Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom leer ons so baie uit ons ellendes en so min uit ons vreugdes? Is dit omdat vreugde iets buitemensliks is, dat ons nie toegerus is daarvoor nie? In die Here is ons egter volkome toegerus om die vreugde wat Hy alleen ons kan gee te ervaar.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (13)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Marshall besef dat hy een of ander tyd met Juleen Langstrat moet praat. Hy skakel die universiteit om haar te kontak, maar word ingelig dat sy die dag vry het. Die sekretaresse deel hom mee dat sy wel ’n privaatfoon het, maar die nommer verskyn nie in die boek nie.
Omdat hy haastig is, besluit hy om Darr te kontak. Hy is gelukkig om die man in die hande te kry en hy is maar te gewillig om te help. Hy het Juleen Langstrat se privaatnommer en sonder meer verstrek hy dit aan die koerantman. Marshall skakel die nommer. Maar dis besig.
Juleen Langstrat se woonkamer is dofweg verlig. Die gordyne is toegetrek en net een lampie brand op die kaggelrak. Die telefoon is ook van die mikkie afgehaal.
Juleen Langstrat sit op haar stoel en praat met die persoon wat regoor haar sit.
“Jy hoor slegs my stem . . . net my stem . . . alle ander geluide is uitgedoof,” sê sy in ’n singerige stemtoon. “Jy hoor slegs my stem."
Verskeie minute hou sy so aan totdat die ander persoon in ’n hipnotiese toestand verkeer.
“Jy daal neer . . . diep binnekant ... in jou eie self in . . .” Langstrat hou die gesig dop. Dan strek sy haar hande uit tot naby die ander persoon. Sy maak swewende handbewegings, asof sy na iets soek. “Laat jouself gaan . . . laat los. Kan jy voel hoe jy met my energie versterk word?”
“Ja . . . ja . . .” kom die fluisterende antwoord.
“Nou is jy vry . . . vry . . .” Langstrat leun vooroor en haar hande beweeg steeds op en af.
“Ja . . . ek . . . ek is vry . .
“Jou innerlike energie word vrygestel . .
“Ja, ek voel dit.”
“So ja, dis genoeg vir vandag.” Langstrat hou die figuur stip dop. “Jy gaan nou terug. Ek kan voel hoe jy wegsweef. Moenie bang wees nie. Ek is nog hier . . .”
Gedurende die volgende paar minute bring sy die gehipnotiseerde weer stap vir stap na die werklikheid toe terug. Eindelik sê sy: “Ek tel drie en dan sal jy wakker wees. Een . . . twee . . . drie . . .”
Sandy Hogan word stadig wakker. Haar oë dop eenmaal om. Sy haal diep asem. “Sjoe,” sê sy opgewonde.
“Hoe was dit?” vra Shawn, wat langs Langstrat sit.
“Wonderlik,” antwoord sy en al drie lag saam. Dis die eerste keer dat sy so iets ondervind en dit was Shawn wat aangedring het. Sy was eers huiwerig maar nou voel sy bly. Dit was ’n belewenis.
Sy en Shawn staan op om terug universiteit toe te gaan. Toe hulle Langstrat groet sê sy vertroulik: “Ek sou nie hierdie aangeleentheid met ander bespreek nie, Sandy. Dis net tussen ons.”
“Natuurlik, Professor. Baie dankie.”
Dis weer Vrydag en Hank voel redelik gespanne. Dis byna tyd vir Carmen se afspraak en Mary is nog nie tuis nie. Hy het haar so mooi gevra om gou te kom, want hy wil onder geen omstandighede alleen met Carmen verkeer nie. Al wat hy nou nog nodig het, is dat iemand hom beskuldig dat hy Carmen sien wanneer Mary nie tuis is nie. Aan die ander kant, dis sy werk om mense te help en na hulle probleme te luister, maar as Carmen nie beslis aanduidings gaan gee dat sy baat vind by sy hulp nie, gaan hy die besoeke beëindig. Hy mag nie kanse waag nie.
O tog, daar lui die voordeurklokkie. Hy loer deur die venster en sien Carmen se rooi motortjie in die straat geparkeer. Almal in die omgewing kan die motor sien. Hy sien haar aankom en sy is so uitdagend aangetrek, dat hy die benoudheid oor hom voel toesak. Ag waar is Mary tog? Waarom kom sy nie?
