Gedagtes vir elke dag
As jy gedink het dat trane net negatief is, is dit tyd dat jy leer dit is God se manier om ons oë 'n slaggie skoon te was en deeglik uit te spoel sodat ons weer goed kan sien.
NIE VEROWER MAAR VERKWANSEL
“Want U verlos die verdrukte volk; maar U verneder die oë wat hoog is.” – Psalm 18:28
Nadat die Here die volk Israel van hulle Egiptiese slawerny verlos het en by Sinaï die wet aan hulle gegee het om te onderhou, het Hy hulle ernstig gewaarsku om nie daarvan af te wyk nie. Hy het hulle gevra om Hom nie te vergeet nie, om Hom lief te hê en in gehoorsaamheid aan sy bevele, Hom alleen te dien en te eer. Hulle is gewaarsku om nie agter ander gode aan te loop nie. Hulle moes doen wat reg en goed is in die oë van die Here, sodat dit met hulle goed kan gaan in die goeie land waarheen Hy besig was om hulle te neem. (Deut. 6)
Hy het ook verbied dat hulle ‘n verbond sou sluit met al die verskillende nasies van die land wanneer Hy hulle in die beloofde land sou inneem. Hierdie volke moes met die banvloek getref word en uitgeroei word. Aan die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete mog geen genade betoon word nie. Ook hulle afgodsaltare, klippilare en gesnede beelde moes met vuur verbrand word. (Deut. 7)
Die Here het die volk bemoedig en gesê hulle moet tog nie vir die talryke vyande skrik nie. Hulle moet dink aan wat Hy, die groot en gedugte God, aan Farao en die hele Egipte gedoen het en hoe Hy hulle met sterke hand en uitgestrekte arm uitgelei het. Die Here sal hierdie vyande aan Israel oorgee en hulle in groot verwarring bring totdat hulle verdelg word. (Deut. 7)
Maar Israel en tien van die twaalf verkenners wat uitgestuur is om die beloofde land te gaan ondersoek, het dit nie geglo nie en wou na die ellende van Egipte terugkeer. Nadat die Here hulle hieroor gestraf het deur hulle 40 jaar lank in die woestyn te laat rondswerf, waar hulle almal gesterf het sonder om die beloofde land ooit te sien, het Hy vir Josua en Kaleb gebruik om hulle kinders in die land van melk en heuning binne te lei en dit uiteindelik in besit te neem. Maar sonder slag of stoot kon dit nie gebeur nie, want Josua moes die vreemde nasies wat die land bewoon het, vanaf Jerigo en verderaan verslaan en uitroei, voordat Israel uiteindelik sy lang beloofde land weer in besit kon neem. Maar omdat die bevel van die Here halfhartig uitgevoer is, het die oorblyfsels van die heidennasies gaandeweg weer ‘n groot bedreiging vir Israel se welsyn en veiligheid geword. Daarom het die Here gedurende die tydperk van die rigters en van al Israel se konings, hierdie heidennasies gebruik om Israel vir al sy afdwalings, ongehoorsaamheid en afgodediens te straf.Hierdie kort, opsommende uiteensetting van die probleme wat Israel gedurende sy bestaan in die heilige land moes trotseer, toon merkwaardige ooreenkoms met die lotgevalle van ons voorouers. Die tydperk van vernederende en uitmergelende Egiptiese slawerny van die Afrikanervolk is gedurende 1795 tot 1836 gely onderwyl hulle onder die dwingelandy van Britse oorheersing onderdruk is. Net soos wat die Egiptiese owerheid alle middels tot sy beskikking aangewend het om Israel se uittog uit Egipte te verhoed, het die Britte ook probeer om die gang van die Groot Trek te belemmer en te verhoed dat dit sou plaasvind. Later het hierdie Britse ekwivalent van Egiptiese oorheersing verdrae gesluit met die barbaarse nasies wat in die pad gestaan het van die Trekkers se verwesenliking van volkome vryheid en die inbesitname van hulle beloofde land.
Toe die Trekkers hierdie nasies se mag gebreek het by Vegkop, Bloedrivier, Thaba Bosigo en Kapain, het die oorblyfsels daarvan deur die jare heen geleentheid gehad om weer te vermenigvuldig en soos wat die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete uiteindelik weer Israel se vryheid bedreig het, so het die Kôsas, Zoeloes, Matabeles, Swasies, Basoeto’s, Pondo’s en Tswanas weer met ‘n verenigde aanslag teen die handhawing van ons Republikeinse vryheid gekom.
Toe Israel wou vasstel wat die toestand in sy beloofde land was, het die tien verspieders kom vertel dat dit nie ingeneem kon word nie. Toe ons vrye Republiek moes besin oor hoe sterk ons teen die buiteland se vermetele aanslae staan, toe was daar reeds veel meer as net tien verraaier-spioene wat lank tevore reeds al met die vyand beraadslaag het en saam met John Vorster en Pik Botha al bangbroekbewend uitgeroep het: “O toggie, ons moet dadelik oorgee want konfrontasie sal te vreeslik wees!”
Israel se land is toe deur die Babiloniërs verower. Ons land is toe nie verower nie, maar pasella aan die vyand gegee.
In die uiteindelike verloop van gebeurtenisse in albei lande, tref ons sake aan wat in mindere of meerdere mate met mekaar ooreenstem. Die belangrikste daarvan is dat die Here sy belofte aan Israel uitgevoer het en hulle ballingskap weer opgehef het. Die ballingskap waaronder ons verknegte ou Afrikanervolkie tans gebuk gaan, sal beslis ook weer opgehef en beëindig word wanneer die Here besluit dat die doel waarom Hy dit toegelaat het, bereik is. In Israel se geval was die redes vir hulle straf hoofsaaklik hulle wegdwaal van God en sy gebod en hulle hardnekkige afgodediens. In Suid-Afrika het die Afrikaner ook vergeet hoe die Here hom as geloftevolkie in volksvernietigende beproewings onderskraag en van ondergang gered het. Baie van ons het die besielende krag van ons nasionale volkswees en liefde vir ons eie ondergrawe, verloën en versaak en die liberalistiese leuen begin glo dat alle mense gelyk is.
Sodra ons as volk weer terugkeer na God en ophou om die niksseggende valshede van wêreld-flikkerligte en dolle plesier na te jaag, sal Hy hierdie strafgerig wat Hy toegelaat het om oor ons te woed, ophef, mits ons daarna sal leef en werk tot sy eer en verheerliking. Ons bid dat dit spoedig sal gebeur!
“Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.” – Psalm 18:30