Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde soek nie sy eie belang nie...
GEHOORSAAM AAN GOD
Hannes Ollewagen
Gén. 22:1-24
“Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.” (:15-17).
Ons weet dat geen mens homself kan red en regverdig deur die onderhouding van God se gebooie nie, maar dat ons deur die geloof in Christus geregverdig word. “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” (Rom. 3:28).
Die ware gelowige sal egter nie hierdie gedeelte uit God se Woord uit verband probeer aanhaal om ’n lewe van goddelose begeerlikheid en ongehoorsaamheid aan God te regverdig nie. En die rede hiervoor is eenvoudig dat ’n gelowige in Christus deur die Heilige Gees gelei word om die stryd teen die sonde te voer wat ons uit onsself en in ons eie krag loshande sal verloor. Die betekenis om deur die geloof in Christus geregverdig te word is nie ’n vrypas tot ’n sondige lewe nie, maar eerder ’n erkenning van ons afhanklikheid van Hom om ’n lewe van gehoorsaamheid aan God die Vader te lei. “...en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, 'n bewerker van ewige saligheid geword”. (Heb. 5:9).
Die Woord van God is duidelik oor gehoorsaamheid aan God. Ons sien byvoorbeeld in die optrede van God teenoor Abraham watter groot respek God vir Abraham se gehoorsaamheid het. God spreek nie in gewone taal sy voorneme om Abraham te seën uit nie, maar Hy sweer by Homself dat Hy sal doen dit wat Hy aan Abraham sê. En hierdie kragtige belofte van God word aan Abraham gegee a.g.v. sy gehoorsaamheid aan God. Dit is nie alleen duidelik uit God se woorde in Gén. 22 nie, maar word weer in Gén. 26 bevestig. “En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.” (Gén. 26:4&5).
Ek dink verder aan die gebeure voor die sondvloed. Noag se gehoorsaamheid aan God was die behoud van hom en sy huisgesin. “En Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.” (Gén. 6:22). “En Noag het gedoen net soos die HERE hom beveel het.” (Gén. 7:5). En is nog ’n duidelike voorbeeld in hierdie verband nie vir ons gegee in die lewe van Lot en sy vrou nie? Hulle ontvang die duidelike opdrag om uit Sodom te vlug en nie om te kyk nie. “En toe hulle hulle na buite uitgelei het, sê Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie! En sy vrou het agter hom omgekyk, en sy het ’n soutpilaar geword.” (Gén. 19:17,26). Indien hierdie voorbeelde ons nie oortuig nie kan ons dalk beweeg na die lewe van Saul. Ons lees in 1 Samuel 15 van die opdrag van God aan Saul om Ámalek geheel en al met die banvloek te tref. En eindelik vernietig Saul dit wat veragtelik en vervalle was met die banvloek, maar die lewe van hul koning, Agag, en die goed wat nie vervalle was nie het hy nie vernietig nie. “Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was – dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref.” (1 Sam. 15:9). Saul was aan God ongehoorsaam. En die belangrikheid van gehoorsaamheid aan God word vir ons later in verse 22 & 23 onderstreep. “Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. ...”
Ons sal ook onthou dat ongehoorsaamheid aan God die rede vir die sondeval was. Adam en Eva was aan God ongehoorsaam. “En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.” (Gén. 3:11,17). En in Gén. 4 lees ons dat Adam en Eva se seun, Kain, dan ook a.g.v. hierdie ongehoorsaamheid aan God struikel en sondig. “...En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (Gén. 4:7). As Kain maar net op hierdie woorde van God ag geslaan het en Hom gehoorsaam het. . .
Ons sien ook daarenteen dat net soos wat die ongehoorsaamheid aan God die rede vir die sondeval was, is ons regverdiging en versoening met God deur gehoorsaamheid bewerk. Die gehoorsaamheid van Christus. “...en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Fil. 2:8). En hierdie gehoorsaamheid van Christus aan God moet in ons lewe word die gehoorsaamheid aan God deur Christus. Ons is by onvermoë om uit onsself God te gehoorsaam. Die sondige natuur wat van ons geboorte af deel van ons is, is soos ’n muur tussen ons en God en verhinder ons om Hom te gehoorsaam. “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” (Ps. 51:7). En daar is net Een wat hierdie middelmuur van skeiding kan afbreek en ons van hierdie bande van ongehoorsaamheid kan red – Jesus Christus onse Here. “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom. 7:24&25). Maar baie belangrik – ’n lewe in Hom beteken nie dat Hy gesterf het sodat ek kan leef soos wat ek wil en alle begeerlikhede in die vlees najaag omdat Hy tog die prys vir my sonde betaal het nie. Inteendeel, Hy het gesterf om my los te koop van daardie sondemag sodat ek ’n lewe in Hom sal leef – ’n lewe waarin ek begeer en deur Hom gelei word om volgens sy voorbeeld en deur sy krag aan God gehoorsaam te wees.
“Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe,omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.“ (Rom 6:4-13).