Mary het probleme van haar eie. Sy hou glad nie van die nuwe eienaars van Joe se Supermark nie. Dis nie dat die diens swakker is of dat hulle snaaks is nie, maar wat haar hinder is hulle onwilligheid om iets oor Joe en sy familie te sê. Wat het van Joe Carlucci en sy gesin geword? Dis wat Mary bekommer. So ver sy kan vasstel, het Joe, Angelina en die kinders Ashton skielik verlaat en niemand weet wat van hulle geword het nie.
Sy is haastig en stap agter die seuntjie aan wat haar trollie met kruideniersware stoot. By die motor gaan hulle staan. Sy sluit die kattebak oop en hulle begin die pakkies inlaai.
Skielik voel sy ’n koue angs wat oor haar toesak — onverklaarbaar en onbegryplik. Sy begin bewe en haar hart klop vinnig. Sy weet net een ding; sy wil hier wegkom, so gou moontlik.
Triskal wat by haar is, voel dit ook dadelik aan. Hy gryp dadelik sy swaard en hou dit gereed. Maar dis te laat! Van agter af tref ’n geweldige hou hom en hy val vooroor. Sy twee vlerke skiet uit, maar ’n loodswaar gewig slinger op hom neer en pen hom vas! Hy sien die pote, aaklige kloue soos dié van reptiele, hy hoor die hygende asemhaling en die uitdagende gelag.
Triskal kyk of Mary nog reg is. Hy sal iets moet doen, anders gaan hulle haar toetakel. Maar wat kan hy doen? In daardie oomblik daal ’n onbeskryflike gewig van onheil oor hom neer.
“Tel hom op!” beveel ’n stem, dreigend soos donderweer.
’n Ysterhand lig hom op asof hy ’n speelding is. Hy sien baie demone, vreemdelinge wat hy nog nooit in Ashton gesien het nie. Hulle liggame is met dik skubbe bedek en hulle arms is sterk en gespierd. Hulle tart hom en die swaweldampe verstik hom byna. Dan draai hulle om sodat hy in die ander rigting kyk.
Hy deins terug in skok en ontsetting. Die afskuwelike gesig voor hom, laat hom na asem hyg. Die kolossale figuur, met die groot S-vormige swaard, kan niemand anders as Rafar wees nie. Rafar! Triskal sidder by die gedagte. Dis soos ’n doodsvonnis. Hy kan al die houe en die vreeslike pyn voel.
Die groot mond met gekromde slagtande drup speeksel en slym en ’n afgryslike gelag wel op uit die dieptes van die demoon se buik. Swaweldampe omgewe Triskal.
“Is jy verbaas?” vra Rafar spottend. “Jy behoort geëeerd te voel. Jy, klein engel, jy is die eerste een om die grote Rafar te sien.”
“Hoe gaan dit vandag?” vra Hank en beduie na ’n stoel in sy kantoor. Carmen sak daarin neer en glimlag verleidelik. Hank wonder onwillekeurig waar sy bandmasjien is. Dit sou goed gewees het om die gesprek op band op te neem, net ingeval!
“O, baie beter dankie,” sê sy. “Weet jy, ek het die hele week geen stemme gehoor nie. Ek kan dit byna nie glo nie.”
“Dis wonderlik,” reageer Hank en probeer sy gedagtes by die onderboud bepaal.
Triskal kyk angstig na Mary. Sy het pas die kattebak gesluit. Rafar lag spottend.
“O so, jy moet haar beskerm! Arme engel. Dink jy ons is hier om kinderspeletjies te speel?” Sy stem word aggressief. “O nee, dis groot sake waarmee ons besig is.” Rafar slaan met sy swaard op die grond en Triskal voel hoedat sterk arms hom van agter vaspen. Hy hou sy oë op Mary. Sy haal die motorsleutel uit. Dan klim sy in. Skielik skiet ’n demoon neer en slaan met sy swaard op die dak. Mary probeer die motor aanskakel, maar dit wil nie vat nie.
