Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hy wat nie kan vergewe nie vernietig die brug waaroor hyself sal moet gaan want elke mens het vergifnis nodig.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (12)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Daardie Sondag is die Ashton Gemeenskapskerk heelwat leër as gewoonlik, wat natuurlik te wagte is, maar nogtans voel Hank dat die atmosfeer baie vryer en lewendiger is. Toe hy op die preekstoel staan en oor die gemeente uitkyk, sien hy al die bekende gesigte van sy ondersteuners en almal glimlag breed. Die Coleman’s is daar en ouma Duster, asook die Cooper’s, die Harris-gesin, die Squire’s en selfs Gordon Mayer en sy vrou. Brummel kon dit skynbaar nie maak nie, maar Sam en Helen Turner is ook daar. Soos gewoonlik is daar ’n paar gemeentelede wat maar so een keer per maand in die kerk opdaag. Vir hulle gee Hank ’n besondere glimlag om hulle welkom en tuis te laat voel.
Toe Mary die bekende lied “Hy is Heer” op die klavier voorspeel en Hank die sang inlei, merk hy dat twee persone agter by die kerk ingekom het en agter plaasgeneem het. Hy het hulle nog nooit voorheen gesien nie.
Scion sien ook hoe die nuwelinge, Andy en June Forsythe, plaasneem. Dan kyk hy op na die platform waar Krioni en Triskal stelling ingeneem het. Hulle knik vriendelik vir mekaar. ’n Paar bose geeste het ook die kerkgebou saam met die mense binnegesluip, maar hulle voel taamlik afgehaal toe hulle die hemelse wese raaksien. Scion tree egter terug en verdwyn by die deur uit.
Hank kan nie verklaar waarom hy so besonder gelukkig voel nie. Miskien is dit omdat ouma Duster teenwoordig is. Haar woorde het hom so bemoedig. En dan is die Coleman’s ook daar, sulke dierbare mense. En die nuwe paartjie agter in die kerk. Hy wonder wie die groot blonde man is wat heel agter sit. Waarskynlik is hy een of ander sportheld.
Hy dink weer aan wat ouma Duster gesê het en maak sy Bybel by Jesaja 55 oop. In ’n sterk stem lees hy: “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer . . . My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees; dit sal nie onverrigter sake tot my terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het. Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word; die berge en heuwels sal voor julle uit jubel en juig, en al die bome in die veld sal hande klap.”
Dis Hank se geliefkoosde Skrifgedeelte en hierdie besondere oggend preek hy met ’n buitengewone bekragtiging van die Heilige Gees. Hy kan sommer voel dat hy deurdring tot die meerderheid van sy lidmate. Verskeie mense knik instemmend, ook die nuwe paartjie by die agterdeur. Hulle beaam elke woord, om nie eers van die groot blonde man te praat nie. Die paar demone wat teenwoordig is, het ’n moeilike tydjie om die mense se ore toe te stop, want die boodskap dring deur. Vir hulle is Hank se preek vanoggend ’n sware beproewing.
Bo-op die kerk hou Signa en sy krygers die demone op ’n afstand. Lucius kom daar aan met ’n hele gevolg, maar Signa wil nie kopgee nie.
“Jy behoort beter te weet as om my te probeer keer,” dreig Lucius.
Maar Signa is beleefd, amper irriterend: “Jammer, ons mag nie meer demone in die kerk toelaat nie.”
Om een of ander rede voer Lucius die saak nie verder nie. Nadat hy ’n paar beledigende aanmerkings geslinger het, vlieg hy en sy volgelinge daar weg om iewers anders die rus te gaan verstoor.
Toe die diens verby is, gaan verskeie mense vorentoe om met Hank te praat.
“Pastoor, ek is Andy Forsythe en dis my vrou June,” stel die vreemdeling homself voor. “Baie dankie vir die boodskap vanoggend. Dit was iets besonders.”
“Baie dankie en baie welkom hier by ons.” Hulle gesels ’n paar oomblikke en Hank stel vas dat hulle ’n houtkapperbedryf net buite die dorp begin het. June is die sekretaresse. Hulle het een seun, Ron, wat hulle tans ’n bietjie probleme besorg.
“Ons was in die Ashton Verenigde Christelike Kerk,” bely Andy. “Maar ons kon . . . e . . . nie daar aanbly nie.”
“Ons het geen voedsel vir ons siele daar gekry nie,” voeg June daaraan toe.
“En toe hoor ons van julle kerk,” sê Andy. “Vir ons is dit belangrik dat slegs die Woord van God verkondig moet word en daarom het ons kom luister. En ons is bly ons het gekom. Maar daar is baie ander mense wat ook honger en dors na die waarheid. Dis einaardig, Pastoor, maar dis asof verskeie kerke in die omgewing die afgelope jare gekwyn het. Byna asof Satan op ’n baie meer persoonlike wyse hier betrokke is. Ashton was nie altyd so nie. Hier gaan snaakse dinge in hierdie omgewing aan. Ons het vriende wat die afgelope tyd al drie tot vier keer van kerk verwissel het.”
