Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense wat geen beproewings gesmaak het nie, beteken nie veel nie. Lyding leer ons ‘n fyn waarnemingsgees aan. Dis ‘n nuwe soeke na God, ‘n ander uitkyk op die lewe wat van ‘n totale lewensverandering getuig.
NUWE DIREKTE BYBELVERTALING (1)
Afrikaans as Kerktaal
Johan Dorfling
Lees reeks by NUWE DIREKTE BYBELVERTALING
'n Wonderwerk het gebeur; die ontstaan van 'n afsonderlike selfstandige taal, naamlik Afrikaans. Die ganse Afrikanervolk het gesamentlik deelgeneem aan 'n beweging om Afrikaans in 'n betreklike kort tydperk te vestig. Taal hou regstreeks verband met geloof, gewoontes en denke van die gebruikers wat dieselfde betekenis en begrip aan die woorde en volksuitdrukkings gee. Afrikaans spreek die siel aan.
'n Taal moet vry van vreemde woorde gebesig word ten einde vermenging en uiteindelike verdwyning te bekamp, anders raak volksuitdrukkings, die geskiedenis en beskaafde lewenswyse verwaarloos en godsdiensbewustheid verflou. Dit is waarom skrifgeleerdes in verstaanbare Afrikaans met lidmate moet praat en skryf. Dikwels gebruik hulle 'n taal wat uit Romaans of Latyn voortvloei en nie uit Afrikaans se werklike oorsprong nie, naamlik Diets. Baie Romaanse woorde is onbekend aan lidmate omdat dit nie gewone gebruiks-Afrikaans is nie.
Dit het nie net betrekking op die taalgebruik in kerktydskrifte en ander geskrifte soos afkondigings nie. Dikwels gebeur dit dat 'n predikant bepaalde skrifgedeeltes waaroor hy preek, so met Griekse en Latynse verwysings verduidelik dat hy sy hoorders se aandag verloor. Waarom het ons 'n uitstekende Afrikaanse vertaling van die Bybel as 'n predikant terugval op verduidelikings van vreemde woorde? Is die uitstekende 1933/53 Afrikaanse Bybel dan onbetroubaar?
Hoogdrawende taal wat sommige skrifgeleerdes besig, het 'n nadelige uitwerking op kerkbywoning. Ongelukkig praat lidmate net onder mekaar daaroor en wil dit selfs nie aan kerkraadslede noem nie omdat hulle enersyds nie met die predikant in botsing wil wees nie en andersyds nie aanstoot wil gee nie.
Twee vrae kom na vore:
- Verwag evangelieverkondigers dat lidmate (vir hulle) die vreemde woordgebruik moet begryp?
- Kan skrifgeleerdes 'n lidmaat kwalik neem as hy/sy liewer tuisbly en die Bybel lees as om te probeer om die afkondigings te begryp wanneer die erediens reeds verby is?
Die evangelie word nie deur moeilike vreemde woorde uitgedra nie, maar deur verstaanbare woorde. Eenvoudige woorde het ‘n veel groter trefkrag, spreek duideliker en het ‘n dieper betekenis as hoogdrawende taal. Afrikaans is ‘n pragtig beskrywende diep taal in eie reg en ons mense se trots.
Dat die kerk die liggaam van Christus is, beteken dat goeie gebruiks-Afrikaans die geloof meer verstaanbaar maak. Bybelgeleerdes maak dikwels gebruik van begrippe soos approbasie (goedkeuring), attestaat (getuigskrif), konsulent (aflos-leraar), demissie (losmaking), visitasie (besoek), emeritus (rustend), revisie (hersiening) en nog talle ander terwyl die goeie taaleie Afrikaanse woorde immers vir die gewone Bybellesers baie makliker verstaanbaar is.
Die evangelie word nie deur moeilike vreemde woorde uitgedra nie, maar deur verstaanbare woorde. Eenvoudige woorde het 'n veel groter trefkrag, spreek duideliker en het 'n dieper betekenis as hoogdrawende taal. Afrikaans is 'n pragtig beskrywende diep taal in eie reg en ons mense se trots.
Daar word aangevoer dat vreemdsoortige woorde Afrikaans sogenaamd verryk, maar die teendeel is waar. Hoe meer daar van Romaanse woorde gebruik gemaak word, hoe minder word Dietse woorde gebruik wat beteken dat dit later in onbruik verval en as verouderd beskou word. Daardeur verloor Afrikaans sy Dietse inslag. Wat het onder meer van die Iere en Skotte se tale geword namate hulle meer Engelse woorde bygebring het? Dit is 'n wesenlike gevaar en nie taalontwikkeling nie.
