Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het u al so gevoel?: 'Ek is moeg van gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane, my oog het dof geword van verdriet... Wees my genadig Here, want ek is verswak; maak my gesond HERE, want my gebeente is verskrik. Ja, my siel is baie verskrik...' So huil Dawid sy nagte deur totdat hy verlig besef dat die HERE hom nog altyd gehoor het en altyd sal help: 'Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan.' Onthou in u grootste beproewing dat die HERE alles weet nog vóór u Hom gesmeek het maar práát met Hom want dit sál verligting bring.
HOE KOM ʼn MENS IN DIE HEMEL? (4)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Hoe kom mens in die hemel?
“Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Luk.13:24).
Om ʼn sportwedstryd by te woon, moet jy ʼn toegangskaartjie hê. So ʼn kaartjie verseker jou van ʼn sitplek en die sekerheid dat jy die betrokke wedstryd sal sien. Bekering is die toegangskaartjie na die ewige spel. As jy dit het, is jou plek bespreek en sal jy die hemel sien.
Jesus sê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings... Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem.” (Joh.14:2,3).
Baie mense gaan egter soos die vyf dwase maagde in Mt.25 sonder ʼn toegangskaartjie by die poorte van die ewigheid opdaag en tevergeefs toegang probeer verkry. Jesus waarsku: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer”.
Sy woorde stry hard beteken om jou bewustelik vir iets baie groot in die toekoms te beywer. Jesus gee opdrag: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan” (Mt.7:13).
Petrus skryf aan die gelowiges in die verstrooiing: “Daarom broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak, wan as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petr.1:10,11).
Ongelukkig gee mense te veel aandag aan die tydelike dinge van die lewe en dink nie eens oor hul ewige woning nie. Gelowiges behoort met die versekering dat die hemel wat op hulle wag, van blydskap oor te loop al kou hulle ook harde bene in die lewe!
Gelowiges het die wonderlike voorreg en dure verpligting om die wêreld al hoe meer na die hemel te laat lyk. Jesus gee opdrag: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mt.5:16).
Om die smal weg te bewandel, vrywaar gelowiges nie van droefheid en beproewings nie. Onthou; geloof in Jesus is nie ʼn ongelukvrywaring polis nie. Al laat beproewings gelowiges soms ʼn stukkie hel op die aarde ervaar, neem dit nooit die sekerheid van die hemel weg nie. “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Gevolglik is daar geen groter vreugde as om in ʼn persoonlike verhouding met Jesus te leef nie. Dis alreeds ʼn voorsmaak van die hemel. Selfs die hemelse strate van goud, die engelekore en blye uitroepe van verlostes is maar ʼn druppel in die emmer van die werklike blydskap wat in die hemel op gelowiges wag. Paulus beskryf dit met die volgende woorde: ” Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ʼn mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor.2:9).
Hoe dit eendag in die hemel sal wees, weet ons nie. Al wat ons weet, is dat dit baie anders as ʼn lewe op aarde sal wees. Daar sal geen sombere duisternis wees nie omdat Christus self die lig daarvan is: “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp” (Openb.21:23).
In die hemel sal geen steurende geraas of doodse stilte wees nie; slegs die ewige musiek van engelekore. Daar sal nie vrees of valse verwagtinge wees nie omdat ons alles sal weet en alles sal hê. Daar sal geen begin of einde wees nie, slegs ʼn ewigdurende hede, ja heerlikheid sonder einde!
By geleentheid staan ʼn gelowige dokter by ’n baie arm sterwende wat in ʼn klein kamertjie gewoon het. “Dokter, hoe sal dit na die dood wees?” vra hy. Op daardie oomblik het die dokter se hond aan die deur gekrap. “Hoor jy die gekrap aan die deur? Dis my hond wat vir my buite wag. Hy was nog nooit in jou kamer nie en het derhalwe geen benul hoe dit hierbinne lyk nie. Desondanks is hy gretig om in te kom net omdat ek hier is” antwoord die dokter. Dis al wat ons van die lewe na die dood hoef te weet – Jesus is daar en dis genoeg rede om ook daar te wil wees.
Dis moeilik om jou in te dink hoe die hemel sal lyk. Dis om soos vir ʼn Eskimo te probeer verduidelik hoe ʼn tropiese land lyk. Hoe gaan jy aan hom verduidelik hoe ʼn palmboom lyk as hy nog niks anders as sneeu en ys in sy lewe gesien het nie? Hoe verduidelik jy vir hom hoe tropiese voëls lyk as hy niks anders as pikkewyne en meeue ken nie? Hoe beskryf jy ʼn perd of donkie indien hy nog niks anders as robbe en walvisse ken nie? Jy sal vir hom so ʼn land moet beskryf deur vir hom te vertel wat daar nie is nie – geen ys, geen sneeu, geen ysbere!
Nee, ons weet nie hoe die hemel gaan lyk nie. Net die Heilige Gees kan ons van die heerlikheid daarvan bewus maak, ja, van dinge waaraan ons op aarde gewoond is en wat gelukkig in die hemel sal ontbreek.
ʼn Jong moeder was sterwend toe die bure haar dogtertjie uit die huis geneem het om haar die droefheid te spaar. Sy is oorlede en selfs sonder haar kind se medewete begrawe. Terug by die huis het die kind onmiddellik na haar ma gevra. Toe hulle haar vertel wat gebeur het, het sy gesê: “Dan wil ek nie langer hier bly nie, want my ma is nie meer hier nie!” Haar ma se teenwoordigheid het vir haar van die huis ʼn tuiste gemaak. So sal dit ook in die hemel wees. Ons hemelse Vader se teenwoordigheid sal dit vir ons ʼn tuiste maak.
Menslike taal sal nooit die heerlikheid van die hemel kan beskryf nie. Want hoe beskryf jy bv. die wonders van ʼn onsienlike wêreld en hemelwesens wat dit bewoon? Esegiël sien in ʼn gesig iets hiervan en vind dit moeilik om te beskryf. Hy probeer God se troon met die woorde “iets soos saffier met die vorm van ʼn troon” te beskryf.
Die enigste manier om iets van die hemelse lewe te probeer snap, is om aan dinge te dink wat gelukkig daar sal ontbreek soos trane, droefheid, pyn, siekte, honger, nag, vervloeking en versoeking. Wonderlik! Sorg dat jy die toegangskaartjie het!