Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons mag ook op God staat maak dat Hy ons liggame beskerm - Dawid sê God is vir hom alles, sy Erfenis, Onderhouer van sy hele toekoms, en hy weet dat God sy siel nooit aan die doderyk sal oorgee nie, daarom skuil hy by Hom, en, sê Dawid, "...ook sal my vlees in veiligheid woon."
WÁT, NADAT JY STERF? (1)
Lees reeks by WÁT, NADAT JY STERF?
Weet jy wat ná jou dood gebeur? Is die dood vir jou die einde van jou lewe; of die begin van 'n nuwe?
In hierdie reeks getuig dr Maurice Rawlings, M.D., 'n Amerikaanse kardioloog wie se werk dit is om mense uit die dood te probeer terugbring, van ervaringe waartydens hy resussitasie (dit is die proses van 'terugbring' wanneer die hart ophou klop het) op pasiënte toegepas het.
As kardioloog wat heeltyd met pasiënte werk wat ernstig siek is, het ek in die koronêre versorgingseenhede van verskeie hospitale al geleentheid gehad om mense wat klinies dood was, weer by te bring. Ek het ook gevind as 'n mens die pasiënt onmiddellik ná sy ervaring daaroor uitvra, word amper net soveel slegte as goeie ervarings verhaal.
Nadat ek tot die Nasionale Doserende Fakulteit van die Amerikaanse Hartvereniging bevorder is, het ek baie geleenthede gehad om met dokters, verpleegsters en ambulanspersoneel in talle lande, onder meer Nederland, Finland, Rusland asook Sentraal en Suid-Amerika te praat.
Hernieude belangstelling in die verskynsel van die dood kom wêreldwyd in die professie voor.
Die meeste van die gevalle waarvan ek aanvanklik bewus was, het 'n mens eers laat dink dis bloot 'n kwessie van aangename ervarings wat opgetower is deur 'n brein wat met te veel verdowingsmiddels in aanraking was. Toe bring ek een aand 'n pasiënt by, wat tussendeur die hele proses kort-kort aan my vertel dat hy inderdaad in die hel was. Hy het my bly soebat om hom uit die hel te verlos en hom nie te laat sterf nie. Toe ek besef hoe doodsbenoud die man werklik is, het ek ook bang geword. Daarna het ek ook opvolgende gevalle gehad van mense wat sulke vreesaanjaende ondervindinge gehad het.Van die mense wat ek deur resussitasie teruggebring het, het minstens die helfte indien nie meer nie, met groot vrees en angs gereageer terwyl die ander in die grootste vrede en rustigheid teruggekeer het. Ek, wat net soos die meeste van my kollegas in géén lewe na die dood geglo het nie, het as gevolg van hierdie gebeurtenisse besef daar is defnitief lewe na die dood! Hierdie ervaringe het my, 'n geswore ateïs, by hiérdie punt gebring waar ek weet dat ek mense moet waarsku.
Die keerpunt in my eie denke het gekom ná die gebeurtenis met die pasiënt wat gepleit het om hom uit die hel uit te hou. Ek het hom versoek om inspanningstoetse te ondergaan omdat ek die pyne in sy bors wou ondersoek. In hierdie toetse laat ons gewoonlik die pasiënt oefeninge doen terwyl ons versigtig rekord hou van sy hartklop. 'n Trapmeul reguleer die pasiënt se oefening sodat hy langsamerhand vorder tot 'n draffie en uiteindelik hardloop. As die EKG (kardiogram) wat ons maak, afwykings toon tydens die oefening, is ons gewoonlik seker dat die pyne waarvan die pasiënt kla, iets met hartmoeilikheid te doen het. Dit verklaar sy 'angina pectoris' – pyn in die bors.
Hierdie pasiënt was 'n 48-jarige blanke posbesteller uit die platteland. Hy was 'n man met 'n gemiddelde liggaamsbou, donker hare en 'n persoonlikheid waarvan almal sou hou.
