Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Een van die belangrikste van die ses dinge in ons wapenrusting teen die bose geeste van Satan, is ons geloof. Wat sê Paulus sal ons daarmee kan doen? Die Bose se vurige pyle uitblus. As ons dít regkry is daar niejuis iets om voor bang te wees op hierdie aarde nie. En wat beteken dit in praktyk om geloof te hê? Dit behels om elke dag in opregtheid ons hele sondige natuur voor die Here te bely en met Hom te praat oor alles, net soos 'n klein kindjie sy ouers in sy vertroue neem, en dan rustig voort te werk in jou dagtaak met die wete dat Hy in beheer van daardie 'alles' is.
JEHOVAGETUIES
Die Jehovagetuies het in 1961 hulle eie Bybelvertaling, verdraai om by hul leerstellings aan te pas, uitgegee. Gedeeltes van hierdie Bybel ken hulle baie goed en aanvaar dit as die Woord van God. Hulle glo werklik dat hulle die waarheid beet het. Tog mis hulle alles, nl. vir Jesus, want Hy het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur my nie.” (Joh. 14:6)
Toe ek ‘n paar jaar gelede ook met twee vroue gepraat het, het hulle gesê dat Jesus net ‘n goeie profeet was. Hy was glo eers die aartsengel, Migael, voordat Hy na hierdie wêreld gekom het. Hulle leerstelling is seker intussen aangepas, want hierdie onlangse twee het gesê dat Hy wel die Seun van God is, geskape deur God maar beslis nie self ‘n God is nie. Volgens hulle is die gedagte van ‘n Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, heeltemal belaglik. Ons Bybel leer ons in Johannes 17:22 dat Jesus vir sy dissipels en volgelinge gebid het dat hulle een sal wees net soos wat Hy en die Vader een is. Johannes 1:1 sê vir ons dat die Woord, nl. Jesus, in die begin daar was. Hy was by God en self ook God. Toe ek vir hulle hierdie tekste aangehaal het, het hulle my net geïgnoreer en aangehou met die storie dat die heilige Jehova se naam uit ons Bybel uit weggelaat is en dat ons daarom dus ‘n vervalste Bybel lees.Die waarheid is dat die oorspronklike Hebreeuse manuskripte van die Bybel slegs in konsonante geskryf is. Daar was nie een enkele vokaal in nie. Daar het dus slegs die konsonante JHWH gestaan. Die Jode het nooit hierdie Naam uitgespreek nie uit vrees vir oortreding van die derde gebod, nl. Eks. 20:7: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie…” Uit ander literatuur blyk dit dat die algemeen erkende uitspraak wel JAHWEH was. Die uitspraak soos wat die Jehovagetuies dit gebruik, het eers in die Middeleeue ontstaan en kan nie verantwoord word nie.
Die punt is egter dat hulle probeer om hulle volgelinge te imponeer en te mislei met ‘n klomp ingewikkelde, halwe aanhalings en beskrywings. Die “Getuie” wat te veel vrae vra, word baie gou gevra om die organisasie te verlaat. Of ons dus nou van God praat as Jahweh of as Jehovah, dit verander nie veel aan ons redding nie. Dit gaan oor die feit dat Jesus vir ons sonde aan ‘n kruis gesterf en die straf gedra het. As ons Hom nie as God erken nie, beteken sy kruisdood niks. Die twee misdadigers wat weerskante van Jesus gekruisig is, se dood het mos nie vir ons enige verlossende betekenis nie.
Verder erken die Jehovagetuies nie die Heilige Gees as ‘n Persoon nie, maar sê dit is net ‘n wind. Hulle maak ‘n bespotting daarvan deurdat hulle in hul gereelde pamflet, die “Watchtower” van April 1958, ‘n spotprent van Jesus geplaas het waar Hy die Heilige Gees op sy dissipels uitgooi. In Johannes 14:26 sê Jesus aan sy dissipels dat die Heilige Gees hulle alles sal leer en hulle sal herinner aan wat Hy vir hulle gesê het. ‘n Wind is nie in staat om so iets te doen nie.
