Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer hier gepraat word van 'n 'ander se skuld' word daar nie volksvreemdes ingesluit nie – hier word suiwer bedoel ons geliefdes en bekendes teen wie ons so dikwels verkeerd optree. Omdat ons oordeel juis weens ons sondige natuur subjektief is (dit beteken dat ons nie die vermoë besit om ons eie skuld in te sien nie), is ons geneig om eerder 'n ander se skuld raak te sien. Maar wanneer ons self ons eie skuld opreg bely kry ons wel 'n beter insig en oordeel in ander se optrede. Tog kom die finale oordeel God alleen toe. Onthou dat Hy die volmag het om sy skepsele te oordeel, nie ons nie.
DIE GEBOD VAN LIEFDE
Hannes Ollewagen
Jak. 2:1-13
“As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself — dan doen julle goed.” (:8)...
... Die wet van die Koning van alle konings. Die wet van liefde. Daardie volmaakte wet wat op ons ’n groter verantwoordelikheid lê, maar ’n veel ligter las, hierdie belangrike wet wat telkens deur Christus onderstreep is. “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” (Matt. 22:36-40).
En in Johannes 13 lees ons selfs waar Jesus dit as ’n nuwe gebod aan sy dissipels voorhou. “'n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Joh. 13:34&35). Dit is uit laasgenoemde duidelik dat ’n seker kenmerk van ’n gelowige in Christus die kenmerk van liefde in ons lewens is. Dit is moontlik om sonder liefde godsdienstig te wees, maar dit is onmoontlik om God sonder liefde na behore te dien.
“GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” (1 Joh. 4:7&8). Elkeen wat liefhet, ken God en is uit Hom gebore. En iemand wat nie uit Hom weergebore is nie kan die koninkryk van God nie sien nie. “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Joh. 3:3).
Wanneer ons uit God weergebore word en in Christus lewe, het ons liefde in ons harte – liefde vir God en liefde vir ons naaste. En onder hierdie gebod van liefde is ons nie tot goeie werke verplig nie, maar is dit ons begeerte. Die woorde uit Jak. 2:10&11 word dan ook vir ons baie duidelik. “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword.” Hy wat enige van die gebooie oortree, het aan almal skuldig geword. En dit is omdat hy wat enige van die gebooie oortree, die groot gebod, die gebod van liefde oortree het en homself so aan die hele wet van God skuldig gemaak het. Hierdie waarheid word ook vir ons in Romeine 13:10 bevestig. “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.”
Hierdie saak is vir ons ewe duidelik uit dielewe en optrede van die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Hierdie mense was ontsettend godsdienstig, maar hul godsdienstigheid het die liefde verstik. En daarom kon hulle God nie na behore dien nie. En Christus stel dit duidelik aan hierdie mense dat hulle God nie ken nie en baie duidelik ook nie behaag nie. “..Jesus antwoord: Julle ken My nie en ook nie my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het.” (Joh. 8:19). Hierdie getuienis van Christus is nogeens duideliker gelees saam met die woorde uit 1 Joh. 4:8. “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” En ook in Johannes 5:42 stel Christus dit onomwonde. “Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie.” En uiteindelik is die absolute waarheid van hierdie woorde van Christus bevestig deur hierdie mense se handeling teenoor Hom. Ja, geliefdes – die absolute vernederende, wrede marteldood waaraan hierdie mense Hom onderwerp het omdat hulle die liefde nie geken het nie.
Ek glo dat ek en u ook vandag genoeg stof tot nadenke het. Is dit uit ons lewens duidelik dat ons dissipels van Hom is met die liefde van Christus in ons harte wat ons tot gehoorsaamheid aan God en goeie dade teenoor ander dring eerder as om net oënskynlik godsdienstig te wees? Dit is immers die nuwe gebod wat Hy aan ons gegee het.
“En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” (Kol. 3:14).