Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie maar moet met die daad bewys word en dan in opregtheid. Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort. (Hierdie wyse raad is vir ons geskryf in 1 Johannes 3:18-19)
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (33)
Frank Perreti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Sandy Hogan bekyk haar gesig nog een maal in die spieel in Shawn Ormsby se badkamer. Lyk sy goed genoeg vir die geleentheid? ’n Gespanne opwinding knaag aan haar binneste. Shawn het haar ingelig dat professor Langstrat besluit het om haar die geleentheid te bied om ’n spesiale inisiëringseremonie by te woon. Omdat sy sulke goeie psigiese kwaliteite openbaar, sal sy nou toegelaat word om by ’n internasionale gemeenskap aan te sluit. Dit is ’n besondere eer wat slegs aan persone van buitengewone psigiese bekwaamhede toegestaan word.
Sy kan dit nog nie glo nie! Sy sal nou in die geleentheid gestel word om uitstaande spiritiste van dwarsoor die wêreld te ontmoet en die moontlikhede wat dit bied om persoonlik te ontwikkel, is onbeperk. Wat ’n voorreg om deel te wees van so ’n uitgelese groep.
Het Madeline dalk iets met hierdie uitnodiging van professor Langstrat te doen? Het sy dit dalk gereël? Diepe dankbaarheid wel in Sandy se binneste op. Sy moet Madeline bedank wanneer hulle mekaar weer sien.
In die Basuin se kantore het Kevin, Bernice en Susan al die inligting en bewyse wat hulle bymekaar gemaak het, uitgesorteer en op ’n veilige plek weggesteek.
Hulle het fotostate van alles gemaak en ook alle moontlike ontsnappingsroetes bestudeer. Al drie van hulle besef dat hulle die nodige bewyse het, maar dat die kanse om weg te kom en dit by die betrokke outoriteite te kry, maar skraal is.
Die telefoon lui en soos die vorige kere laat hulle die antwoord masjien sy werk doen. Maar toe ’n stem begin praat en ’n boodskap gee, ruk Bernice orent. Die stem se: “Dis Harvey Cole. Ek het daardie rekeninge wat julle gegee het, nagegaan en . . .”
Die volgende oomblik gryp Bernice die gehoorbuis. Haar hart klop met moeisame slae en haar voorkop is natgesweet: “Hallo! Harvey, dis Bernice.”
Susan en Kevin staar haar verskrik aan: “Wat doen jy, Bernice? Almal sal nou weet waar ons is,” roep Susan uit.
“O, dus is jy in die Basuin se kantoor,” sê Harvey. “Ek het al oral na jou gesoek. Toe hoor ek jy is gearresteer, maar . . .”“Harvey . . . luister. Het jy ’n pen?”
“Ja, ek het.”
“Goed. Bel asseblief my oom, Jerry Dallas. Sy nommer is 240-9946. Sê vir hom jy ken my en dis ’n noodgeval. Ek het inligting om aan Justin Parker voor te lê . . .”
“Nie so vinnig nie.”
Bernice herhaal alles en vervolg dan met nadruk: “Hierdie telefoon het waarskynlik ’n luisterapparaat aan en moontlik luister Alf Brummel of sy personeel na ons gesprek. Maak dus asseblief seker dat as iets met my gebeur die inligting nogtans aan die staatsaanklaer oorhandig sal word. En vra Justin Parker om ons hier te kontak, indien moontlik.”
“Goed, maar ek wil net sê dat ek vasgestel het dat fondse gereeld uitbetaal is, maar ek weet nie aan wie nie . . .”
“Ons het daardie inligting bekom. Ons het al die nodige gegewens en bewyse. Vertel dit alles aan my oom.”
“Reg so.”
Susan en Kevin kyk Bernice kopskuddend aan. Sy trek haar skouers op en sê met ’n sug: “Dis ’n waagstuk — ons kan maar net vertrou.”
Die telefoon lui weer en hulle skakel die antwoordmasjien aan. Dan klink ’n stem tot hulle deur: “Marshall, dis Al Lemley. Luister, hier is federale agente wat baie in Kaseph belangstel. Hulle is glo al ’n geruime tyd op sy spoor. Hulle vra of jy enige bewyse teen hom het . . .”