‘n Baie gerieflike siening wat die Jehovagetuies ook het, is dat goddelose mense soos diere sterf en dus nie onsterflik is nie. Hulle word net vernietig en gaan in ‘n ewige graf. Mense wat nie goddeloos leef nie, sal op ‘n herskepte aarde bly voortleef, maar net honderd vier en veertig duisend is uitverkies om hemel toe te gaan. Hulle verwerp die Bybelse leer van die hel, omdat dit glo in stryd is met die liefde van God. Dit is ook dieselfde misleiding waarmee die “New Age”-beweging daarin geslaag het om talle kerkgangers te verwar. Hulle gebruik die argument dat ‘n aardse vader nooit eers sy kind se hand op ‘n warm plaat sal druk nie. Waarom sal ‘n God van liefde dan ‘n mens in ‘n ewige vuur laat brand? Die Bybel leer vir ons in Openbaring 21:8 : “Maar die wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.”
Die werklikheid is dat God heilig is en sonde haat. Daarom moet Hy die sonde straf. Omdat Hy die wêreld en ons mense so oneindig lief gehad het, het Hy het alles gedoen wat moontlik was om ons te red deurdat Jesus mens geword het en vir ons die straf kom dra het. Al wat ons moet doen om hierdie ewige straf te ontkom, is om dit deur ware geloof te aanvaar,
Die Jehovagetuies het sedert hulle ontstaan in 1870 nie minder as ses verskillende name gehad nie. Hulle stigter, Russell, het so ‘n ontugtige lewe gelei, dat sy volgelinge nie Russelliete genoem wou word nie. So was hulle dan die Millennial Dawn, Metropolitan Pulpit, Brooklyn Tabernacle Pulpit, International Bible Students Association, Watchtower Bible, Tract Society en nou die Jehovagetuies. In 1938 is hulle sogenaamde “teokrasie” afgekondig waarvolgens hulle alle ander vorme van regering as Satanies beskou. Daarom sal hulle geen militêre diens doen of ‘n landsvlag salueer nie.
Gelowiges wonder altyd hoe hulle hierdie mense moet hanteer. Hier is ‘n paar wenke wat ek uit persoonlike ervaring geleer het. Hulle loop gewoonlik in pare van twee en het altyd leesstof by hulle. Dit is dus baie maklik om hulle uit te ken. Hulle vra ook gewoonlik of hulle ‘n paar Bybelgedagtes met jou mag deel. Maak seker deur vir hulle te vra of hulle Jehovagetuies is. Hulle antwoord gewoonlik bevestigend. Dit is nie nodig om hulle in te nooi nie, want 2 Joh 9-11 leer vir ons dat as iemand ‘n “ander” leer oor Jesus Christus vir ons bring, ons hom nie in ons huise moet ontvang nie. As jy egter daarvan hou om te getuig, is hierdie ‘n gulde geleentheid, sommer by die deur of in die straat. Wie weet wat die Here dalk met jou getuienis kan doen? Jesus het per slot van sake gesê dat ons sy getuies moet wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die hele wêreld. (Hand 1:8)
Moet nooit met hulle in ‘n redenasie of argument betrokke raak nie. Hulle het ‘n klompie tekste uit die kop geleer en kan jou maklik van stryk af bring. Stuur die gesprek telkens terug na Jesus en wat Hy vir jou beteken. Die vinnigste om van hulle ontslae te raak, is om te sê dat jy nou vir hulle wil bid in die Naam van Jesus, jou Here en Verlosser. Die duiwel laat hulle nie toe om saam met ware gelowiges te bid nie. Hy is bang dat die Heilige Gees dalk hul benewelde verstand sal verlig en hulle oë sal oopgaan. Hulle kry dus baie vinnig ‘n verskoning waarom hulle skielik haastig is en nog iets anders moet gaan doen. Moet nooit beledigend wees nie, maar sê baie duidelik vir hulle dat hulle ‘n vals leer aanhang en dat hulle eendag ontnugter gaan wees wanneer hul sterf. Ek kon al duidelik die verwarring in hul oë sien en dit gee hulle iets oor na te dink.
As jy dalk self deur hierdie mense mislei is en hierdie artikel gelees het, vra die Here om vir jou die waarheid te wys. Ek is oortuig daarvan dat Hy dit sal doen. Jesus sê in Johannes 6:37 “…en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.”