Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Talle mense ontvang die Woord van verlossing die eerste maal met soveel blydskap maar die oomblik wat daar probleme in sy lewe kom vergeet hy van die Genade wat hy reeds ontvang het en gaan maar weer net soos 'n onbekeerde persoon te werk – dan was sy blydskap tevergeefs.
DIE VERHAAL VAN JOHN COUTS
Dr JP Botha
Hy was ‘n rowwe, vloekende tiran van ‘n seekaptein, maar op een seereis het hy siek geword, en daar lê hy op sy rug op die groot oseaan wyl die dood hom in die aangesig staar. Hy het ineengekrimp in die teenwoordigheid van die dood en die vrees “vir die hiernamaals” het hom beetgepak.
Eindelik laat hy sy eerste stuurman roep en sê vir hom: “Williams, kniel neer en bid ‘n bietjie vir ‘n ou; ek voel vreeslik sleg; ek dink hierdie keer sterf ek.” “Ek is nie ‘n bidder nie, kaptein; kan nie bid nie.” “Wel, bring dan jou Bybel en lees vir my’n stukkie - my tou is omtrent op.” “Ek besit geen Bybel nie, kaptein.” “Nou stuur die tweede stuurman na my toe, miskien kan hy ‘n gebed doen.”
Die tweede stuurman kom daar by sy bed staan “Kyk Thomas, ek vrees my bestemming hierdie keer is die ewigheid; kniel neer en bid as jy kan.” “Ek sou dit graag wou doen, kaptein, as ek kon,” sê die tweede stuurman, maar vandat ek ‘n kind was, het ek nooit meer gebid nie.” “Het jy dan altemit ‘n Bybel?” vra die kaptein. “Nee meneer.” “Nou sê dan vir die derde stuurman ek wil hom spreek,” sê die kaptein.
Die derde stuurman was nes sy meerderes; hy kon nie bid nie en het ook geen Bybel gehad nie. Helaas, die arme, sterwende kaptein! Hulle het die skip deursoek na iemand wat kon bid of in die besit was van ‘n Bybel.
Eindelik kom een van die matrose met die berig dat hy ‘n boek wat na ‘n Bybel lyk in die hande van Willie Platt gesien het, die kok se handlanger. “Gaan kyk gou of hy een het, “sê die kaptein.
“Seun, het jy’n Bybel?” “Ja,” sê die seun, “maar ek lees dit net in my vrye tyd.” “O, dis in orde, ou seun. Loop haal dit en kom sit hier en kyk of jy iets kan kry wat my sal help. Ek gaan sterwe. Soek iets omtrent die genade wat God vir sondaars het.”
Die arme seun! Hy het nie geweet waar om te lees nie; maar hy herinner hom dat sy moeder hom dikwels die 53e hoofstuk van Jesaja laat lees het. Hy soek die hoofstuk op en lees. Toe hy by die 5e vers kom, “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom,” het die kaptein wat vir sy lewe geluister het en besef het dat dit stellig sy laaste kans was, uitgeroep: “Stop, ou kêrel! Dit klink na die regte plek; lees dit weer.” Nogeens lees Willie daardie woorde: “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” “Ai , man, dis goed, dis wat ek moet hê!”
Willie kry toe meer moed en sê “Kaptein, toe ek daardie versie tuis gelees het, het moeder altyd vir my my eie naam daarin laat lees. Mag ek dit nou daarin lees net waar moeder dit vir my gewys het?” “Seker ou seun, gaan jou gang. Sit jou naam net waar sy vir jou gesê het.”
Met eerbied begin die seun weer te lees: “Hy is ter wille van Willie Platt se oortredinge deurboor, ter wille van Willie Platt se ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir Willie Platt die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir Willie Platt genesing gekom..”
By die tyd dat Willie Platt klaar was, het die kaptein al half oor die kant van die bed geleun. Gretig sê hy: “Seun, lees weer daardie en sit jou kaptein se naam daarin, John Couts. . . John Couts.” Toe lees die seun: “Hy is ter wille van John Couts se oortredinge deurboor, ter wille van John Couts se ongeregtigheid is Hy verbrysel; die straf wat vir John Couts die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir John Couts genesing gekom.” Toe hy klaar was, sê die kaptein: “Dis genoeg, my seun, gaan nou maar op dek.” Toe lê hy terug in sy kussings.
Hy het daardie heerlike woorde in sy ore hoor weerklink, en oor en oor het hy hulle herhaal met sy eie naam daarin, en dit was nie lank nie of die blydskap van die hemel het die hart van ‘n weergebore siel vervul. Nog ‘n arme sondaar vir wie Jesus gesterf het, het nou in Hom geglo en Hom aangeneem. Daar staan mos duidelik: “Almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word.”
Enige dae daarna het die siel van die kaptein verhuis. Die liggaam is in ‘n seil toegedraai en het oor die kant van die skip in die diepte verdwyn om daar te bly tot Jesus weer kom en die see sy dooies sal opgee. Maar voor sy gees die liggaam verlaat het, het John Couts voor elke man aan boord van sy skip getuig dat Jesus vir sy oortredinge deurboor is, vir sy ongeregtighede verbrysel is, en dat deur sy wonde daar vir hom, John Couts, genesing gekom het.
God het sy liefde selfs aan daardie, rowwe, vloekende seekaptein getoon, en Hy het ons net so lief. God sê: “ Ter wille van ons oortredinge is Hy beurboor.” Voeg u naam biddend daarin en ondervind hoe ‘n heerlike hemelse werklikheid dit word.