Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die mees effektiewe vorm van regering is die gesin self – die gelowige gesin is in wese ook 'n klein kerk op sy eie – dit wil sê: die krag van 'n hele volk hang van die integriteit, geloof en toewyding van die gesin af.
KYK ONS NA HOM?
Hannes Ollewagen
Jes. 22:1-14
“...en julle sien die skeure van die stad van Dawid, dat hulle baie is, en julle vang die waters van die Onderste Dam op. En julle tel die huise van Jerusalem, en die huise breek julle af om die muur te versterk. En julle maak 'n dam tussen die twee mure vir die water van die Ou Dam; maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie. En in dié dag roep die Here, die Here van die leërskare, tot geween en tot rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed;maar kyk, daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape geslag, vleis geëet en wyn gedrink, met die woorde: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons.” (:9-13).
Ons is weer op die vooraand van 16 Desember wanneer ons DV die Gelofte van Bloedrivier herdenk. ’n Dag van groot historiese waarde vir ons volk, maar myns insiens ’n dag van veel groter geestelike waarde.
Só onbegryplik groot was die wonderwerk wat God op hierdie dag in 1838 bewerk het dat ons dit nie alleen vandag nog herdenk nie, maar vandag nog met bewondering aan hierdie gebeure terug dink. Die aantal “onmoontlike dinge” wat op daardie dag gebeur het, laat ’n mens voel om net in stilte te kniel en dank- en lofgebede op die altaar voor God neer te lê – welwetend dat enige offer in ons menslikheid vêr te kort skiet om hom na behore te eer. Maar tog belaai Hy ons nie met ’n onbetaalbare skuldlas vir hierdie redding wat Hy op hierdie dag vir ons volk bewerk het nie. Hy stel dit wel duidelik dat Hy van ons eis om Hom vir hierdie weldaad met dankbaarheid te eer en sodoende sy Naam te verheerlik. “Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste;en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer. Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet.” (Ps. 50:14,15 & 23).
Dit is vir my hartseer om te weet dat daar menige Geloftefees gehou sal word waarvan God nie die middelpunt sal wees nie. Hierdie dag sal op verskeie maniere misbruik word byvoorbeeld sommige wat dit net as ’n dag van oppervlakkige sinsgenot as ’n lekker prettige “feesdag” gaan aanwend. En ander mense gaan hierdie dag sommer net gemaklik by hul huis deurbring terwyl ander dalk bietjie inkopies en dergelike dinge op die “vakansiedag” gaan doen. En dan is daar diegene wat hierdie dag gaan gebruik om op politieke terrein vir hulself volgelinge en steun te werf terwyl daar ook diegene gaan wees wat op geestelike terrein hierdie gebeure gaan verdraai om ons volk die middelpunt van die gebeure te maak en voor te hou asof ons God net vir onsself kan toeien en vergeet dat Hy ons as volk tot verheerliking van sy grote Naam in aansyn geroep het – nie om onsself op sy troon te plaas en vir Hom besluite rakende sy heerskappy van alle dinge te neem nie. En dan gaan daar ook op sekere plekke boodskappe uitgaan van sogenaamde versoening wat niks anders as ’n blatante minagting van God en sy Almag is nie. Watter mens durf ’n boodskap van versoening preek by die gedenking van ’n roemryke oorwinning in ’n stryd tussen lig en duisternis? Dit is ’n vertrapping van die eer van God. Dink maar aan wat Saul gedoen het in die oorlog teen die Ámalekiete toe hy die lewe van Agag gespaar het terwyl God aan hom die opdrag gegee het om hulle geheel en al met die banvloek te tref. God het alreeds in die dae van Moses hierdie opdrag teen Ámalek gegee en Saul moes as eerste koning van Israel hierdie opdrag uitvoer. “DINK aan wat Ámalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie. As dan die Here jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van Ámalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.” (Deut. 25:17-19). Maar dan steek Saul die hand van versoening na Agag uit eerder as om in gehoorsaamheid God se opdrag uit te voer en sy eer voorop te stel. “Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was — dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref.” (1 Sam. 15:9). En God stel dit in geen onduidelike taal dat hierdie gedrag niks anders as afgodery is nie. “Daarop sê Samuel: Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” (1 Sam. 15:22&23). Laat daarom diegene wat hierdie dag van groot wonderwerke vir iets anders as die verheerliking van God se Naam gebruik ook in geen onduidelike taal gewaarsku wees – Jy sal voor God rekenskap gee waarom jy Hom sy eer ontneem het. “EK is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.” (Jes. 42:8).