“Ja,” beaam June. “Daar is Greg en Eva Smith, die Barton’s, die Jenning gesin, Clint Neal en andere.”
“Die moeilikheid is die predikante preek nie die evangelie nie."
Mary kom aangestap en Hank stel haar aan die nuwe mense voor. Nadat hulle gegroet het, sê sy glimlaggend: “Hank ek wil jou voor stel aan...” Maar toe sy omdraai is daar niemand langs haar nie. “Haai, hy is weg.”
“Wie?” vra Hank verbaas.
“Daardie groot blonde man wat agter in die kerk gesit het. Ek het met hom gesels en . . .” sy frons effens, “hy het gesê ek moet jou sê die Here is met jou en die Here sê jy moet aanhou bid en aanhou luister.”
“Hmm, dis bemoedigend. Het hy sy naam gegee?”
“Nee, om die waarheid te sê hy het nie.”
“Van wie praat julle nou?” vra Andy geïnteresseerd.
“O,” antwoord Hank, “die groot blonde man wat daar agter langs julle gesit het.”
Vir ’n oomblik kyk Andy en June mekaar aan en dan klap Andy sy hande. Sy gesig straal. “Loof die Here!” sê hy opgewonde. “Pastoor, daar was niemand agter by ons nie, niemand nie. Ons het niemand gesien nie.”
Mary is stomgeslaan. Haar mond hang oop van verbasing.
Oliver Young is ’n prediker van ’n ander formaat. Hy het die gawe om sy gehoor met sy voordrag en hoë woorde vas te vang en hulle letterlik deur sy emosionele aanbieding om die vinger te draai. Hulle hang aan sy lippe. Die kerk is gepak. Die meeste lidmate is aan die Kollege verbonde, baie is dokters, onderwysers, advokate en ander professionele mense. En hulle geniet pastoor Young se boodskappe. Sommige neem notas, byna soos tydens ’n lesing, maar van ware geestelike krag is daar weinig sprake.
Marshall is al gewoond aan die tipe prediking en daarom hou hy homself besig om te beplan wat hy alles aan Young wil sê na afloop van die diens.
Young se stem gaan voort: “Het God nie gesê ‘Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger na ons beeld” nie? Wat beteken dit anders as dat ons almal die goddelikheid in ons het? Ons het in ons die kapasiteit en vermoë om die goeie te doen; ons het die potensiaal om as’t ware gode te word, gode wat gemaak is na die beeld van God, die oorsprong van alles . . ."
Marshall kyk vinnig na die mense langs hom. Kate luister aandagtiig en Sandy maak aantekeninge. Langs haar sit Shawn Ormsby. Hy het nou ’n gereelde besoeker geword en Marshall moet erken dat hy ’n goeie invloed op Sandy uitgeoefen het. Sy is baie rustiger en bestendiger.
"Wat staan my nou te doen?” wonder Marshall. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd is sy hele familie in die kerk en hy behoort dankbaar te wees. Maar wat ’n kerk? En die prediker op die kansel. . .
Hy wens meteens hy kon die hele spul laat vaar. Maar hy kan nie, want hy is ’n koerantman en Young het iets om weg te steek. Hy wat Marshall is, moet die waarheid uitvind . . .
Presies om twaalfuur is die diens verby en toe die gemeente begin uitstap, weerklink sagte, Christelike musiek vanuit die kerktoring. Almal groet en gesels, want pastoor Young neem altyd voor in die voorportaal plaas en groet sy gemeentelede een vir een wanneer hulle verbystap. Marshall en sy familie sluit ook by die lang ry aan.
Eiindelik is hulle aan die beurt. Young glimlag breed.
"Hallo, Marshall,” groet hy. “So bly om jou te sien.”
“Het u al vir Sandy ontmoet?” vra hy en stel sy dogter offisieel aan die predikant voor.
“So bly om jou te ontmoet,” se hy glimlaggend en draai dan na Shawn toe. “Shawn Ormsby, welkom.”
“Dan ken julle mekaar?” vra Marshall.
"Ja, ek ken Shawn al vandat hy ’n tjokkertjie is. Waarom is jy so skaars deesdae, Shawn?”
Shawn glimlag net en almal skuif verby. Maar Marshall huiwer en kom weer nader. Hy het nog heelwat om met Young uit te klaar.
Hy wag totdat Young die volgende groep afgehandel het en toe sê by vinnig: “Pastoor, ek wil net sê dit gaan nou beter tussen my en Sandy.”
