Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe ouer mens word, hoe meer besef jy dat die ouderdom sinvol en ryk kan wees. Dat jy meer ervaring en meer wysheid het om aan ander deur te gee, dat jy meer tyd het om dinge te doen wat jy nog altyd graag wou doen. En boweal, jy het meer tyd om te bid vir almal wat jy liefhet.
BEDE OM ‘N REIN HART
Hannes Ollewagen
Ps. 51:1-21
“Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.” (:4-6, 12).
Ons begeertes gee vir ons ’n goeie aanduiding van dit wat werklik in ons hart aangaan – daardeur word die onsigbare tot ’n groot mate openbaar. Luister wat sê Christus in Mark. 7:21 – 23. “Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.” En hoe verpletter en verslae was koning Dawid nie toe die onreinheid van sy hart deur sy sondige optrede van egbreuk openbaar is nie. Kyk hoe lyk ek – afskuwelik vuil!
Ons lees in Ps. 51 hoe Dawid reageer op hierdie teleurstellende ontdekking in sy lewe. Hy probeer nie sy skuld ontken nie. Dit sou ’n verskriklike verkeerde optrede wees aangesien hy daardeur sou impliseer dat God ’n leuenaar is wat hom onregverdig of oneerlik beskuldig. “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.” (:6). En hierdie oneer doen hy God nie aan nie. Hy erken dat die fout by hom eerder as by God is. Dawid aanvaar ewe min hierdie sondige, besmette en teleurstellende toestand in sy lewe. Hy maak nie verskonings daarmee of vrede met die feit dat hy maar in so ’n besmette toestand moet voortleef omdat hy nou maar so gemaak is of omdat hy maar net ’n mens is nie. Nee, hy besef en erken dat hy – soos alle mensekinders – gebore is in hierdie vervalle toestand van sondige begeertes van die vlees wat sy lewe besmet. “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” (:7). Maar hy maak nie vrede met hierdie toestand nie – hy verklaar eerder oorlog daarteen. “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,” (Kol. 3:5&6).
Dawid se ware kennis van God bring hom ook tot die besef hoe onaanvaarbaar so ’n vervalle en besmette toestand voor God is en dat Hy daarin geen behae het nie. Hy weet dat God daarenteen ’n behae het in ’n mens wat rein van hande en suiwer van hart is. “Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil.” (Ps. 24:3-5). Hy weet ewe goed dat hy in sy menslikheid by onvermoë is om hierdie behaaglike en rein mens voor God in eie krag te wees. Hy besef dat die sonde hom telkens sal oorrompel. Maar dit laat hom nie moed opgee nie, want Dawid ken ook sy Verlosser en wend hom in nederige afhanklikheid tot Hom en pleit van Hom sy redding uit hierdie toestand. En hierdeur bewys Dawid soveel eerbied aan God deurdat hy strewe na dit wat vir God welbehaaglik is en dit hoër as sy eie, vleeslike begeertes stel. En verder bewys hy eer aan God deur sy vertroue op Hom te stel om hom te red uit hierdie verlore toestand waaruit hy homself nie kan red nie. Deur hierdie optrede van Dawid gee hy gehoor aan die roepstem van God in 1 Petrus 1:15&16. “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”
Ek wonder hoe ek en u vandag gaan optree teenoor die onreinheid in ons hart? Ons is dalk in ’n toestand van valse vrede omdat daar in ons lewe nie egbreuk, moord en dergelike dinge is nie. Maar wat van die slegte gedagtes, afguns, hoogmoed of ander onreinhede wat ewe verwerplik voor God is. Sal ons kan verkies om dit eerder mis te kyk ten einde nie hoef te erken dat ons sondig is nie? Dit sal bloot ’n ignorering van God se stem wees en sodoende sal daardie onreinheid net meer gevestig in ons hart en lewens raak. Sal ons verkies om dit te ontken en God oneer aandoen deur te impliseer dat Hy ons onregverdig aanspreek? Sal ons verskonings daarvoor soek omdat ons die sonde in ons lewe meer koester as ’n innige verhouding met Hom? Sal ons in moedeloosheid verval asof Christus nie oor die mag van sonde getriomfeer het nie? Of sal ons liefde vir Hom ons ook daartoe dwing om teen hierdie verkeerde dinge in ons lewens oorlog te verklaar en met ’n vaste vertroue op Hom en afhanklikheid van Hom daarna te streef om onsself te reinig soos wat Hy rein is?
“En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” (1 Joh. 3:3).