhartigheid hierdie werklikheid ongedaan maak – wat nie die geval is nie. Dit is natuurlik so dat die barmhartigheid van God groter as ons oortredinge is. “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” (Ps. 103:8-12).
Maar dit beteken nie dat ons onverskillig en ’n lewe van sondigheid kan leef onder die wanindruk dat God se barmhartigheid maar net alles sal bedek nie.
Ons lees in Job 4:8 – “Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit.” En hierdie woorde laat my dink aan die akker van ons volk. Ek kyk ver terug na ’n volk wat baie ontberings moes meemaak, maar in geloof het hulle liefde, opoffering en geregtigheid gesaai. En was daar nie vir hierdie volk ’n oes van ’n hoopvolle toekoms in die vooruitsig nie? Maar ongelukkig het hierdie volk in tye van voorspoed ook toe begin om in die vlees trots, tweedrag, eiesinnigheid, genot, sulfsug, materialisme en dergelike dinge te saai. Die vertroue op God is vervang met vertroue op prinse. En vandag is ons verbaas dat hierdie dinge vir ons ’n misoes met ’n sombere toekomsverwagting opgelewer het. Ons moet dalk die woorde uit Hos. 10:12&13 ook ter harte neem. “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle ’n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën. Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde.”
Net so min as wat ’n mens verbaas kan wees as hy onkruid gesaai het en daar nie mielies of koring opkom nie – net so min kan ons verbaas wees as die onkruid wat ons in ons volkslewe gesaai het vir ons ’n misoes opgelewer het. Eweneens kan niemand van ons verwag om ’n gesonde geestelike lewe te hê terwyl ons altyd maar net besig is om in die vlees te saai en geen tyd en moeite aan ons geestelike lewe spandeer nie. As ons al ons tyd en energie spandeer aan daardie dinge wat tot bevrediging van die vlees dien, sal ons verbaas wees as die akker van ons geestelike lewe ’n misoes oplewer? “En by wie in die dorings gesaai is – dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.” (Matt. 13:22). Ons word in Gal. 5:17 gewaarsku dat die begeerlikhede van die vlees teenoor die Gees in ons lewens staan en ons moet derhalwe met groot omsigtigheid die keuse uitoefen aan watter kant ons ons arbeid gaan bestee en in watter akker ons gaan saai en werk. “...want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.” Maar die Woord waarsku ons duidelik in Gal. 6 dat hy wat kies om in die akker van die vlees te arbei moet weet dat dit ’n misoes sal oplewer – die oes wat daar verwag kan word, is verderf. “Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai;...” (Gal. 6:8). Daarenteen kan hy wat in die akker van sy geestelike lewe met volharding werk en geregtigheid saai, uitsien na ’n oes wat nie sal teleurstel nie. “...maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai. En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal. 6:8&9).
Die arbeid in die akker van ons geestelike lewe sal natuurlik van ons opoffering, moeite, geduld en selfs trane vra. Maar net soos wat ’n landbouer bereid moet wees om opofferings, moeite en harde arbeid in te ploeg met die hoop vir ’n goeie oes, moet ons in die akker van ons geestelike lewe arbei en werk met die verwagting van ’n hoopvolle toekoms – ’n oes wat beslis nie sal teleurstel nie.
“Die wat met trane saai, sal met gejubel maai. Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra.” (Ps. 126:5&6).