Rafar sien ’n vuilerige, onversorgde jongman wat eenkant teen ’n paal aanleun. Verskeie van Rafar se handlangers skuil in die man en op Rafar se bevel, gaan hulle tot aksie oor. Die jongman kom in beweging en kom ewe luiters na Mary toe aangestap.
Intussen worstel Mary nog om die motor aan die gang te kry. Nee, sy het nie die ligte aangelaat nie. Die radio speel en die toeter werk. Dan sien sy die man wat aangestap kom. Dankie tog. Miskien sal hy kan help.
Terwyl Triskal magteloos toekyk, lei die demone die jongman na die motor toe.
“Toe Poppie, hoe lyk dit,” begin hy. “Het jy probleme?”
Mary staar hom benoud aan. Sy swart leerklere is vuil en talle kettings hang om sy nek en arms.
“Nee dankie,” roep sy deur die venster. “Ek sal regkom.”
Maar hy lag net en kyk haar op en af.
“Toe, maak oop. Ek sal kyk of ek kan help.”
Hank voel gespanne en ongelukkig. Waar bly Mary so lank? Hy probeer konsentreer op wat Carmen sê. Hy moet erken sy praat hierdie keer baie meer sinvol en hy kan agterkom dat sy graag haar probleme wil oplos.
“Wat dink jy het van daardie nagtelike stemme geword?” vra hy.
“Ek luister nie meer na hulle nie,” antwoord sy. “Dis iets wat jy my geleer het. Daardie stemme is nie werklik nie. Dis sommer my verbeelding.”
“Ja, ek dink jy’s reg,” stem Hank simpatiek saam.
“Ek het probeer om van my eensaamheid ontslae te raak,” verduidelik sy en haar groot blou oë rus vertroulik op hom. “O Pastoor, jy is so sterk en selfversekerd. Ek wens ek kon ook so wees.”
“Die Bybel sê ons is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee,” verduidelik Hank.
“Ja . . . e . . . maar waar is jou vrou?”
“Sy het kruideniersware gaan koop. Behoort enige oomblik terug te wees.”
“O . . .” Carmen leun vooroor en glimlag verleidelik. “Ek put werklik soveel krag uit hierdie geselsies. Regtig, Pastoor, dit beteken vir my so baie.”
Mary se hart klop onstuimig. Wat gaan hierdie vent nou doen? Hy leun teen die venster aan.
“Toe Skattie, waarom sê jy my nie jou naam nie? Ons kan mos vriende wees.”
Triskal voel hoedat sy kop omgepluk word. Dit voel asof sy nek gaan breek. Dan is Rafar se gesig reg voor hom. Die swawelasem blaas in sy gesig.
“Engel, nou gaan jy praat,” se Rafar dreigend. “Waar is jou Kaptein?” Triskal antwoord nie. Rafar pluk sy kop om sodat hy weer na Mary kyk. Die man probeer die motordeur oopmaak, maar Mary het dit gesluit. Sy is angsbevange. Daar is ’n grysende glimlag op sy gesig. Mary druk die toeter om hulp te ontbied. Maar dit werk nie. ’n Demoon het dit beetgekry.
Rafar buig Triskal se kop weer om en vra dreigend: “Waar is jou Kaptein?”
Carmen is nou goed op dreef. Sy vertel Hank hoeveel die gesprekke vir haar beteken, hoe baie hy haar aan haar eertydse eggenoot herinner en die jong pastoor besef dat hy iets sal moet doen. Sake raak nou moeilik.
“Is daar ander mense in jou lewe op wie jy kan steun?” probeer hy desperaat om die aandag van homself weg te kry.
Sy kyk hom half weemoedig aan: “Ag sê maar so. Daar is mense wat soms belangstel, maar dit hou nie juis nie. Ek wonder, dink jy ek is aantreklik?”
Die man in die swart leer, treiter Mary met verskriklike voorstelle en onwelvoeglikhede. Hy begin teen die ruit slaan. Rafar beduie vir ’n demoon en hy reik deur die venster om die deur oop te maak. Die demone wat in die jongman skuil, is gereed om tot aksie oor te gaan.
“Toe, waar is.jou Kaptein?” herhaal Rafar dreigend en maak seker dat Triskal die situasie begryp. Triskal is desperaat. Wat moet hy doen? Hy wurg in Rafar se greep. Hees fluister hy: “Die rem . . . die rem...