Weer gryp Bernice die gehoorbuis. Sy kan haar ore nie glo nie!
“Al Lemley? Dis Bernice Kreuger. Ek werk vir Marshall. Kan u dalk daardie agente vandag hier na Ashton toe bring?”
“E . . . waar’s Marshall?”
“In die tronk — op ’n valse aanklag. Kaseph het alles geïnisieer. Hy beplan om Whitmore Kollege vandag oor te neem. Dis ’n lang storie maar ons het baie dokumente om ons bewerings te staaf.”
“Dit klink goed. Ek sal alles in my vermoë doen om hulle deur te bring. En die ouens wat moontlik inluister, moet versigtig wees. Ek waarsku hulle sommer nou oor die foon. Ons sal nie langer met ons laat speel nie.”
“Probeer om voor twee vanmiddag by die Administratiewe Gebou van Whitmore Kollege te wees,” beëindig Bernice die gesprek. Kevin en Susan kyk haar hoopvol aan. Voordat hulle nog iets kan se, lui die telefoon weer en hierdie keer wag Bernice nie. Sy gryp die gehoorbuis.
“Hallo, dis Norm Mattily, prokureur-generaal. Ek wil graag met Marshall Hogan praat,” sê ’n stem in haar ore.
‘“Meneer Mattily, dis Bernice Kreuger hier. Ek werk vir Marshall Hogan,” antwoord Bernice opgewonde.
“Hmmm . . . e . . " reageer Mattily en dis duidelik dat iemand langs hom staan en met hom praat, . . ja, Eldon Strachan is hier by my en hy het my vertel dat daar probleme in Ashton is . .."
“Groot probleme en sake word vandag op ’n spits gedryf,” val Bernice dringend in die rede. “Ons het waterdigte bewyse gekry. Hoe gou kan u hier wees?”
“Wel, ek het nie eintlik beplan om soontoe te kom nie.”
“Meneer Mattily, die dorp Ashton word vanmiddag om twee- uur deur ’n internasionale terroristegroep oorgeneem,” verduidelik Bernice.
“Wat?” Mattily praat dringend met Strachan langs hom. Dan weer met Bernice: “Waar’s Marshall Hogan? Strachan is bekommerd oor sy veiligheid.”
“Hy verkeer beslis in gevaar. Gisteraand het van die plaaslike boewe ons twee aangeval. Marshall het hulle besig gehou en ek het ontsnap. Wat van hom geword het, weet ek nie met sekerheid nie.”
“Absoluut ongelooflik. Maar ek sal waterdigte bewyse nodig hê.”
“Ons het dit, meneer Mattily. Kom asseblief dadelik en bring die polisie saam met u — die regte polisie en nie Brummel se agente nie.”
“Ek hoop net nie dis sommer ’n sinlose gejaag na wind nie.”
“Ek verseker u dis lewensbelangrik. Probeer om voor twee vanmiddag by die Administratiewe Gebou van Whitmore Kollege te wees.”
“Goed, ons sal kom.”
Toe Bernice die gehoorbuis neerplaas, lui die foon onmiddellik weer. Sy tel op en luister verslae na die stem.
“Dis die staatsaanklaer, Justin Parker. Met wie praat ek nou?”
Verbysterd staar die drie mekaar aan. Dan sê Bernice met haar hand oor die mondstuk gehou: “Nou weet ek, daar is ’n God.”
* * *
Alf Brummel weet dat hy nie langer van die polisiekantore kan wegbly nie. Sake is besig om hande uit te ruk en die spanning neem elke oomblik toe. Eindelik is hy in sy motor onderweg na die hofsaal en polisiekantore toe. Toe hy daar aankom, is die Christene nog besig om lofliedere tot eer van die Here te sing. Hy wil eers omdraai en wegry, maar besef dat hy dit nie kan doen nie. Hulle het hom reeds gesien. Met ’n gevoel van dreigende onheil, parkeer hy sy motor. Die mense sak om hom toe soos ’n swerm verwoede bye.