Toe die EKG afwykings begin toon, was hy ongelukkig nie een van die gewone gevalle nie maar het sy hart heeltemal gaan staan, net eenvoudig opgehou klop, daar in my spreekkamer – hy het sommer net morsdood neergeval!
In plaas daarvan dat sy hart nog getril het soos dit veronderstel was, het dit botstil gaan staan en hy het leweloos op die vloer gelê.
Toe ek met my oor teen sy borskas luister kon ek geen hartklop hoor nie. Ek het my vingers op sy nekslagaar gesit maar daar was geen pols nie. Hy het nog 'n keer na sy asem gesnak en toe ophou asemhaal. 'n Spiertjie hier en daar het 'n rukbeweging gemaak en toe saamgetrek. Toe het hy begin blou word.
Nie een van die ander ses dokters wat saam met my in die praktyk werk was daar nie omdat dit laat in die namiddag was en hulle met hulle hospitaalrondtes besig was. Daar was wel die verpleegsters wat geweet het wat om te doen en hulle optrede verdien groot lof.
Terwyl ek die man se hart masseer het een van die verpleegsters mond-tot-mond-asemhaling toegepas. 'n Ander het 'n suurstofmasker gebring sodat die pasiënt se longe vol lug gemaak kon word. 'n Derde het noodtoerusting gebring, onder meer 'n pasaangeër. Ongelukkig wou sy hart nie aanhou klop nie; 'n totale hartblokkade het ingetree. Die pasaangeër was nodig om die blokkade te oorkom en die hartklop van vyf en dertig per minuut te vermeerder tot tagtig of 'n honderd.
Ek moes die koord van die pasaangeër aanbring in die groot slagaar in die nek wat direk met die hart verbind is. Een punt van hierdie elektriese draadjie is al met die are langs gestoot totdat dit die hart bereik het. Die ander punt is aan 'n klein elektriese apparaatjie gekonnekteer. Dit reguleer die harklop en oorkom die blokkade.
Die pasiënt het begin bykom. Maar elke keer as ek instrumente wou aanvat en dus opgehou het om sy hart te masseer, het hy weer bewusteloos geword. Sy oë het omgedop, sy rug het effens kromgetrek, hy het ophou asemhaal en nog eens gesterf.
Elke keer as sy hart weer begin klop en hy weer begin asemhaal, het hy geskree: "Ek is in die hel!"
Toe die man sê: "Moenie ophou nie!", was ek baie bang want gewoonlik is die eerste ding wat 'n pasiënt sê nadat ek hom bygebring het: "Haal jou hande van my bors af, jy maak my seer!" Ek is 'n groot man en my metode van eksterne hartmassering kan soms 'n ribbebeen laat kraak. Tog sê hierdie man in die grootste nood: "Moenie ophou nie!"
Toe besef ek daar is 'n verskriklike trek op die man se gesig. Hy was heeltemal angsbevange en sy gesigsuitdruikking was erger as dié wat gewoonlik met die dood kom. Sy gesig het getoon dat die angste van die hel letterlik oor hom gekom het. Sy pupille was dof, hy het erg gesweet en gebewe, en dit het inderdaad gelyk of sy hare regop staan van vrees.
Toe gebeur nog iets méer buitengewoon: hy sê vir my: "Kan jy nie begryp nie!? Ek is in die hel. Elke keer as jy ophou, gaan ek terug hel toe! Moenie my laat teruggaan hel toe nie!"
Omdat ek aan die praatjies van pasiënte onder emosionele druk gewoond was het ek kalm probeer sê hy moet sy 'hel' vir homself hou. Ek onthou goed dat ek ook gesê het: "Moenie nou lol nie, ek moet eers die pasaangeër op sy plek kry."
Maar die man se dringendheid het my laat besef dat hy baie ernstig in die moeilikheid was. Hy was so paniekbevange soos ek nog nooit 'n mens gesien het nie. Teen hierdie tyd het hy reeds drie keer sy bewussyn verloor en reeds drie maal klinies gesterf weens gebrek aan suurstof wanneer sy hart ophou klop.
