Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is dit nie selfsugtig om op regte aanspraak te maak gesien in die lig dat gelowiges hulself eerder moet verloën nie? “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mt.16:24).
WÁT, NADAT JY STERF? (3)
Lees reeks by WÁT, NADAT JY STERF?
Weet jy wat ná jou dood gebeur? Is die dood vir jou die einde van jou lewe; of die begin van 'n nuwe?
In hierdie reeks getuig dr Maurice Rawlings, M.D., 'n Amerikaanse kardioloog wie se werk dit is om mense uit die dood te probeer terugbring, van ervaringe waartydens hy resussitasie (dit is die proses van 'terugbring' wanneer die hart ophou klop het) op pasiënte toegepas het.
'n Tipiese ervaring buite die liggaam
'n Sterwende word eenvoudig flou of verloor heeltemal pynloos sy bewussyn as die dood intree, en tog kan hy nog hoor hoe die dokter hom dood verklaar. Hy ontdek dan dat hy buite sy eie liggaam verkeer, maar dat hy nog in dieselfde vertrek is, 'n omstander wat die verrigtinge kan waarneem.
Hy sien hoe hy bygebring word en moet dikwels om ander mense beweeg om te kan sien wat aangaan. Dit gebeur soms dat hy bokant hulle koppe naby die plafon rondsweef en dat hy van daar af neerkyk op wat in die vertrek aangaan. Dikwels staan hy agter die dokter of verpleegster, of hy sweef bokant hulle rond en kyk af op hulle agterkoppe terwyl hulle met sy liggaam werk. Hy weet wie in die vertrek is en kan hoor wat hulle sê. Hy kan skaars glo dat hy dood is, dat die lewelose liggaam waarmee hulle so sukkel, syne is. Hy het die liggaam verlaat en dit lê daar soos 'n vreemde voorwerp. Hy voel wonderlik!
Nadat hy meer gewoond begin raak aan sy nuwe toestand, begin dit vir hom voel asof hy 'n nuwe liggaam het wat vir hom werklik voel en wat met bonatuurlike sintuie toegerus is. Hy is nie 'n gees nie. Hy kan sien, en voel en dink en praat soos voorheen. Maar sekere byvoordele is toegevoeg. Hy kom agter sy nuwe 'liggaam' het onbeperkte vermoë van beweging en dat hy gedagtes kan lees en dat hy in staat is om feitlik enigiets te doen. Hy mag dalk in hierdie stadium 'n snaakse geluid hoor en vind dat hy besig is om deur 'n lang, donker gang te beweeg. Hy beweeg miskien stadig of vinnig, maar hy raak nie teen die mure nie en hy is ook nie bang dat hy sal val nie. Aan die anderkant van die tonnel mag hy in 'n wonderlike, helder verligte omgewing aankom waar hy vriende en familie wat reeds dood is, ontmoet en met hulle praat. Hy mag dan deur 'n helder glimmende wese of 'n donker wese ondervra word.
Die omgewing waar hy homself bevind mag dalk onuitspreeklik mooi wees. Dikwels is dit 'n pragtige oop stuk veld of soms 'n lieflike stad. Maar soms is dit 'n aaklige plek, dikwels 'n reuse-grot of 'n kelder. Sy hele lewe speel binne 'n oogwink voor hom af, asof al die belangrike gebeurtenisse van sy lewe met die oog op 'n oordeel vir hom herhaal word.
Terwyl hy soms saam met vriende of familielede (dikwels die ouers) aanstap, kom hy by 'n grens waaroor hy nie kan beweeg nie. Gewoonlik moet hy in hierdie stadium omdraai en vind hy homself skielik weer terug in sy liggaam en voel hy die skok van die elektriese stroom wat deur hom gestuur word of die drukking op sy bors terwyl iemand besig is om met sy hande op sy borsbeen te druk.
Hierdie soort ervaring beïnvloed gewoonlik 'n mens se lewe en gesindheid aansienlik. As dit 'n aangename ervaring was, is 'n mens nie bang om weer dood te gaan nie. So 'n mens sien gewoonlik uit daarna om dit weer te beleef en om aan te gaan waar hy die vorige keer nie kon oorbeweeg nie, veral omdat hy uitgevind het die dood self is pynloos en dat hy nie nodig het om bang te wees daarvoor nie. As hy probeer om sy vriende van sy ervaring te vertel, spot en terg hulle hom meestal. Gewoonlik is dit moeilik genoeg om woorde te vind waarmee hy sy wonderlike ervaring kan beskryf. As hy dan nog gespot word, besluit hy dikwels om niks meer van sy ervarings te sê nie. As sy ervaring onaangenaam was, mag hy besluit om die storie glad nie te vertel nie, omdat daar so 'n verdoemende oordeel in opgesluit is.