“Waar was jy al die tyd, Brummel?”
“Wanneer word Hank op borgtog uitgelaat?”
“Mary wil hom graag sien.”
“Jy weet tog Hank het niemand verkrag nie. Waarmee is julle besig?”
Verbouereerd probeer Brummel om gemoedere te kalmeer. Met ’n besorgde glimlag vra hy: “Waar is Mary?”
“Daar op die trappe van die hofsaal,” antwoord iemand en Brummel kies koers soontoe. Toe hy nog ver is, roep Mary al uit: “Ek wil my man sien, meneer Brummel! Hoe durf u toelaat dat hy so behandel word?”
Brummel skrik. Hy het Mary Busche nog nooit in sy lewe so kwaad en aanvallend gesien nie.
“O . . . e . . . Mary, ek is so jammer. Dis ’n regte malhuis. Ek was weg . . .”
“Moenie verskonings maak nie,” gaan sy voort. “U weet Hank is onskuldig.”
Almal om hulle beaam haar woorde. Brummel voel soos ’n vasgekeerde. Hy besluit om sy gesag uit te oefen.
“Luister hier! Niemand is verhewe bo die wet nie, ook nie Hank Busche nie. Hy is aangekla van ’n seksuele misdryf en dit is my plig om die saak te ondersoek. Ek kan dit nie help dat ons vriende en medegelowiges is nie ...”
“Twak!” klink ’n harde stem langs hom en Brummel kyk vas in die gesig van sy ou vriend, Lou Stanley. Die man staan reg langs Brummel, sy een hand op sy sy, die ander hand na Brummel toe uitgestrek en hy praat driftig: “Alf, jy weet baie goed dat jy meegehelp het om hierdie situasie te skep. Jy het dikwels in die verlede daaroor gepraat. Ek is bereid om in enige hofsaak teen jou te getuig.”
Al die omstanders klap hande en juig. Dan tree Gordon Mayer, die tesourier van die kerk, na vore en ook hy wys beskuldigend na Brummel.
“Sameswering is iets wat nie geduld kan word nie, Alf. Jy is besig om jou hele toekoms op die spel te plaas.”
Verbouereerd tree Brummel terug totdat hy met sy rug teen die muur staan. Sy eertydse vriende draai almal teen horn. Dan sien hy Bobby Corsi en die jongman se ernstig: “Onthou u my nog? Ek werk nou vir ’n ander Baas.”
Nou is Brummel totaal ontsenu. Hy tree die polisiekantoor binne asof hy daar skuiling wil soek. Andy Forsythe stap saam met hom en sê dringend: “Wat van Mary? Sy wil haar man sien.”
“Ek . . . ek sal kyk wat ek kan doen,” sê hy hees. “Gee my net ’n paar oomblikke, asseblief.”
Toe hy binne is, draai hy soos blits om en sluit die deur agter hom. Die groep mense druk tot teen die deur aan en dam daar op. Brummel se sekretaresse kyk verskrik op.
“Moet . . . moet ek die polisie ontbied?” vra sy verbouereerd. “Nee,” sê Brummel. “Dis vriende van my.” Met die woorde stap hy sy kantoor binne en maak die deur toe. Sy hele liggaam bewe. Dis alles Juleen se skuld. Hy is siek en sat vir die hele affêre. Hy kan nie langer so voortgaan nie.
* * *
Op sy lessenaar lê ’n nota van Sam Turner. Hy versoek Brummel om hom te bel. Die polisiehoof lig die gehoorbuis en skakel die nommer.
“Hoe lyk dinge, Sam?” vra hy gespanne.
“Nie goed nie. Ek bel nog die hele oggend. Die gemeentelede glo nie hierdie verkragtingstorie nie. Hulle sal Busche beslis nie uitstem nie. Nee, Alf, jy het ’n gemors van sake gemaak.”
“O so, nou’s dit my skuld,” sê Brummel verontwaardig. “Was dit nie ook jou idee nie?”
“Hoe durf jy so iets sê,” reageer Turner dreigend. “Ek het niks met die saak te doen nie.”
“Sam, ons was tog saam in hierdie saak. Nou maak jy of jy niks daarvan weet nie.”
