Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die leuen sit by mense in die bloed, van die grootste meneer tot die kleinste kind wat met 'n leuentjie tuiskom. Dit het blykbaar burgerreg verkry. Maar soos Langenhoven gewaarsku het: 'n man wat sy toevlug tot 'n leuen neem, vind dikwels uit dat hy in 'n huis gaan skuil wat nie 'n agterdeur het nie...
RASSEBELEID EN SKRIF
Prof. dr. J. D. du TOIT (TOTIUS) en prof dr. S. du TOIT
Lees reeks by Rassebeleid en Skrif
" ...maar vandag nog wil die liberaliste ons vertel hoedanig ons as volk moet wees en hoedanig ons moet optree, en dit terwyl ons vaders altyd besig was en ons, na ek hoop, besig wil wees om die bestel van die hoë God uit te lewe!"
Die rassevraagstuk is vandag meer aktueel as ooit. Trouens dit het tans ’n ernstige twispunt tussen Nasionale Afrikaners geword. Wat meer is, albei kante probeer om hulle standpunt vanuit die Bybel te regverdig. Die wyse waarop met Bybeltekste gewerk word — meesal uit verband geruk — is met een woord skokkend.
Tydens die onthulling van die Totiusmonument in Februarie 1977 is die volgende gesê: "Totius was die verpersoonliking van sy mense deur sy geloof in God en in die roeping van die Afrikaner en hy het by elke geleentheid vir die Afrikaner in die bres getree. Daarom het in sy tyd die stem van Potchefstroom die stem van die Afrikaner geword. Daarom is dit goed dat juis in hierdie jaar fees gevier word waarin hierdie sake betwyfel word. As die Afrikaner in S.A. val, val almal met hom saam. Om bogenoemde redes kon sy stem die stem van S.A. word."
Die sienswyses hierin vervat sal heelwaarskynlik deur sommige as verouderd afgemaak word. Die antwoord daarop sou wees dat die Bybel dan ook verouderd is. Die Calvinis kan nie teen vernuwing wees nie omdat hy kragtens sy roeping op die voorpunt van die tye moet wees. Die patriotters was ook progressief in hulle tyd maar hulle het geglo dat die nuwe loot moet uit die ou wortel groei.
Per slot van rekening het die Skrifgelowige net een suiwer bron waarnatoe hy kan teruggaan en dit is die Skrif self.
Bogenoemde twee skrywers wat hulle lewe veil gehad het in hulle Kerk, hulle Volk en hulle Vaderland, bring hiermee duidelikheid op die onderwerp.
Die Godsdienstige Grondslag van ons Rassebeleid
Referaat gelewer op die "Volkskongres oor die Rassebeleid” (1944)
deur prof. dr. J. D. du Toit.
"Gee my ’n Bybelteks,” se die teenstander van ons kleurbeleid, "’n teks wat bewys dat segregasie in ooreenstemming is met die uitsprake van die Heilige Skrif.”
"Ek het geen teks nie,” is my antwoord.
"Dan het ek die pleit gewen,” sê die voorstander van gelykheid. "Ek het ’n teks. In Kol. 3:11 staan: Waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie; maar Christus is alles en in almal.”
Ek antwoord: Dit is geen bewys nie. Ter plase sal dit dan ook nader gedemonstreer word.
Verder sê ek aan die teenstander: "'n Teks het ek nie, maar ek het die Bybel, die hele Bybel. My bewysvoering sal gaan van Genesis tot Openbaring; so moet ons bewyse uit die heilige Skrif aanvoer.”
Voorlopig laat ek die teenstander met sy teks buite bespreking om hom later verder te woord te staan.
Ek begin met die eerste bladsy van die Skrif, God sal ’n kosmos skep, ’n skone eenheid. Hoe tree Hy op? As Hammabdil, d.w.s. as Skeidingmaker. Al dadelik lees ons van die eerste dag: "God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis” (Gen, 1:4). Aangaande die tweede skeppingsdag staan geskrywe: "God het gesê: Laat daar ’n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters.” (1:6). Dan volg op die derde dag die skeiding tussen droë grond en die versameling van waters, die see (1:9, 10). Op die vierde dag kom die hemelligte te voorskyn: Om te heers oor die dag en oor die nag, en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis” (1:18). Op die vyfde dag skep God die lewende wesens wat wemel in die waters volgens hulle s o o r t e en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte (1:21). Dus weer ’n onderskeiding, en dit hou tot vandag toe stand wat die evolusie ook al redeneer ten gunste van die eenmaking. Dit is en bly soorte. 'n Kloof is daar gevestig, en vir die kloof is daar geen brug nie. Ten laaste word van die sesde dag dieselfde gemeld, nl. die skepping van die diere volgens hulle soorte (1:24). Ja, ook die mens, die hoogste van die werk van God, kom in onderskeidenheid te voorskyn: Man en vrou het Hy hulle geskape” (1:27). Dan word alles beseël met die woord: "Toe sien God al wat Hy gemaak het en — dit was baie goed” (1:31). Geen enerleiheid maar menigvuldigheid; en dit bly so ondanks alle teëstribbeling van die mens.