Die vreesaanjaende ervarings is gewoonlik net so talryk as die aangenames. Diegene wat onaangename ervarings gehad het, vind ook, net soos die ander, dat hulle moeilik kan begryp dat hulle dood is. Hulle beweeg gewoonlik ook deur 'n lang tonnel as hulle die vertrek verlaat, maar in plaas van 'n helderverligte, mooi omgewing, kom hulle gewoonlik in 'n donker, dowwe omgewing aan waar groteske figure in die skadu's langs 'n brandende vlammesee skuil. Die verskrikkings wat hulle ervaar, kan haas nie beskryf word nie en word gewoonlik moeilik onthou. In vergelyking met die aangename ervarings, is dit gewoonlik moeilik om presiese beskrywings van hierdie soort ervarings te kry.
Dit is belangrik om mense uit te vra onmiddellik nadat hulle bygebring is en terwyl hulle nog in die moeilikheid is en om hulp roep, anders word die ervaring gou vergeet of verberg. Hierdie rare, negatiewe ervarings oefen gewoonlik 'n beslissende invloed op hulle lewens uit. Ek het nog nie een so 'n geval teengekom waar die persoon ongelowig en ateïsties gebly het nie!
Persoonlike waarnemings
Ek vertel graag hoe ek begin het met my navorsing oor nadoodse ervarings. Ek het talle verslae van Elizabeth Kubler-Ross gelees. Hulle is uiteindelik saamgevat in haar boek On Death and Dying. Ek het ook dr Raymond Moody se verslae in Life After Life gelees. Met die uitsondering van pogings tot selfmoord, het al hierdie verslae gehandel oor buitengewone aangename ervarings. Ek kon dit eenvoudig nie glo nie. Hulle gevallestudies was te aangenaam om waarte wees, het ek gedink. As jeugdige is ek geleer daar is 'n slegte plek en 'n goeie plek, 'n hel en 'n hemel. Nadat ek die ervaring gehad het om 'n man by te bring wat gesê het hy was in die hel, en nadat ek vas in die Skrif begin glo het, het ek aangeneem dat sommige mense na die slegte plek sou gaan. En tog, feitlik al die verslae wat ek gelees het, het net melding van 'n goeie plek gemaak. Ek het toe begin dink dat sommige van die goeie ervarings dalk eintlik verkeerde indrukke kon gewees het, dat hulle miskien geskep is deur Satan wat homself voorgedoen het as die engel van die lig – 2 Korintiërs 11:14.
Of miskien, het ek gedink, is die plek van ontmoeting 'n aangename plek omdat dit 'n soort sorteerplek is, veral omdat talle mense verwys het na 'n soort grens wat hulle waargeneem het, maar nie kon oorsteek nie. Die pasiënt keer gewoonlik na sy liggaam terug voordat daardie grens oorgesteek kan word. Maar hier en daar het iemand vertel dat hy toegelaat is om deur daardie grens te breek na wat moontlik 'n hemel of 'n hel kon wees. Ons praat later weer oor hulle.
As gevolg hiervan is ek oortuig al die gevalle waaroor drs Moody en Kubler-Ross verslag gedoen het, asook dié wat gepubliseer is deur drs Karlis Osis en Erlendur Heraldsson in hulle uitstekende versameling, At the Hour of Death, wel korrek gerapporteer is deur die skrywers, maar nie altyd heeltemal onthou of vertel is deur die pasiënte nie.
Ek het gevind die onaangename ervarings word gou deur die pasiënt in die onderbewuste weggedruk. Hierdie ervarings was so vreeslik dat hulle feitlik dadelik uit die pasiënt se bewuste verwyder word sodat net die aangename dinge, of soms niks nie, oorbly. Daar is gevalle waar die pasiënt verskeie kere 'gesterf' het. Die hart gaan staan telkens sodra die resussitasie onderbreek word. Maar die pasiënt herwin weer sy bewussyn sodra sy hart begin klop en sy asemhaling voortgaan. In so 'n geval is dit moontlik dat hy verskeie ervarings buite sy liggaam mag beleef. Tog onthou hy gewoonlik net die aangename besonderhede.
