Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Suid-Afrika het sedert sy Christelike grondwet vernietig is, in ’n tipiese Grieks-heidense denkwyse verval. Volgens hierdie denkwyse is die mens selfstandig genoeg om te weet wat reg en wat verkeerd is. Gelowiges het egter die Bybel met die Tien Gebooie as riglyn vir ’n vreedsame samelewing nodig. Wie dit gehoorsaam, leef in vrede. Wie dit minag, leef in vrees, soos in die Nuwe Suid-Afrika!
AS DIE WAARHEID VERTRAP WORD (3)
Ds AE vd Berg
Lees reeks by As die waarheid vertrap word
Deel 3
“Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Joh.2:18,19).
1. ʼn Gemeenskaplike gevaar
Petrus en Judas skryf in hul sendbriewe oor ʼn gemeenskaplike gevaar:
“Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikheid navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet.2:1,2).
Paulus skryf:
“Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg ... Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak ...”(Hand.20:28-31).
Jesus waarsku:
“As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! — moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê” (Mt.24:23-25).
“Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê” (Mark.13:23).
2. Geen ommekeer nie
Dwaalleraars was alreeds voor die voltooiing van die NT in verskeie gemeentes werksaam. Hulle is sondermeer as medegelowiges aanvaar. Judas eis dat gelowiges hulle teenstaan. Al was sommige van die dwaalleraars nie van hul dwaling bewus nie, het hulle mense wat reeds aan die Evangelie blootgestel was, geskaad.
“...en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (2 Thess.2:10).
Wie die waarheid vertrap, verbreek sy liefdesverhouding met Christus en keer so goed as nooit na die waarheid terug nie:
“Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het — om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Hebr.6:4-6).
3. Skynvoorkoms
Dwaalleraars word nie altyd aan hul optredes geëien nie. Glimwurms is nie lanterns en alle duiwels het nie gesplete hoewe nie. Die Satan maak gereeld van duiwels engele in mense se oë!
“...mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloor het” (2 Tim.3:5).
Dwaalleraars is soos heuningbye met heuning in die beken en ʼn angel aan die stert. Hulle oortuig baie mense dat die pad na die hel dié na die hemel is en hoe growwer die leuen, hoe gladder is die mond!
“En baie sal hulle veranderlikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:2).
Sommige misleidings is so na aan die waarheid, dat dit byna soos die kleure van die reënboog in mekaar vloei. Desondanks is elkeen daarvan ʼn dolksteek in die hart van die Christendom en het Jesus geen goeie woord vir hulle gehad nie:
“Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe” (Mt.7:15).
“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is” (Mt.23:27).
Dwaalleer is gekamoefleerde onheiligheid. Daar word in een rigting gekyk, maar in ʼn ander een geroei. En as dwaalgeeste oor die waarheid struikel, staan hulle op en gaan aan asof niks gebeur het nie. Hulle stamp egter nie sommer openlik koppe met die waarheid nie, maar boor eerder met hul dwaalleer gate in die fondament van mense se vertroue, plant dinamietkerse van ongeloof daarin en wag vir die ontploffing!
Judas skryf in vers 4 van sy sendbrief dat die dwaalleraars nie van buite die kerk gekom het nie, maar vanuit haar boesem. Hy noem hulle skandvlekke(:12); ʼn Griekse woord vir die rotsriwwe wat vlak onder die wateroppervlakte was en waarop skepe kon vergaan.
Paulus skryf in dieselfde trant:
“ ... Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim.1:19).
Wat destyds in die kerk gebeur het, gebeur vandag weer; net erger. Vyande in uniforms is nie so gevaarlik soos dié met togas aan nie. Sommige van die dwalinge hang so ver onder dwaalleraars se togas uit, dat dit soos ʼn sirkustent lyk wat saamgesleep word!
4. Wellus
Judas teken wellus as ʼn dryfveer van dwaalleer aan:
“Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel. Dit is hulle wat skeuring maak...” (:17-19).
Godsdiens is ʼn goeie wapenrusting, maar ʼn slegte oorkleed veral om booshede mee te verskuil:
“Soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan” (:7).
Dwaalleraars is gewoonlik ook geldwolwe wat hul balans met die sy-wiele van misleiding en selfverryking hou.
“Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom” (:11).
Paulus en twee van die ander Sendbiefskrywers sien ook ʼn duidelike verband tussen dwaalleer en wellus:
“Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie ...”(Gal.5:13).
“Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel” (Tit.1:15).
“...as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God” .
“Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid, dié wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel. Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf geword”
“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel”.
(1 Pet.2:16; 2:2:18,19 en 2:3:3).
Vervolg...