By die skepping van alle dinge dien die Here Hom dus aan as Hammabdil, as Skeidingmaker. Dit is ’n groot woord met groot betekenis vir ons onderwerp. Daarop kan ons veilig verder bou.
Die massa geskape dinge kom derhalwe nie deurmekaar in aansyn nie, maar elkeen word afgesonder in sy eie kraal. Dit is dan ook wat die woord segregasie volgens sy afstamming te kenne wil gee.
Wat hier allermees van belang is, is dat plante en diere in " soorte” gegroepeer word, geskei van mekaar en tog weer een onder die versamelnaam plante en diere.
Maar dan die mens — is by hom ook soorte aanwesig kragtens skeppingsordinansie? Daar staan alleen dat God die mens "man en vrou geskape het.” Vandaar dat Paulus aan die wysheidsmense in Athene kon sê: "Hy (God) het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak.” Die skeppingsdaad is die "een bloed.” Maar let daarop dat daaruit in die weg van die voorsienigheid van God "die nasies van die mensdom” voortgekom het — dus nie ’n hoop mense sonder onderskeid nie. Paulus voeg dan ook hierdie belangrike woorde aan sy uitspraak toe: "Om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy (God) vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het.” (Handl. 17:26).
"Om die aarde te bewoon” — hiermee gryp die apostel na die bevel terug: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Gen. 1:28), 'n bevel wat na die Sondvloed letterlik herhaal is toe God aan Noag en sy seuns gesê het: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde”. (Gen. 9:1).
Wat wil dit sê? "VuI die aarde” beteken, trek, en trek beteken: nasiewording: Eers toe ons vaders die lae lande by die see in die omtrek van Kaapstad verlaat en getrek het na die hoër geleë binnelande van S.A., het ons ’n nasie geword. Wat toe begin is, het die Groot Trek voltooi.
Deur die bevel: "Vervul die aarde” het God sy goedkeuring aan nasiewording geheg. Vandaar dat Paulus kon sê dat God uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak het.
Maar nou kom die mens met sy eiewysheid. Voor die Sondvloed al het die geslag van Set met die geslag van Kain gemeng. Toe het die reuse gekom en oor -die voor-Sondvloed- se wêreld het die geweld losgebreek wat oorsaak was van die strafgerig.
Maar na die Sondvloed het die eiewysheid en verset teen die bevel van die Here nog kwaaier te voorskyn getree. In die laagte van Sinear het die toringbouers van Babel vergader en uitgeroep: Laat ons nie verder trek nie. Laat ons bymekaar bly. Ons spreek een-en-dieselfde taal. Ons moet een nasie bly. As ons uitmekaar gaan, word ons swak. As ons saamstaan, kan ons ’n toring bou waarvan die punt die hemel raak.
Nou kom die Here weer as die Skeidingmaker Hy sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming. (Gen. 11:6). Deur taalverwarring "het die Here hulle (toe) oor die hele aarde verstrooi.” (11:9).
Dr. A. Kuyper skrywe: "Toe onder die Kaapse Boere die sogenaamde 'trek’ opgekom het, het die neiging om te 'trek’’n hele menigte aangegryp . . . Nou van agter voel dan ook elkeen hoe in die 'trek’ van die Kaapse Boere, sonder dat iemand dit vermoed het, ’n mag deur God gewek is wat die hele toekoms van Afrika en ten dele selfs die geskiedenis van die wêreld beheers. Nouwel, so ’n 'trek’ is juis die teendeel van wat in Sinear se vlakte geopenbaar is. Ook toe moes hulle trek, maar hulle wou nie; hulle stel hul nou uit beginsel en met voorbedagte rade teenoor die beginsel van trek. Nie ,'trek' nie, maar 'bymekaarbly’ was die wagwoord en soos nou van agter wel toegestem sal word dat die Kaapse Boere die bestel van God sou weerstaan het, as hulle nie uitgetrek het nie, eweso het die toenmalige geslag in die vlakte van Sinear die wil van die Here weerstaan deurdat hulle hul nie wou versprei nie.” (1).
Ek noem hierdie sitaat merkwaardig, omdat dit my, en seker u ook, ontnugter het. Hier is iemand uit Nederland aan die woord wat dit ons kom sê dat in die Trek van die Kaapse Boere (soos hy hulle noem) ’n mag deur God gewek is wat die hele toekoms van Afrika beheers. Wat is egter die feitlike toestand? Nie alleen dat liberaliste, wat niks van die Trek verstaan het nie en stil tuis gebly het, die Afrikanernasie die les in die verlede wou leer nie, maar vandag nog wil die liberaliste ons vertel hoedanig ons as volk moet wees en hoedanig ons moet optree, en dit terwyl ons vaders altyd besig was en ons, na ek hoop, besig wil wees om die bestel van die hoë God uit te lewe!
Dit terloops in verband met die toringbou van Babel. Ek hoop nog weer na die liberaliste terug te kom.
Vervolg...