“Wat sê jy?” gil Rafar.
“Die rem ...” herhaal Triskal wanhopig.
Skielik kry Mary ’n ingewing. Sy maak die rem los. Die motor is teen ’n afdraande geparkeer. Meteens kom die motor in beweging. Die aanvaller het dit nie verwag nie. Hy slaan teen die ruit en probeer dan voor die motor inkom om dit te stop, maar hy sien gou dat die voertuig te vinnig spoed optel. En ander verbygangers begin nou agterkom dat iets gaande is.
’n Vragmotorbestuurder wat eenkant staan, besef meteens dat alles nie pluis is nie. Hy kom dreigend nader: “Toe, wat maak jy, kêrel?”
Rafar sien wat gaande is. Sy vuis verstewig om Triskal se keel. Triskal verwag enige oomblik dat sy nek sal breek. Maar dan, onverklaarbaar, staan Rafar terug.
“Dis genoeg,” beveel hy sy trawante. Hulle tree dadelik terug en die jongman loop ewe onskuldig weg. Mary se motor tel spoed op. Sy hoop net dat sy sonder probleme in die hoofstraat sal kan indraai. Uit die hoek van sy oog sien Triskal dat sy dit sal maak.
Rafar sien dit ook. Hy gluur Triskal aan. “Hierdie keer het jy geslaag klein engel, maar volgende keer sal dit anders wees. Ek sal jou vandag spaar. My volgelinge sal jou so ’n bietjie onder hande neem.” En met die woorde slinger hy Triskal na die demone toe.
Vir die volgende paar minute skop en slaan die demone die magtelose engel terwyl Rafar goedkeurend toekyk. Eindelik hou hy sy hand omhoog en gee ’n growwe bevel. Dadelik laat hulle Triskal gaan. Hy val op die grond neer en Rafar se swaar voet druk op sy nek neer..
“Se vir jou Kaptein ek soek hom. En ek sal hom kry.”
Skielik is al die demone weg en Triskal is alleen, ’n totale wrak. Al waaraan hy nou kan dink, is Mary.
Hank neem Carmen se hand van sy knie af en plaas dit op haar skoot. Hy kyk haar met deernis, maar tog ook met beslistheid aan. Dan leun hy terug sodat hy ’n veilige afstand van haar af is.
“Carmen,” begin hy, “ek moet seker gevlei voel dat jy so baie van my dink. Maar ek is oortuig dat jy die kwaliteite het wat die regte man na jou sal aantrek. Jy soek ’n man met wie jy ’n permanente verhouding kan aangaan, iemand wat vir jou sal omgee en jou sal bystaan. En ek moet vandag eerlik wees — ek is nie daardie man nie. Eerstens is ek getroud en tweedens is ek ’n predikant, daarom moet ons hierdie gesprekke baie beslis onpersoonlik hou.”
Carmen is baie omgekrap en dis duidelik dat sy aanstoot geneem het. Sy wil nog argumenteer, maar Hank hou voet by stuk. Die afsprake moet beëindig word. En Hank besef dadelik dat hy ’n oorwinning behaal het — oor wie of wat weet hy nie. Maar hy weet dit! In Carmen se oë sien hy ’n ysige blik, ’n vreemde koudheid wat hom laat wonder.
Mary huil en bid tegelyk. Die motor spoed voort. Desperaat roep sy uit: “O Here, bewaar my, red my, asseblief.”
Eindelik begin die spoed afneem. Stadiger en stadiger gaan die motor. Mary loer oor haar skouer, maar daar is geen agtervolger nie. Selfs die wete kan haar nie eers troos nie. Sy het net een gedagte en dis om by die huis te kom.
Dan verskyn Triskal op die toneel. Sy vlerke is geskeur na sy onlangse krisis, maar hy daal oor die motor neer en die spoed neem steeds af. Hy steek sy hand deur die venster en plaas dit op Mary se skouer.
“Jy’s veilig Mary,” troos hy. “Jy’s veilig.” Sy loer weer oor haar skouer en begin dan effens kalmeer.