Young glimlag en groet nog ’n paar ander mense. Skuins oor sy skouer sê hy aan Marshall: “Dis wonderlik. Ek is so bly.”
Toe daar weer ’n kansie kom, vervolg Marshall geselsend: “Sy het die boodskap vanoggend baie geniet. Sy sê dit is uitdagend en inspirerend.
“Dankie,” sê Young en groet dan nog ’n gemeentelid. “Hallo, meneer Beaumont. Bly om u te sien.”
“Dis eienaardig maar u preek stem in baie opsigte ooreen met wat Sandy in Juleen Langstrat se klasse leer,” gaan Marshall hardnekkig voort.
Young maak of hy nie hoor nie en groet ’n paartjie met ’n babadogtertjie.
“U sal een of ander tyd vir professor Langstrat moet ontmoet,” vervolg Marshall. “Daar is beslis ’n ooreenkoms tussen wat sy leer en wat u preek. Ek verstaan dat Langstrat nogal baie in die Oosterse godsdienste belangstel ...”
“Jammer, Marshall ek weet niks daarvan nie,” sê Young eindelik. “En u ken haar definitief nie?”
“Ek het mos so gesê,” antwoord Young kortaf.
“Ek beweer dat u op ’n gereelde basis private onderhoude met haar gevoer het — nie net u nie, maar ook Alf Brummel, Ted Harmel, Delores Pinckton, Eugene Baylor en ook regter Baker!” Meteens word Young rooi in die gesig en hy lyk baie selfbewus. Hy skud sy kop en se verleë: “Ag, hoe kon ek so ’n fout gemaak het. Natuurlik. Ek het haar met iemand anders verwar.”
“Dus ken u haar?” Young draai weg om nog mense te groet en toe hulle weg is, staan Marshall steeds langs hom.
“En hierdie private sessies?” dring hy aan. “Wat behels dit alles?” “Marshall, wat presies is jy besig om te doen?” vra Young en meteens is sy gesig koud.
“Ek doen net my werk. Dit wil my voorkom asof hier iets aan die gang is waarvan die inwoners van Ashton moet weet. Ek bedoel, as soveel van die belangrikste mense in die gemeenskap daarby betrokke is, moet dit mos nuuswaardig wees.”
“Waarom gaan praat jy dan nie met professor Langstrat self nie?”
“O ek gaan beslis. Ek wou u maar net die geleentheid gee om my vrae eerlik te beantwoord — iets wat u blykbaar nie wil doen nie.”
“Marshall,” sê Young gespanne. “As dit vir jou voorkom dat ek nie openhartig is nie, moet jy onthou dat daar sekere inligting is wat deur professionele kodes beskerm word.”
Kate roep dringend van die sypaadjie af: “Kom, Marshall, ons wag almal.”
Dus word die gesprek op hierdie ongemaklike noot beëindig. Marshall weet nie of hy bly of jammer moet wees nie. Maar een ding is duidelik — Young is ’n gladde kalant en nie jou maat nie . . .
Ver van Ashton af, in ’n eensame vallei omring deur hoë berge, is ’n aantal geboue opgerig. Die terrein is onherbergsaam en die geboue kan slegs deur een enkele grondpad bereik word. Nogtans is die omgewing mooi en die gras groen en op die oog af lyk alles rustig.
Dit was voorheen ’n beesplaas wat in verval geraak het en toe later opgeknap is. Tans behels die gebouekompleks ’n slaaplokaal, ’n kantoorkompleks, ’n eetsaal, ’n kliniek, ’n gebou waarin herstelwerk gedoen word en ’n paar private wonings. Alles is netjies, maar daar is geen aanduiding hoegenaamd deur wie die geboue besit en beheer word nie.
Skielik trek ’n swart streep deur die lug en ’n swart figuur begin na die gebouekompleks neerdaal. Dis Ba-al Rafar, die prins van die onderwêreld. Hy hou na aan die berge en beweeg rats heen en weer om die skerp rotse te vermy. ’n Donker wolk volg hom; en ’n rooi en geel rookdamp kom uit sy neusgate en wapper soos ’n lint agter hom aan.
Namate Rafar nader kom, sien hy die hordes bose geeste wat die omgewing bewaak, elkeen met ’n swaard in die hand. Die digste sametrekking is naby die groot dubbelverdiepinghuis en Rafar besef dadelik dat Sterkman daar moet wees. Hy kies dus koers in daardie rigting.
Die buitenste wagte sien Rafar en maak ’n pad vir hom oop. Terwyl hy na onder sweef, staan al die geeste op aandag, hulle swaarde gereed. Almal groet beleefd, maar hy steur hom nie aan hulle nie. Die geel oë van die hordes demone gluur hom aan, maar lok geen reaksie van hom uit nie. Wanneer hy by ’n groep verbyvlieg, maak hulle die gaping agter hom weer toe. Die beesplaas is deur ’n horde demone van die buitewêreld afgesny.
