Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God staan sy kinders in die verdediging van die waarheid kragdadig by: “Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ’n Helper en ek sal nie vrees nie, want wat sal ’n mens aan my doen?” (Heb.13:6).
IS SELFMOORD ONVERGEEFLIK?
VERLORE, OF IS HY GERED?
Lees reeks by Weet jy, of wonder jy?
Talle mense wonder of daardie familielid, vriend of geliefde wat selfmoord gepleeg het, noodwendig in die hel beland het, of het God hom vergewe vir sy daad? Want selfmoord bly maar moord. Het jy 'n persoon geken wat selfmoord gepleeg het? Het jy ook gewonder wat van sy siel geword het?
Daar is min dinge wat ’n familie of vriendekring so ruk soos selfmoord. Prof. Lourens Schlebush van die departement van gedragsgeneeskunde aan die Universiteit van Natal het bevind dat gemiddeld 8000 mense per jaar in Suid-Afrika selfmoord pleeg. Dit kom op 667 per maand, 154 per week en 22 per dag neer!
Talle mense pleeg ook in Kersfeestyd selfmoord omdat die emosionele put waarin hulle te midde van die uitbundigheid van feesgangers verkeer, net te diep word.
Selfmoord kom nie net onder ongelowiges voor nie. Een van die hartseerste werklikhede van die lewe, is dat dit ook onder gelowiges voorkom.
Wat gebeur met ’n gelowige se siel indien hy selfmoord pleeg? Die meeste mense beskou selfmoord as ’n onvergeeflike sonde en glo dat so ’n persoon hel toe gaan. Ek wil radikaal van so ’n siening verskil!
Wat gebeur met enige gelowige wat sterf? Hy is op grond van sy bekering gered. Dit beteken dat sy sonde vergewe en hy saam met Jesus in die paradys is. As ons Jesus se verlossingsboodskap reg verstaan, hou geen sonde, hoe groot ook al, ’n gelowige uit die hemel nie. Nie eens selfmoord nie!
“Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Maar nou moet ons weet, selfmoord is ’n vorm van moord en derhalwe ’n verbreking van die sesde gebod. Sondig ’n selfmoordenaar? Ja, beslis! Enigeen wat ’n lewe neem, behalwe uit selfverdediging of ter beskerming van iemand se lewe, oortree die sesde gebod.
Daar is nie klein en groot sondes in die sin dat sommige minder sondig is nie. Alle sondes is ewe sondig. Sekere sondes het wel ernstiger gevolge en verdien daarom groter veroordeling. In die gelykenis van die waaksame dienskneg in Luk.12 sê Jesus:
“En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word…” (:47,48).
Al leef gelowiges ook hoe vroom, is hulle steeds sondaars. Deur die bekering word ons van slegs die bindende mag en uiteindelike oordeel van sonde verlos. Dít as sodanig waarborg ons hemelse erfenis wat ons as dankbare, verloste mense met ’n innige begeerte om nie te sondig nie, laat leef.
Baie mense glo dat selfmoord hierdie genade laat verval. Daar is geen Bybelse gronde daarvoor nie. En maal kind van God, altyd kind van God. Selfmoord is nie ’n onvergeeflike sonde nie. Die enigste onvergeeflike sonde is om te weier om Jesus se genade-aanbod te aanvaar. Dit laat mense in die hel beland. God dwing niemand om sy genade-aanbod te aanvaar nie.
Ons leef in ’n gebroke wêreld, daarom ly gelowiges ook aan depressie en pleeg soms selfmoord. Dikwels is dit ’n chemiese wanbalans wat die gesonde werking van die brein beïnvloed. Desondanks sny dit hulle nie outomaties van God af nie. So ’n optrede verskoon of regverdig nie die daad nie. Hy het verkeerd opgetree en nie op God vertrou soos wat hy moes nie.
Is ’n selfmoordenaar ’n mislukking? Ja, beslis!
“Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie” (Rom.14:7).
Jou lewe en jou dood raak ook baie ander mense. Selfmoord los geen situasie op nie. Dit skep eerder oneindig meer probleme vir diegene wat agterbly. Daarbenewens bring dit ergerlike skuldgevoelens oor naasbestaandes.
Maar laat ons een ding baie mooi verstaan: Geen mens gaan hemel toe omdat hy nié gesondig het nie. ’n Mens gaan hemel toe omdat hy Jesus as Verlosser aanvaar het al was dit ook in die laaste oomblik van sy lewe.
Samevattend kan ons dus sê dat selfmoord geen gelowige se toegang tot die hemel versper nie. ’n Selfmoordenaar wat sonder die bekering sterf, verhaas net die eindoordeel oor homself. ’n Gelowige daarenteen verloor nie sy verlossing daardeur nie. Dit is en bly egter ’n sonde. Geen omstandighede, hoe donker ook al, regverdig selfmoord nie. Gelowiges moet juis anders as die wêreld wees en vir God leef. Die dood is God se besluit en syne alleen. Hy besluit waar en wanneer ’n mens sterf. Niemand durf hierdie mag uit sy hande neem nie!