Die motor het nou feitlik heeltemal tot stilstand gekom. Mary bestuur van die pad af na ’n parkeerplek. Sy hou stil en sit ’n paar minute roerloos om haar selfbeheer te herwin.
“Wees stil” bemoedig Triskal. “Die Here is naby.”
Triskal vroetel voor by die motor. Dan fluister hy deur die venster. “Probeer weer, Mary. Miskien sal die motor nou vat. Vertrou die Here. Toe, Mary.”
Mary besluit om nog een maal te probeer. Sy druk die aansitter en daar dreun die enjin. Sy glimlag verlig en trek dan weg, met een doel voor oë om by die huis en by Hank te kom. Triskal sit steeds bo-op die dak.
Hank is intens verlig toe hy die motordeur hoor toeslaan.
“Dis seker Mary,” sê hy toe hy op die been kom.
“Dan moet ek nou gaan,” se Carmen nog steeds omgekrap na die onlangse konfrontasie.
“Wag net dan kan jy Mary groet,” sê Hank.
“Nee, ek sal sommer by die agterdeur uitgaan.”
“Nonsens,” sê Hank geirriteerd. “Ek moet Mary met die kruideniersware gaan help. Ek stap saam.”
Mary het egter van die kruideniersware vergeet. Sy wil net in die huis kom en by Hank wees. Triskal draf langs haar, mank en met geskeerde klere. Toe Hank die deur oopmaak, deins hy terug. Mary se oë is vol trane; sy kyk hom ontsteld aan.
“Mary, liefste, wat het gebeur? Jy’t gehuil.”
Carmen verskyn agter Hank en begin skielik gil — deurdringend: “NEE . . . NEE . . .” skreeu sy. “Gaan weg van my af! Is jy gek?” Geskok kyk Hank en Mary toe. Carmen gaan soos ’n malmens te kere. Sy slaan met haar vuiste asof sy ’n onsigbare aanvaller van haar af wil wegkeer. Sy is woedend kwaad en struikel oor meubels terwyl die vreeslikste vloeke oor haar lippe kom. By tye is haar gesig byna onherkenbaar vertrek.
Triskal se hele liggaam is skitterwit en hy glinster van ’n hemelse heerlikheid. In sy hand is sy swaard waarmee hy die demoon Hartstog wat in Carmen skuilhou, aandurf. ’n Bloedige stryd woed, iets wat die menslike wesens nie kan sien nie. Krioni kom nader om Triskal terug te hou, maar Triskal is nog so bewus van sy onlangse vernedering en marteling dat hy verwoed voortveg. Die swaarde flits teen mekaar en vonke spat behoorlik.
“Los my uit! Los my uit,” gil Hartstog benoud.
“Hou op Triskal,” keer Krioni. “Jy weet ons mag nie nou al veg nie. Hou op.”
Eindelik kry Krioni dit reg om Triskal tot bedaring te bring. Sy gesig gloei nog van woede en aggressie. Carmen begin geleidelik bedaar. Hank en Mary kyk haar geskok en onbegrypend aan.
“Wat gaan aan, Carmen?” Mary is baie ontsteld. “Dis net ek . . . Mary. Het ek iets verkeerds gedoen?”
“Nee . . . nee, dis nie jy nie. Dis iemand anders.”
“Iemand anders? Wat bedoel jy?”
Hartstog tree terug en vou sy vlerke oop. Krioni beveel hom om die plek te verlaat.
“Ek was juis onderweg uit,” sis hy.
“Ek is juis onderweg uit,” sê Carmen en probeer haarself kalmeer. “Hier is ’n slegte atmosfeer in hierdie plek.” Die volgende oomblik is sy by die deur uit. Mary roep nog agterna, maar sy luister nie. Hank neem Mary aan die arm en lei haar na binne.
“Triskal,” raas Krioni, “waarom het jy dit gedoen? Jy ken Tal se opdrag. Waarom?”
“Ek is jammer . . . ek kon nie weer ingee nie.” Triskal praat met moeite en toe sien Krioni al sy wonde.
Skielik begin Mary huil. Die gebeure van die oggend is te veel en sy snik haar hart uit. Hank kom nader en druk haar teen sy bors vas.
“Maak net die deur toe,” smeek sy. “Maak net die deur toe en hou my vas.”
Vervolg...