Dit het my toe getref dat die reeds gemelde skrywers gewoonlik onderhoude gevoer het met pasiënte wat weke tevore deur ander dokters bygebring is. Sover ek weet het Kubler-Ross en Moody self nooit 'n pasiënt bygebring nie. Hulle het ook nooit die kans gehad om onmiddellik onderhoude met sulke pasiënte te voer nie.
Nadat ek talle pasiënte wat ek self bygebring het, ondervra het, het ek agtergekom daar is talle wat onaangename ervarings gehad het. As die pasiënt dus dadelik uitgevra kan word, sal navorsers vind daar word net soveel verhale van goeie as slegte ervarings vertel. Die meeste dokters wil egter nie graag laat blyk dat hulle in geloofsake belangstel nie, met die gevolg dat hulle gewoonlik bang is om die pasiënt uit te vra.
Hierdie idee van dadelike ondervraging is jare gelede voorgestel deur die beroemde sielkundige, dr WH Myers, wat beweer het:
"Dit is moontlik dat ons baie sal leer, deur mense wat gesterf het, uit te vra onmiddellik nadat hulle hul bewussyn weer herwin het, oor wat hulle onthou van enige iets terwyl hulle bewusteloos was. As daar inderdaad 'n ervaring was, moet dit dadlik aangeteken word aangesien dit vinnig uit die geheue sal vervaag, selfs al sterf hy nie onmiddellik daarna nie."
Ek het hierna soveel gevallestudies uit die verlede begin ondersoek as wat ek kon bekom:
Die doodservaring van ene dr Wiltse:
Vir my was die ervaring van hierdie dokter wat in 1889 vier ure lank sonder waarneembare pols en derig minute lank sonder waarneembare asemhaling in 'n koma was, een van die mees interessante gevalle. Dit is aangeteken in die St Louis Medical and Surgical Journal van November 1889. Die geneesheer in bevel, dr SH Raunes, het gemerk die pasiënt se hortende asemhaling het vir dertig minute opgehou en dat daar vir viere ure verder ook geen waarneembare hartklop was nie. Hy het aangekondig dat die man oorlede is. Die dorp se kerkklok het paslik gelui om sy afsterwe bekend te maak. Agterna het dr Wiltse sy eie dood só onthou:
"Ek het my bewussyn herwin en agtergekom dat ek steeds binne my liggaam is, maar dat ek en die liggaam niks meer in gemeen gehad het nie. Ek het verbaas en verheug vir die eerste keer werklik na myself gekyk – met die belangstelling van 'n geneesheer. Ek het besef dat ek die lewende siel van daardie dooie liggaam was. Ek het toe geredeneer: ek het gesterf, soos mense dink 'n mens sterf, en tog is ek nog net so 'n mens soos altyd. Ek staan op die punt om die liggaam te verlaat. Ek het die proses van skeiding tussen liggaam en siel met belangstelling dopgehou. Ek kan goed onthou hoe ek nogal vir myself, wat kleur en vorm betref, half en half soos 'n jellievis gelyk het.
"Die gees het die liggaam toe verlaat. Vir 'n rukkie het ek op en af gesweef, byna soos 'n seepbelletjie wat nog vaskleef aan die pyp waarmee dit geblaas is. toe het ek heeltemal losgebreek en stadig hoër gestyg totdat ek die volle lengte van 'n mens bereik het. Dit het vir my gelyk asof ek deursigtig en effens blouerig is. Toe ek omdraai om die kamer te verlaat, het my elmboog in aanraking gekom met dié van iemand wat in die deur gestaan het. Tot my verbasing het my arm deur syne beweeg sonder dat daar enige weerstand was. Die deurgaanplek het weer toegemaak sonder enige pyn, soos lug eenvoudig weer bymekaar aansluit. Ek het vinnig na sy gesig gekyk om te sien of hy iets agtergekom het, maar hy het geen teken daarvan getoon nie. Hy het net daar gestaan en staar na die bed wat ek pas verlaat het. Ek het in dieselfde rigting gekyk en my eie gestorwe liggaam gesien. Dit het nog net so gelê soos wat ek dit self geplaas het, effens op die regtersy, die voete bymekaar en die hande oor die bors gevou. Die bleekheid van die gelaat het my verbaas. Ek het ook 'n hele paar mense om die liggaam sien sit en staan, veral twee vroue links van die liggaam en ek het geweet hulle huil. Sedertdien het ek agtergekom dat hulle my vrou en my suster was.