“Jammer, Maat. Dit het nie gewerk nie en ek tree nou uit. Ek wil niks verder met die hele besigheid te doen he nie. En jy beter ook die saak heroorweeg, anders beland jy in ’n mooi gemors.”
“Baie dankie vir die hulp,” sê Brummel sarkasties en plaas die gehoorbuis neer. Hy kyk na die oorlosie. Dis byna halftwaalf en om twee-uur neem die belangrike vergadering ’n aanvang. Dan skiet die gedagte aan Sandy hom te binne. Wat moet hy in verband met haar doen? Juleen wil hê hy moet Hogan afdreig, en as sake verkeerd loop, sit hy in die gemors. En Bernice Kreuger — wat het van haar geword? Hoeveel slapende honde het sy nie dalk al wakkergemaak nie.
Hy stap deur en vra een van die polisiemanne op kantoor of enige nuus in verband met Kreuger ingekom het. Die man antwoord ontkennend.
“En by die Basuin se kantore? Is daar niks nie?”
“’n Vreemde motor staan buite geparkeer. Dis ’n vreemde registrasienommer en ons het dit nog nie opgespoor nie,” sê die polisieman.
“Nou vind dadelik uit aan wie die motor behoort,” grom Brummel ontsteld. “Daar is dalk iemand binnekant.”
“Hulle het niemand opgemerk nie ...”
“Sê hulle moet binnekant kyk.”
Skielik praat die telefoniste: “Bernice Kreuger wil met u praat, meneer Brummel. Moet ek haar deurskakel?”
“Nee,” gil Brummel. “Ek sal in my kantoor met haar praat.” Hy drafstap na sy kantoor en slaan die deur agter hom toe.
“Hallo,” sê hy gespanne.
“Meneer Brummel? Dis Bernice Kreuger. Dis tyd dat ons met mekaar praat.”
“Goed, Bernice, waar is jy?”
“Nee, so dom is ek nie. Ek bel om ’n ultimatum te stel. Ek het pas met die prokureur-generaal en die staatsaanklaer se kantore gepraat. Ons het bewyse wat die hele komplot sal oopvlek. Julie spel is op ’n einde.”
“Ek glo dit nie!”
“Wel, dis jou saak. Maar as jy nie vir Hogan loslaat en jou polisie beveel om my uit te los nie, sal jy sweet. Oor twee uur sal ek en verskeie baie belangrike persone by julle vergadering opdaag.”
“Is jy in die Basuin se kantore?”
“Ja, en ek sien Kelsey en Michaelson hier buite. Beveel hulle dadelik om die omgewing te verlaat, anders sal jy die gevolge moet dra.” Met dié woorde plaas sy die gehoorbuis neer. Brummel is doodsbleek. Hy drafstap na die kabinet waar die bande gehou word. Moet hy alles vernietig? Nee, meteens huiwer hy. Hy maak die kabinet toe. Dan vlieg hy om en haas hom na voor en gryp die radio.
“Kelsey, Michaelson, ontvang julle my? Keer onmiddellik terug na basis. Onmiddellik!”
Die polisieman agter die lessenaar kyk Brummel vraend aan.
“Het Kreuger haarself oorgegee?”
Brummel antwoord nie eers nie. Hy skakel die tronk en vra om met Dunlop te praat.
“Ja, Dunlop hier.”
“Dis Brummel. Hogan en Busche moet dadelik vrygelaat word op my verantwoordelikheid.” Dunlop wil nog redeneer, maar Brummel stel nie belang nie. “Doen wat ek jou sê,” is sy bevel.
Buite in die oop area voor die hofsaal en die tronk begin die Christene weer te sing, ’n pragtige loflied tot eer van die Here.
In die Basuin se kantore wag Susan, Kevin en Bernice in gespanne stilte. Wat sal die gevolg van hulle ultimatum wees? Of Brummel sal sy manne beveel om te onttrek of hy sal hulle daar gevange kom neem. Maar dan hoor hulle skielik die geluid van ’n motor wat aangeskakel word. Dis Kelsey en Michaelson in die ou Ford wat stadigaan wegry.
