Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geld is kosbaar, 'n huis ook goed, maar die allerbeste is 'n goeie vriend, in donker dae gee hy jou moed. Groete aan al ons vriende in die geloof!
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (37 SLOT)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Die verskriklike stryd tussen Tal en Rafar duur onverpoosd voort.
Rafar lyk asof hy die oorhand begin kry. Hy is tartend en spottend.
“Waar is jou God nou? Toe, waarom help Hy jou nie?”
“Here God,” roep Tal, “sê die Christene moet bid. Sê vir hulle my opponent se naam is Rafar . . . sê vir hulle ...”
* * *
Die Christene voor die gebou is aangegryp deur al die gebeure om hulle. Die meeste van hulle bid nie meer nie. Hulle kyk na die polisie en al die opgewondenheid.
“Die Here het waarlik ons gebede verhoor!” roep John Coleman uit.
“Ja,” stem Andy saam. “Dit bewys dat gebed groot krag het.” Skielik is dit of ouma Duster ’n toeval kry. Sy val op haar knieë neer en hyg na haar asem.
“Edith! Edith! Wat makeer?” Almal staan besorgd nader. “Is jy siek?”
“Nee . . . nee” kreun sy. “Dis die Here. Hy wil ’n boodskap aan ons oordra.” Sy sak op haar knieë neer en bid. Dan begin sy huil. “Daar is nog ’n bose gees . . . hy doen groot skade . . . sy naam is . . . Rafael . . . nee ...”
“Rafar!” roep Bobby Corsi uit.
Verskrik kyk Edith Duster op. Dan knik sy met haar kop. “Ja, dis reg, Rafar ...”
* * *
Tal steier en roep met sy kwynende kragte uit: “Ek bestraf jou, Rafar . . . in die Here se Naam!”
***
Ouma Duster is op die been en met haar gesig omhoog roep sy uit: “Rafar, prins van boosheid, in Jesus se Naam bestraf ons jou!”
“Ons bestraf jou!” roep die Christene uit.
Die groot geel oë begin weifel. Rafar huiwer.
“Ons werp jou uit, in Jesus se Naam,” sê Andy.
Rafar knak. Swawelgasse vul die lug. Tal spring orent.
“Ons bestraf jou, Rafar!” roep Edith weer.
* *
Rafar skreeu! Tal se swaard het hom deurboor. Tal het nuwe moed en krag gekry. Met sy een onbeseerde hand swaai hy sy swaard.
Rafar retireer. Sy oë word wasig. Maar dan spring hy nog eenmaal vorentoe en slaan met al sy krag!
Tal val neer, die pyn oorweldig hom. Hy kan nie sien nie. Hy probeer orentkom. Waar is Rafar? Wat gaan nou gebeur? Alles swem voor sy oë. Dan word Rafar se groot liggaam meteens sigbaar, omgewe deur ’n donker waas. Hy slinger op sy voete. Sy asem kom moeisaam. Sy oë gloei soos rooi robyne.
Sy afskuwelike kake is oop. Skuim en teer drup by sy mond uit. Sy stem is ’n nare geroggel: “Was . . . was dit nie ... vir die gebede . . . die gebede . . .”
Die groot demoon slinger, sy asem hyg ’n laaste keer. Dan stort hy inmekaar in ’n rooi wolk . . .
Alles is stil. Tal sukkel om asem te haal. Maar geleidelik voel hy hoedat krag in sy liggaam terugstroom. Daar is mense wat bid, dit weet hy. Dan hoor hy pragtige sang. Mense is besig om Jesus se Naam te loof. Dit werk wonders en Tal kom orent. Hy staar deur die kamer. Dis leeg. Die afgryslike oorblyfsels van die prins van Babilon is weg. En die duisternis is besig om te wyk. Sonlig dring die kamer binne.
Dan weet Tal. Hy het oorwin. Die lig word helderder en die Hemelse Leërskare kom die kamer binne. Tal staan op. Hy het sy kragte herwin. Sy pragtige vlerke word oopgespan. Hy vlieg na buite. Die son skyn en oral is Hemelse Leërskare besig om op te ruim. Tal vlieg bokant Ashton en ’n wonderlike blydskap vul sy hart. Alles lyk so mooi, so skoon.
Hy vlieg na Whitmore Kollege. Daar sien hy baie polisiemotors en heelwat mense. Waar sou Guilo wees?
By die Ames Saal wag Guilo sy Kaptein in. Hulle omhels mekaar. Daar is groot vreugde en dankbaarheid. Die laaste van die demoniese wolk verdwyn in die verte. Die lug is ’n skoon helder blou. En onder hulle, voor die Administratiewe Gebou sing die Christene lofliedere.
* * *
Norm Mattily, Justin Parker en Al Lemley gesels met Bernice. Sy stel hulle aan Susan Jacobson voor.
“Ontmoet ’n baie dapper persoon,” sê sy.
“Nee,” sê Susan. “Dis Bernice wat dapper is.”
Die polisie kom na buite met ’n geboeide Alf Brummel en Alex Kaseph tussen hulle. Die twee mans sê niks nie. Langstrat se lyk word weggeneem.
Hank en Mary omhels mekaar. Daar is trane in hulle oë. Alles is verby? Of liewer, dit begin maar net. Kyk net na die entoesiastiese kinders van die Here. Wat kan God nie deur hulle bereik nie!