"In hierdie stadium het ek probeer om die aandag van die mense in die vertrek te kry sodat ek hulle kon troos en van hulle eie onsterflikheid kan verseker. Ek het speels vir hulle gebuig en met my regterhand gesalueer. Ek het tussen hulle rondbeweeg maar gevind dat hulle geen aandag aan my gee nie. Toe het die humor van die situasie my getref en ek het hardop gelag. Ek het vir my self gesê: Hulle sien net met die oë van die liggaam, hulle kan nie die geestelike sien nie. Hulle kyk na wat hulle dink is ek, maar hulle maak 'n fout. Dis nie ek nie. Hier is ek en ek is net so lewendig soos altyd.
"Hoe wonderlik voel ek, het ek gedink. Net 'n paar minute gelede was ek verskriklik siek en terneergedruk. Toe kom daardie verandering wat hulle die dood noem en waarvoor ek so bang was. Dit is nou verby en hier is ek. Ek is nog 'n mens, ek is lewendig en kan dink, ja, ek dink so helder soos altyd en hoe wonderlik voel ek tog nie. Ek sal nooit weer siek wees nie. Ek sal nooit weer doodgaan nie. Uit pure uitbundigheid het ek so 'n paar passies gedans en toe omgedraai en na die oop deur gekyk waardeur ek my liggaam kon sien.
"Toe het iemand my met sy hande saggies opgetel en deur die lug gevoer. Ek is op 'n pad in die lug geplaas waarlangs ek aangestap het totdat ek by drie ontsaglike rotse gekom het. Hier het ek gaan staan en gewonder waarom so 'n mooi pad op hierdie manier geblokkeer moes wees. Terwyl ek so gestaan het, het 'n groot donker wolk, wat omtrent 'n hektaar groot was, bokant my gevorm. Ek was bewus daarvan dat 'n wese, wat ek nie kon sien nie, uit die suide die wolk binngegaan het. Na my oordeel het die wese geen vorm gehad nie, maar die wolk soos 'n reusagtige intellek gevul. Terwyl die wolk liggies aan weerskante van my kop geraak het, het gedagtes wat nie myne was nie, by my opgekom.
"Hierdie gedagtes kon ek goed verstaan maar ek het nie geweet in watter taal dit is nie. Dit was soos volg:
'Die pad hier voor jou is dié na jou ewige lewe. Die rotse daar is die grens tussen die lewe en die hiernamaals. As jy hulle verbysteek, kan jy nooit weer na jou liggaam terugkeer nie. As jou werk op aarde klaar is, mag jy by die rotse verbystap. As jy egter, nadat jy die saak deeglik oorweeg het, voel dat jou werk nie klaar is nie, kan jy na jou liggaam terugkeer.'
"Ek wou baie graag die grens oorsteek. Noudat ek so naby was, wou ek oorgaan en aan die anderkant bly. Ek het my linkervoet opgetel en wou dit oor die grens plaas. Skielik het 'n klein, digte swart wolk vlak voor my verskyn. Ek het geweet dat ek gekeer gaan word. Ek het gevoel hoe die wil om te dink en te beweeg my verlaat. My hande het tam langs my sye gehang, my kop het vooroor geval, die wolkie het teen my gesig geraak en toe het ek niks meer geweet nie.
"Sonder dat ek daaraan gedink het en sonder enige sigbare poging van my kant af, het my oë oopgegaan. Ek het na my hande gekyk en toe na die wit bed waarop ek gelê het. Toe het ek besef dat ek weer in my liggaam was. Verbaas en teleurgesteld het ek gevra: 'Wat het met my gebeur? Moet ek dan weer sterwe?'
"Ek was baie swak maar tog sterk genoeg om bogenoemde ervarings aan die mense te vertel, al het hulle ook probeer om my stil te maak. Daarna het ek vinnig herstel en heeltemal gesond geword.
"Daar is heelwat mense wat sal kan getuig oor die waarheid van my verhaal, veral wat my liggaamlike toestand betref. Hulle sal ook kan getuig dat die dinge wat ek oor my liggaam en die vertrek waarin dit was, vertel het, waar is. Ek moes dus sekere dinge op een of ander manier waargeneem het."
Hoe hierdie pasiënt bly leef het nadat sy belangrikste liggaamsfunksies dertig minute lank nie in aksie was nie, begryp ek nie.
Daar is net 'n paar gevalle in die wêreld bekend van mense wat 'n voorsmaak van die dood gehad het op 'n wyse soos Dwight Moody, 'n verkoopsman van Chicago wat later een vandie vurigste Christen-evangeliste ter wêreld geword het. In die volgende aflewering meer oor hom en nog 'n paar ander ondervindinge.
Vervolg...