Hy sweef deur die mure van die huis, deur die solder, die slaapkamers en tot onder in ’n ruim woonkamer. Die atmosfeer in die kamer is dik en boosaardig, soos ’n draaiende, malende massa. Die kamer is stampvol.
“Ba-al Rafar, die prins van Babilon,” kondig ’n demoon aan en al die teenwoordiges buig laag. Rafar vou sy vlerke om hom toe en sy juwele glinster intimiderend. Sy groot geel oë bekyk die skare om hom. Dis ’n afskuwelike vergadering van demone uit alle wêrelddele. Hulle is almal groot en onoorwinlik, vurig en wreed en Rafar wonder of hy enigeen van hulle tot ’n geveg sal uitdaag. Om deur hulle met eerbied bejeën te word, is beslis ’n groot eer.
“Gegroet Rafar,” sê ’n gorrelende stem uit die een hoek. Rafar weet dadelik dis Sterkman, die groot heerser. Niemand kan dit waag om sy naam uit te spreek nie. Hy is een van die weiniges wat direk met Lucifer kommunikeer en hulle heers met ’n ysterhand oor demone soos Rafar en sy gelykes wat weer oor die laer klas demone koning kraai.
Sterkman kom orent en sy groot, groteske lyf vul ’n groot deel van die kamer. ’n Bose gloed straal van hom uit en hang swaar oor almal. Sy gesig is vol groewe en skeure, swart, donker en aaklig. Juwele glinster om sy nek en aan sy arms en sy reuse-vlerke omvou sy lyf soos ’n koninklike kleed.
“Gegroet my heer,” sê Rafar en buig laag voor die imposante figuur.
“Lyk my ons word steeds vertraag,” sê hy. Hy is nie iemand wat baie praat nie.
“Lucius se foute word nou herstel. Binnekort sal die dorp ons s’n wees.”
“En die Hemelse Leërskare!”
“Hulle is nie baie nie.”
Sterkman kyk Rafar ondersoekend aan asof hy hom nie glo nie. En Rafar vervolg stadig: “Ons het gerugte gehoor dat die Kaptein van die Leërskare Ashton toe kom. U ken hom seker?”
“Ek het verneem dat Tal soontoe gestuur is,” roggel die groteske demoon. Sy groot rooi oë vlam dreigend: “Maar ek is gereed vir hom.” Hy kyk Rafar fronsend aan. “Is dit nie hy wat jou tydens die val van Babilon oorwin het nie?”
“Ja, dit is Tal,” antwoord Rafar verleë.
“Dis sleg. Ons het nie meer ’n voorsprong op hulle nie. Dinge verloop nie na wense nie.”
“O my heer, ons sal sake regstel.”
“Woorde is maklik Rafar, maar ek soek dade. Die tyd word min.”
“Alles sal gereed wees.”
“En wat van die pastoor en die koerantman?”
“Hulle sal binnekort heeltemal geneutraliseer wees, my heer.”
“Slegs as julle Tal kan vernietig. Nee Rafar, ons bly voorlopig net hier. Julle moet sake daar regkry. En luister baie mooi — ek is haastig. Ek wil nie meer wag nie —”
“Dit sal nie nodig wees nie, my heer.”
“Weg is jy. Jy het jou bevele!” Sterkman lag sinies. “Ek soek da-de en nie leë beloftes nie.”
Rafar buig laag, span sy vlerke oop en vlieg weg. Toe hy buite is, is dit asof hy in woede uitbars. Hy sweef opwaarts met soveel spoed en krag dat demone na alle kante geslinger word. Al vinniger en vinniger vlieg hy. Sy warm swawel-asem is soos ’n wolk wat hom omgewe. Hy styg bokant die berge uit en kies dan koers terug na Ashton. Hy is so kwaad dat hy nie eers omgee wie hom sien nie. Laat die hele wêreld weet, hy is Rafar, die prins van Babilon!
Tal. . . hoe haat hy nie daardie naam nie! Hy sal nooit daardie neerlaag van lank gelede vergeet nie. Maar eendag is eendag, dan sal hy wraak neem. Hy kan al sien hoe hy Tal met sy swaard aan stukke kap.
Tussen die bergspitse kom ’n man skielik te voorskyn. Hy kyk Rafar se vlieënde figuur ’n oomblik agterna. Dan staar hy terug na die beesplaas en die gebouekompleks. Hy bekyk alles baie goed en dan draai hy om en verdwyn aan die anderkant van die berg in ’n silwer gloed met ’n geruis van vlerke.
Vervolg...