Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Genade is nooit ooit vanselfsprekend nie. Ons dink omdat ons die genade oor ander mense sien, dit kom ons ook toe. Pleit liewer om genade vir jou skuld, dan sal jy opregte dankbaarheid daarvoor hê.
IN HOM IS LEWE
Hannes Ollewagen
Joh. 10:1-21
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
Hierdie woorde van Christus laat my dink aan die eerste openbaring van die Satan in God se Woord. Wanneer ons in Gén. 3 vir die eerste keer met hom kennis maak, is dit inderdaad waar hy met leuens en bedrog kom om die vryheid van die mens, die vreugde en vrede van die mens te kom steel. Hy kom met sy listigheid en neem die fokus van al die begeerlike bome in die tuin van Eden af weg en oorreed die vrou om alleen te fokus op daardie één boom waarvan God die mens belet het om te eet. En hierna bedrieg hy die mens om daarop te sinspeel dat God eerder as hy, die leuenaar is wat die mens om die bos lei.
“MAAR die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (Gén. 3:1-5). En omdat die mens hierdie leuen geglo het, is hy die vreugde, vrede en voorreg van ’n lewe in die tuin van Eden ontneem – hy is daarvan beroof.
Die hartseer ironie is dat die Satan vandag steeds met dieselfde taktiek daarin slaag om soveel verderf en skade in ons lewens te saai en om steeds te steel, te slag en te verwoes. Hy begin telkens by ons ook om twyfel te saai en as daardie twyfel gelaat word om wortel te skiet, vestig dit ongeloof en vrees in ons harte. Dink maar hoe suksesvol die Satan daarin was om ongeloof en vrees in die harte van die tien manne te vestig wat uitgestuur is om die land Kanaän te gaan verken. Hierdie beloofde land vol oorvloed wat God vir sy volk bestem het, het hierdie manne deur ongeloof verbeur. Die Satan het deur vrees en ongeloof hulle hiervan beroof en daarmee saam die verhouding tussen hierdie mense en God verwoes. Die Satan slaag daarin om hierdie manne ter stond te laat vergeet van al die wonders wat God gedoen het om hulle uit Egipte en deur die woestyn te lei. Hulle fokus nie vir een oomblik om die krag van sy sterke Hand en enige van die wonders of die getrouheid waarmee Hy hulle van Egipte tot hier by die grens van die beloofde land gebring het nie. Hulle fokus eerder op hierdie gedugte vyand en hierin beledig hulle God omdat hulle optree asof Hy nie by magte sou wees om hulle ook hierin die oorwinning te skenk nie en asof Hy hulle dan uit Egipte sou lei net om hier in die oorlog teen die Kanaäniete om te kom. Wat verkondig hulle in hul optrede van Hom? Is dit werklik die God wat Hy is – Een wat onmagtig is om te doen wat Hy beloof het of erger nog – Een wat dit nie sou nakom nie omdat Hy nie sy woord gestand doen nie? God se toorn teenoor sy volk oor hierdie gedrag is duidelik uit die woorde van Núm. 14:11. “Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?”
Die Woord leer en herinner ons in Johannes 10 dat God nie in sy Wese moedswillig is om ons die goeie te ontneem of ons met wette te belas wat vir ons geen heil inhou nie. Hierdie is leuens wat die Satan wat in ons lewens wil steel, slag en verwoes, ons graag wil laat glo. Hy wil graag ons aandag op daardie klein dinge in ander se lewens vestig wat ons as verkeerd ag en ons daarop laat fokus terwyl ons vergeet van die liefde en verdraagsaamheid van God wat ook in ons harte tuishoort ten einde verhoudings tussen mense te verwoes. Die Satan wil ons graag oorhaal om te fokus op dinge van hierdie wêreld, hetsy dit is rykdom, roem, eer, sukses, ons geliefdes, vermaak, genot en dergelike dinge. Met sy bedrieglikheid wil hy ons laat glo dat ons in hierdie dinge ’n groter vreugde as ons vreugde in God kan vind. Hy wil ons graag mislei om te glo dat hy wat die dief is en daarop uit is om te steel, te slag en te verwoes, eintlik meer om ons heil omgee as God – net soos wat hy in die tuin van Eden op bedrieglike wyse gedoen het. En die rede hiervoor is nog altyd dieselfde – hy is daarop uit om die mens van ’n gesonde verhouding en sy vreugde in God te beroof. Hy begeer om die skepsel van God se Hand skade te berokken en verwoesting in God se skepping aan te rig.
Wanneer ons dink aan al die siekes, blindes, kreupeles, besetenes en melaatses wat Christus genadig was en genees het, herinner dit ons ook aan die liefde en barmhartigheid van God teenoor die mens. En wanneer ons vir ’n oomblik dink hoe dit is dat hierdie mense deur sulke onheile getref is en wie hulle daartoe bedrieg en mislei het, besef ons ook weer die erns waarmee die Satan hom daarop toespits om te steel, te slag en te verwoes. Hierdie skrille kontras word ook vir ons mooi in Joh. 5 uitgelig waar Christus die siek man in Betésda genees. “En ’n sekere man was daar, wat agt-en-dertig jaar aan sy siekte gely het. Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ’n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word? Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ’n ander een voor my in. Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop. En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. ... Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (Joh. 5:5-9, 14). Nie alleen genees Christus hom nie, maar waarsku hom ook daarteen om nie weer die leuens van die Satan te glo wat weer sal probeer om hierdie genesing wat Christus hom geskenk het te steel en weer verwoesting in sy lewe te bring nie.
Mag ons aan Hom ook die eer bewys deur in opregtheid te glo in sy Wese van goedheid wat vir ons die lewe en oorvloed gun en Hom nie oneer aandoen deur die leuens van die een te glo wat daarop uit is om te steel en te slag en te verwoes nie. En laat ons wegbly van die dwaalweë van die Satan, maar in Hom ons vreugde en heil soek, want in Hom is die lewe en oorvloed.