Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God se kreatiwiteit is eindeloos – elke lewe wat Hy skep is uniek en voldoen aan streng vereistes. Hy het ons ook geskape om kreatief te wees - Ex 35: "Die HERE het aan hulle vaardighede gegee om al die werk van 'n vakman te verrig: om te ontwerp, om blou, pers en bloedrooi wolstof en linne te borduur, en om te weef." En 1 Kronieke 15: "... om sangers te laat aantree met musiekinstrumente, harpe, liere en simbale..." 2 Kronieke2: "... vakman in die bewerking van goud, silwer, brons en yster en van pers, bloedrooi en blou wol. Hy moet ook vaardig wees in graveerwerk..." Wees elke dag kreatief met al jou Godgegewe talente, en jy sál gelukkig wees.
'N JONG STUDENT WORD GERED
Abie van der Merwe
Ek het in 'n Christelike huis grootgeword en is van kleins af deur my moeder geleer omtrent die Here Jesus Christus, om my geloof en vertroue in Hom te stel.
Op negejarige ouderdom het ek 'n ernstige siekbed gehad. Toe ek eindelik kon opstaan was my niere en hart uiters swak. Waarskynlik deur die invloed van die onderrig van my moeder en 'n behoefte waarvan ek bewus was, het ek my toevlug tot die Here God geneem, en aan Hom 'n kinderlike – sowel as kinderagtige – belofte gemaak wat ek met verloop van tyd nie kon nakom nie. Die Here het egter in sy wonderlike genade en liefde, my aangesien en volkome herstel.
Op 13-jarige ouderom is ek na 'n skool in die Boland. Hier was die versoekinge groot, en gou het ek in sonde geval.
Bybellees en bid was net 'n vormgewoonte. Saans is my gebedjie net formeel afgerammel. Heel anders was dit by ons koshuisbiduur waarvoor ek my gebed betyds voorberei het en dit dan so goed moontlik voorgedra het – hoe onopreg!Elke Saterdag was ek op 'n twyfelagtige plesierplek, waarvan ek oortuig was dat dit nie tot eer van die Here was nie.
Sodra iemand oor bekering gegin praat het ek weggestap, eenvoudig omdat ek in my siel onseker was. In die kerk het ek behae daarin gevind om my maats met grappe besig te hou. Baie ander sondes het my beetgepak; ek het ook gerook en begin drink. Tog wou ek my in hierdie toestand nog altyd as 'n goeie Christen voordoen. So besluit ek toe om 'n kringleier te word in ons CSV-tak.
'n Nuwe seun is tot sekretaris gekies. Hy het ons toegespreek en verduidelik dat die hoofvereiste van 'n kringleier is dat hy weergebore moet wees. Opnuut moes ek die gehate onderwerp aanhoor. Maar nou het die Here my deur sy Gees kragtiglik oortuig van my valse posisie en my behoefte. Die sekretaris nooi toe diegene wat nog ongered is en graag sekerheid van saligheid wil hê, na 'n persoonlike gesprek met hom uit. Hiervan het ek gebruik gemaak en die Here het my daar ontmoet en gered deurdat ek my sondes bely het en sy genadegawe, die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here, in die geloof aangeneem het.
Maar nog het ek, tot my spyt, gevind dat die ou natuur my nog aanvoer om skelmpies twyfelagtige plekke te besoek. Ja liewe leser, 'n weergebore persoon het steeds twee nature net soos 'n geënte wingerdstok, en dit bly voortdurende stryd in hierdie lewe wat ons alleen in gedurige noue omgang met ons Heiland en in gehoorsaamheid kan oorwin.
Ek kry toe die "Persoonlike Getuienis" van mnr Ben Visser van Morgenster-sendingstasie om te lees. Weer het ek op my knieë gegaan en weer het ek genade ontvang om ook van daardie sonde ontslae te raak.
Nou wil jou vra of jy weet wat jou posisie is. Is jy al weergebore? Daar is net twee paaie, twee poorte, en twee uiteindelike bestemmings – die Hemel en die Hel – en net twee soorte mense – geredde en ongeredde mense.
Wees eerlik teenoor jouself en moenie die saak uitstel nie. As jy nog nie weergebore is nie, dan is jy nog 'n verlore sondaar op die pad na die ewige verdoemenis. Dit wil die Here nie hê nie en daarom het Hy se Seun Jesus Christus gestuur as die enigste Middelaar tussen God en die mens om Homself te gee as 'n losprys vir almal. Hy het die straf van ons sonde gedra en nou mag ons Hom aanneem in die geloof en sê: "Die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reining my van alle sonde." (1 Joh 1:7)