Wanneer ons kyk na die woorde van God deur die mond van Jesaja waarvan ons vandag uit Jesaja 22 lees, sien ons weer soveel ooreenstemming tussen ons volk vandag en Israel in daardie dae. Hulle het die skeure van die stad van Dawid gesien en talle planne gemaak om hierdie skeure en verval teen te werk. Nou, ja, daar is sekerlik nie ’n mens met ’n gesonde verstand en oë in sy kop wat nie die verval in ons vaderland vandag nie kan raaksien nie. Die lys van dit wat nog werk is veel korter as die lang lys van verval wat hospitale, infrastruktuur van paaie, water- en elektrisiteitsvoorsiening, poskantore, polisiediens, kerke, skole, regstelsel en dies meer sal insluit. En weer soos Israel van ouds is ons besig om baie planne te probeer maak om hierdie skeure te probeer lap en die algehele verval te probeer stuit en teëwerk, maar ons kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie. “En julle maak ’n dam tussen die twee mure vir die water van die Ou Dam; maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie.” (Jes. 22:11). Dink ons werklik dat ons hierdie situasie sonder Hom kan omkeer? Dink ons werklik dat hierdie dinge maar net toevallig gebeur? “...Sal daar ’n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?” (Amos 3:6). En het ons werklik só verwaand geword dat ons in ons eie krag en verlede wil roem eerder as om ons in ootmoed tot Hom vir hulp en redding te verlaat?
Geliefdes, ons moet verstaan dat daar vir ons geen herstel sonder God moontlik is nie. Daar lê aan die grondslag van ons volk se herstel die verantwoordelikheid om ons verhouding met Hom te herstel. “En in dié dag roep die Here, die HERE van die leërskare, tot geween en tot rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed;” (Jes. 22:12). En ons praat nie van een of ander aksie waar ons probeer om soveel mense as moontlik bymekaar te kry en met onopregtheid tot God te bid sodat ons nie verder die ongerief van ’n vervalle land hoef te verduur nie. Ons praat van ’n ware verootmoediging waarin elke volksgenoot sy eie geloofsverantwoordelikheid opneem en besef dat elkeen van ons ons eie hart en lewe voor God moet ondersoek. Ja, geliefdes – die verantwoordelikheid om ons lewens met opregte ootmoed voor die Lig van God se Woord te lê sodat Hy vir ons daardeur die gebrek aan liefde vir Hom en ons naaste, ons eiesinnigheid, ons grootpratery, trotsheid, ondankbaarheid, kleingeloof, onversoenlikheid, kwaadsprekery, wreedheid, roekeloosheid, verwaandheid, geldgierigheid, hebsugtigheid, egbrekery en dergelike dinge kan uitwys sodat ons hierdie dinge voor Hom met opregtheid kan bely omdat dit ons harte breek om te besef hoe troueloos, eerloos en liefdeloos ons teenoor Hom handel! Ons praat van ’n verootmoediging waarin ons ons lewens aflê waarin ons eie eer en voordeel bo die eer van sy Naam gestel word. Ons praat van ’n verootmoediging wat nie iets is wat ons gou op ’n spesifieke dag afhandel nie, maar eerder die beginpunt van ’n lewe van toegewydheid en opregte liefde teenoor God volgens die eis van sy Woord. Ons praat van ’n verootmoediging wat aan die grondslag daarvan ’n begeerte om die Naam van God te verheerlik het eerder as ’n begeerte om Hom te betrek by ’n aksie wat ons eie voorspoed, gerief en gemak vir die toekoms sal verseker. Ja, geliefdes ons praat van ’n verootmoediging waar Hy die middelpunt van alles is en ons oë nie op onsself nie, maar op Hom gerig is.
Die stille bede in my hart is vanoggend dat Hy tot die eer van sy Naam ons harte hierdie jaar met die herdenking van die wonderwerk van 16 Desember 1838 opnuut sal aanraak om nie alleen op 16 Desember nie, maar elke dag daarna sal probeer om die eer en die roem van ons lewens aan Hom te gee. En dat hy ons tot die punt sal bring waar ons ons oë van onsself, ons eie krag sal afhaal en dit opnuut met ootmoedige vertroue op Hom sal rig soos wat ons voorsate dit ook by Bloedrivier gedoen het.
“Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres — so is ons oë op die Here onse God, totdat Hy ons genadig is.” (Ps. 123:2).