Marshall hou Sandy styf vas asof hy haar nooit weer wil loslaat nie. Hulle weet albei dat hulle mekaar liefhet en mekaar vergewe. En dan kan Marshall sy oë nie glo nie, want Kate kom na hulle toe aangestap. Haar gesig straal en sy lyk so pragtig.
Die drie omhels mekaar, sommer daar voor al die mense.
“Ek kon nie wegbly nie, Marshall,” fluister Kate. “Ek het gehoor jy is gearresteer.”
“Ja, Kate, die Here moes my in die tronk laat beland voordat ek bereid was om na Hom te luister.”
“Na God?” Kate lyk geïnteresseerd. “Dit klink belowend.”
“Wag totdat ek jou alles vertel.”
* * *
Die Generaal raak Tal aan sy skouer en oorhandig ’n groot goue trompet aan hom.
“Blaas die trompet, Kaptein,” sê die engel met die silwer hare. Maar Tal se oë is vol trane. Hy kyk na Hank Busche en die groepie biddende Christene.
“As ... as hulle maar geweet het wat hulle gebede vermag het,” fluister hy aangedaan. Dan kyk hy op en soek Guilo se groot gestalte. “Toe, my vriend,” dring hy aan. “Blaas jy die trompet vir ons, asseblief.”
Maar Guilo lyk verleë. Hy skud sy kop: “U doen dit tog altyd, Kaptein..”
“Ek . . . ek is vandag te moeg. Doen jy dit.”
’n Oomblik huiwer Guilo nog, maar dan neem hy die goue trompet. Hy klap Tal gemoedelik op die skouer en vlieg die lug in.
Die oorwinningsbasuin weerklink dawerend deur die hemele!
* * *
Hank en Mary het ’n nuwe, toegewyde gemeente; Marshall en sy gesin is herenig en Susan en Kevin sal ’n geruime tyd as staatsgetuies besig gehou word. Slegs Bernice voel alleen en vreemd verstote. Uiterlik toon sy niks nie, maar innerlik is die diepe hartseer en verlange na Pat meteens weer oopgevlek. Sy besef dat sy een of ander tyd finaal afskeid sal moet neem — en dis nie maklik nie. So lank al lewe sy om die waarheid oop te vlek, en noudat dit gedoen is, voel sy ’n diepe verlange na iets anders, iets wat sy self nie kan verklaar nie. Sy kan maar nie die jong meisie Betsy, vergeet nie. Was Betsy regtig ’n engel van die Here? Het God deur sy engel, met haar gepraat?
Sy begin oor die kampus te stap, weg van die ander mense af. Miskien sal ’n wandeling oor die grasperke haar goed doen. Dis tyd dat sy al die gebeure weer goed in oënskou neem.
Onder ’n groot eikeboom gaan sy staan. Sy dink aan Pat en sy dink aan haar eie lewe. En toe begin sy huil. Ag, as sy maar net kan bid, maar sy weet nie eers hoe nie. Sy maak haar oë toe en fluister gebroke: “O God . . . o dierbare God . . .”
* * *
Tal en die Generaal neem die situasie in Ashton in oënskou.
“Dit sal tyd neem voordat alles weer herstel is,” sê die Generaal. “Ek dink ons moet ’n hele afdeling hier laat om sake te monitor totdat alles weer vlot verloop.”
“Ja, ons is reeds besig. Die krygers versamel hier onder en sal elkeen sy opdrag ontvang,” sê Tal. “Krioni en Triskal sal voorlopig by Busche bly; Nathan en Armoth by Hogan. Ek dink Hogan se familie sal spoedig genees wees en . . .” Skielik breek Tal af en kyk na die eensame figuurtjie onder die eikeboom. “Wag ’n bietjie.” Hy wink ’n engel nader. “Daar is iemand wat hulp nodig het. Gaan na haar toe.”
* * *
“Here God, wat . . . wat moet ek doen?” prewel Bernice eindelik.
Hank Busche. Die naam skiet haar te binne. Sy kyk terug na die Administratiewe Gebou. Die pastoor en sy gemeentelede is nog daar. Weer praat die stem in haar binneste: “Gaan gesels met Busche. Hy sal jou raad gee.”
Sy kyk na Hank Busche en die mense by hom. Hulle lyk almal so gelukkig. Miskien moet sy tog met hom gaan gesels. Hy het Marshall so baie gehelp. Miskien kan hy haar ook help om waarlik by God uit te kom.
* * *
Die Generaal en sommige van sy krygers is haastig om te vertrek. Daar is nood in Brasilië. Guilo trek sy swaard. Hy is altyd reg vir ’n geveg. Maar Tal hou sy hand omhoog. Hy beduie na die meisie wat stadig na Busche aangestap kom. Aan haar hele houding kan hy sien dat sy gereed is. Binnekort sal daar ’n gejuig in die hemele wees wanneer nog ’n siel by Jesus uitkom.
Toe Bernice by Hank aankom, begin sy huil. Sy fluister ’n paar dringende woorde. Hank en Mary en die ander naby hulle luister en bid. Eindelik sit hulle die arms om Bernice. Almal bid saam en sy gee haarself aan Jesus oor.
Tal glimlag tevrede: “Weg is ons!” sê hy.
Met ’n gewapper van glinsterende goue vlerke kom die hemelse krygers in beweging en skiet weg in ’n suidelike rigting en laat die dorp, Ashton, rustig en vreedsaam agter.
Einde