Verduidelikings dat kerktaal anders as gebruiks-Afrikaans is omdat die kerk anders is, gaan nie op nie. Om byvoorbeeld op kerklike gebied onderskeid te tref tussen amendement en wysiging, en tussen ander voorbeelde wat reeds uitgewys is, is werklik harekloof. Slegs die persoon wat dit probeer toelig en enkele ander begryp wat hulle probeer bereik.
Sekere woorde het deur die jare beslag gekry in die kerklike taal en 'n bepaalde kerklike betekenis word nou daaraan geheg. Byvoorbeeld, attestaat word beskryf as meer as 'n blote getuigskrif. Dit is ook die bevestiging dat iemand 'n ingeskrewe, belydende lidmaat van 'n gemeente is of was en dan kom die getuienis van goeie gedrag daarby. Wat is dit anders as ‘n getuigskrif? Nee wat, attestaat is kunsmatig en behoort reggestel te word.
Dat Engels en Afrikaans eeue gelede uit Germaans ontwikkel het, beteken dat elke taal sy eie weg ingeslaan het. Om hierdie tale nou, as gevolg van 'n soortgelyke oorsprong nader aan mekaar te probeer trek, is om die eiesoortige ontwikkeling kunsmatig te probeer omkeer. Engels het verder wegbeweeg as Afrikaans. Woorde soos baard (beard), been (bone), bloed (blood), brood (bread), groot (great) en letter (letter), word soms as eensoortig voorgehou, dog dit is heeltemal onvanpas.
Waarom word slagspreuke soos "Sola Fide", "Sola Scriptura", "Sola Gratia" en ander in 'n vreemde taal voorgehou as alleen Geloof, alleen die Bybel en alleen Genade meer betekenisvol vir Afrikaanssprekendes is?
Die evangelie word nie deur moeilike vreemde woorde uitgedra nie, maar deur verstaanbare woorde. Eenvoudige woorde het 'n veel groter trefkrag, spreek duideliker en het 'n dieper betekenis as wat hoogdrawende sprekers daaraan koppel. Afrikaans is 'n pragtig beskrywende diep taal in eie reg en ons mense se trots.
Was die stryd van die taalbewegings om Afrikaans se aanvaarding, tevergeefs? Waarom het Martin Luther die Bybel in Duits vertaal en waarom is die Bybel in gemaklike Afrikaans vertaal? Romaanse, Latynse, Griekse en Hebreeuse woorde en uitdrukkings is net vir die wat kennis daarvan het.
Evangelieverkondiging is belangriker as gekunstelde taalgebruik. Dit kan maklik getoets word deur lidmate, oud en jonk, te vra wat hulle verstaan onder woorde soos Middelaar, erfsonde, soenverdienste, sondebok, Verlosser, gereformeerd, apokrief, kerstening, verbond en maagd (soos in tien maagde). Vra aan hulle algemene kennisvrae wat alle Christene behoort te ken. As min lidmate hierdie begrippe ken, hoeveel minder sal hulle weet wat pluriformiteit, liturgies, ecclesia, katoliek, kuratorium, sinkretisme en predestinasie beteken?
Daar word algemeen aanvaar dat die doel van die Bybelvertaling was om ‘n goed verstaanbare, bronteksgetroue Afrikaanse vertaling van die Bybel te skep wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.
‘n Spreektaal en ‘n skryftaal moet so eenvormig moontlik wees. Ten eerste help eenvormigheid die sprekers van verskillende streke om net een standaard aan te leer soos byvoorbeeld tarentaal in plaas van ook poelpetaan, poelpetaat, aasvoëlhoender, pêrelhoender, terwyl die meer Afrikaansklinkende volkseie wildehoender en drafhoender ook taalverrykend is. Afrikaans hoef nie absoluut eenvormig te wees nie, maar moet ook nie soveel onnodige “dooie” woorde bevat wat soos uitgedroogte takke aan ‘n groen boom kleef nie.
Hoe groter die eenheid van Afrikaans, hoe minder wisselvorme word gebruik en hoe beter kan alle Afrikaanssprekendes die taal aanwend. Groter eenvormigheid is aanvanklik deur die Taalkommissie van die S A Akademie vir Wetenskap en Kuns bewerk, maar in die jongste tyd is geleidelik daarvan afgewyk. Dit is waar goeie oordeel gebruik moet word. Plat taalgebruik is ook nie aanvaarbaar nie omdat dit teenstrydig is met hoë letterkundige gehalte. Verskeidenheid binne die perke van die kultuur van ‘n taal is dus ewe noodsaaklik. Watter sin het dit immers om ‘n Bybel in Afrikaans te vertaal as vreemde woorde daarin toegelaat word?
Dikwels word die erkende goeie kultuurtaal na omgangstaal toe verbrei en bevorder dit Afrikaans se letterkundige gehalte, weg van die begrip kombuistaal.