“Dit het gewerk! Kom ons kry alles bymekaar en gaan na die hofsaal toe,” sê Bernice dringend. “Marshall sal hulp nodig hê.”
“Dit kan jy weer sê,” beaam Kevin.
“Dankie Here,” is al wat Susan kan sê.
* * *
Intussen skakel Brummel sy luistermasjien aan om die gesprekke wat uit die Basuin se kantore gevoer is, te beluister. Die eerste een wat hy hoor is Norm Mattily se gesprek met Bernice. Onmiddellik besef hy dat die saak werklik ernstig is. As Mattily en Strachan inligting het, dan is alles op die lappe. Hy vloek hardop om aan sy frustrasie uiting te gee.
Sy ontvangsdame roep hom op die interkom. Juleen Langstrat wil met hom praat.
“Neem ’n boodskap,” sê hy kortaf en skakel die interkom af. Hy wil nie met haar praat nie, want hy weet sy wil die saak oor Sandy Hogan aanroer. En hy wil niks meer daarmee te doen hê nie. Hy stap na die ander kabinet en haal die lêers en bande wat nog oor is, tevoorskyn. Waar kan hy die goed versteek?
Weer klink die stem oor die interkom tot hom deur.
“Professor Langstrat dring aan om met u te praat, Meneer!”
Met ’n sug tel hy die gehoorbuis van die telefoon op en Juleen se stem klink tot hom deur.
“Is alles gereed vir vandag, Alf?”
“Ja,” sê hy ongeduldig.
“Kom dan asseblief so gou moontlik. Ons moet alle voorbereidings gereed kry voordat die vergadering begin. Alle moontlike energie moet in die gebou gekonsentreer word voordat Shawn en Sandy daar aankom.”
“Dan is jy vasbeslote om Sandy by die saak te betrek?”
“Net as ’n noodshulp,” troos sy. “Marshall Hogan is mos uit die pad, maar net ingeval iets gebeur. Niks mag verhinder dat Ashton eindelik oorgeplaas word tot die hoêr sfere van die Universele Bewussyn nie.” Sy klink opgewonde. “Dis byna tyd vir die volvoering van ons planne. Terloops, het jy iets van Kreuger gehoor?”
“Nee, niks nie,” lieg hy. “Ek dink sy is uit die pad.”
“O ja, natuurlik. En hulle sal haar opspoor. Maar as vandag net verby is, sal sy ons nie meer skade kan berokken nie.”
Skielik is dit asof Brummel deur ’n meter hoe golf omgeslaan word en sy hele liggaam begin bewe. Meteens besef hy dat Langstrat hom geglo het. Sy weet werklik nie wat aan die gang is nie! Sy weet nie van Bernice se ontdekkings nie. Hy skud sy kop in ongeloof.
“Kom so gou jy kan,” klink Langstrat se stem tot hom deur.
“Ek kom dadelik” sê Brummel toonloos, maar sy hart klop met swaar slae. lets het gebeur? Langstrat weet nie wat gaande is nie. Sy wat altyd alles weet, is nou in die duister!
Brummel se gedagtes is in ’n warboel. Die feit dat hy iets weet wat Langstrat nie weet nie, vul hom met ’n wonderlike gevoel van mag en oorwinning. Ja, die toekoms vir die Organisasie lyk donker en hy wat Brummel is, sal seker ook ondergaan, maar een ding is seker, hy sal Langstrat, die heks, saam met hom neem. Sy sal vernietig word, daarvoor sal hy sorg.
Meteens weet hy dat hy nie die bande en lêers gaan vernietig nie. Nee, hoe meer bewyse daar is, hoe beter. Laat die hele spul dan nou maar tot niet gaan.
En wat die Plan aanbetref — as Kaseph en sy Vereniging dan so alwetend en onoorwinlik is, laat hulle self uitvind wat gaande is. Hy wat Brummel is, sal niks sê nie.
Lucius lag lekker. “Laat liewe Juleen ’n bietjie sweet.”
“Laat liewe Juleen ’n bietjie sweet,” beaam Brummel.
* * *
Vervolg...