Nadat hy hierdie ervaringe verskeie kere deurgemaak het, het hy my gevra: "Hoe bly ek uit die hel uit!?"
Hy was doodsbenoud en het my gesoebat om hom te help. Ek was self doodbang. Om die waarheid te sê, hierdie gebeure het letterlik 'n helse vrees by my gewek! Dit het my so laat skrik dat ek besluit het om ander mense te waarsku teen wat ek gesien het.
Ek het hom geantwoord 'n mens moet seker maar die beginsel toepas wat jy kleintyd in die Sondagskool geleer het: Jesus sal jou red as jy vra.
Toe sê hy: "Ek weet nie hoe om te vra nie. Bid vir my!"
Vir hom bid! Stel jou voor! Ek het vir hom gesê ek is 'n dokter, nie 'n predikant nie.
"Bid vir my!" het hy dringend herhaal.
Ek het geweet daar was vir my geen keuse nie. Dit was 'n sterwende se laaste versoek. Ek het hom die gebed agter my aan laat opsê net daar op die vloer waar ons was.
Dit was die eenvoudigste gebed omdat ek nie veel van gebede geweet het nie, min of meer so:
"Jesus, ek vra U om my uit die hel te hou.
Vergeef my my sonde.
Ek gee my lewe in u Hand oor.
As ek sterf, wil ek graag hemeltoe gaan.
As ek bly leef, wil ek vir ewig aan U behoort."
Die pasiënt se toestand het wel verbeter en hy is in die hospitaal opgeneem. Ek het huistoe gegaan, die Bybel afgestof en daarin begin lees. Ek wou uitvind presies hoe die hel daar uitsien. Ek het dikwels met die dood te doen gekry in my werk as dokter maar ek het gedink dit is eenvoudig 'n uitwissing van die lewe sonder om oor sleg te voel of bang te wees. Nou was ek oortuig dat daar tog iets steek in die hele kwessie van 'n lewe ná die dood. Ek moés net meer uitvind, my beskouinge in hersiening neem. Dit was soos 'n soektog na die stukkie van die legkaart wat die waarheid van die Bybel moes bewys.
Toe vind ek uit die Bybel is nie bloot 'n geskiedenisboek nie. Elke woord wat ek gelees het was waar. Ek besluit toe ek moet dit werklik meer deeglik lees.
Die pasiënt, wie ek daarna dikwels besoek het, het homself waarlik aan Jesus oorgegee. Hy het 'n baie ernstige Christen geword. Hoewel hy baie beskeie was het hy 'n besondere getuie vir Christus geword. Hy het ook onthou wat ons gebid het daardie aand, ook dat hy agter in die vertrek gestaan en gekyk het hoe aan sy liggaam gewerk is.
Hy onthou ook dat hy sy moeder en stiefmoeder tydens een van sy stadiums van dood gesien het, asook 'n paar ander familielede wat vroeër oorlede is. Hierdie ervaring van hom was wel baie aangenaam en het plaasgevind in 'n nou vallei met weelderige plantegroei, en alles was helder verlig deur 'n geweldige ligstraal. Dit was die eerste keer dat hy sy moeder gesien het aangesien sy op een en twintigjarige leeftyd dood is toe hy 'n baba was. Sy vader is daarna weer getroud.
Hierdie man het nog nooit 'n foto van sy eie moeder gesien nie en tog kon hy nou ná hierdie ervaringe, 'n foto van sy moeder tussen klomp ander fotos uithaal wat sy tante vir hom gebring het. Dit was dieselfde bruin hare, dieselfde oë en mond, defnitief die gesig van die vrou wat hy tydens sy ervaring geëien het as sy moeder. En sy was steeds een en twintig jaar oud. Hy was stomgeslaan. Sy pa ook!
Vervolg...