Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geduld is nie ‘n doodse berusting om te bly soos wat jy is nie, maar eerder ‘n gewilligheid om te word wat God wil hê. Geduld is dus die kuns van hoop waarby jy meer baat as by geweld.
DIE UURGLAS LOOP UIT (8)
Ds A.E. van den Berg
Die duisendjarige ryk
“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openb.20:6).
Mense wat Openbaring nie verstaan nie, kom soms met wilde bespiegelings voor die dag omdat hulle sekere Bybelse waarhede nie raaksien nie. Sulke mense weef dan met hul ooraktiewe verbeeldings leerstellings aanmekaar wat geensins met die Bybel strook nie. Die duisendjarige vrederyk is een daarvan.
Wie dit verkondig, glo dat daar ʼn vrederyk na die wederkoms van Christus gaan plaasvind wanneer God Satan vir ’n letterlike 1000 jaar bind en ’n vrederyk met Jesus as die sigbare Heerser op die aarde gaan oprig. Die Bybel praat niks van so ’n ryk nie. Dit gebeur as Openb.20 buite sy verband gelees word!
Openb.20 beskryf niks anders as die finale toneel van die God se oordeel oor Satan nie. Let op die geskiedenis wat die boek Openbaring dek–dit wat in die tyd tussen Jesus se eerste en tweede koms gebeur. Dis presies dieselfde geskiedenis wat net uit sewe verskillende hoeke belig word; sewe tonele elkeen met sy eie fokuspunt.
Openb.20 vat al die voorafgaande dramatiese tonele saam en wys lesers op God se laaste oordeel nl. die verdelging van Satan. Sy binding is ’n werklikheid wat by Jesus se opstanding begin en tot net voor sy wederkoms voortduur.
Openbaring is nie geskryf om mense se nuuskierigheid oor die toekoms te bevredig nie, maar om gelowiges wat t.w.v. hul geloof swaarkry te bemoedig. God wil hê dat hulle tot en met die wederkoms moet weet wat Satan gaan doen. Daarom moet mense maar versigtig wees en nie verkeerde afleidings maak dat Satan wel los is nie.
Satan is nog gebind, maar nie geheel magteloos nie. Hy is soos ’n kwaai hond aan ’n ketting. Wie binne so ʼn dier se reikafstand kom, het probleme. Na sy opstanding het Jesus sy engel gestuur om Satan te bind. Hy is die Sleuteldraer wat oop- en toesluit. Satan is ingeperk, maar nie magteloos nie al gebeur daar dinge wat wil lyk asof hy los is. Hef-aan lê heel waarskynlik nog voor!
Jesus het met sy opstanding Satan met ʼn rede ingebind - sodat hy die kerk wat toe op hande was nie kon vernietig en nasies as geheel mislei nie. Was dit nie daarvoor nie sou die kerk nie gevestig of sendingwerk gedoen kon word nie.
As die dissipels net voor sy hemelvaart weereens wil weet of die einde gaan kom, sê Jesus dat sy getuienis eers tot aan die uiterstes van die aarde uitgedra moet word.
“Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ʼn getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom (Mt.24:14).
Hy bevestig dieselfde waarheid in sy afskeidswoorde aan die dissipels:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. (Mt.28:19,20).
Jesus slaan nie sonder waarskuwing toe nie. Al die nasies moet eers gewaarsku word sodat hulle hul kan bekeer. En daarvoor moet die Evangelie tot aan die uithoeke van die aarde verkondig word. Daarom dui die Bybel ʼn duidelike verband tussen die binding van Satan en hierdie wêreldwye verkondiging aan.
Na hierdie inbinding sal Satan vir ʼn bepaalde tyd losgelaat en gelowiges vervolg word. Hulle geloof sal vir ʼn kort tydjie tot die uiterste beproef word. In die nag voor sy kruisiging het Jesus sy dissipels aan die profesie van Sag.13:7 oor Hom herinner wat in vervulling sou gaan:
“Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die Herder slaan, en die skape van sy kudde sal verstrooi word” (Mt.26:31).
Hy het hulle egter verseker dat Hy hulle na sy opstanding weer bymekaar sou bring. Dit het tot kerkvorming gelei.
Wanneer Satan losgelaat word, gaan die wêreldtoneel ingrypend verander. Hy gaan volke en nasies teen Jesus en die ware kerk laat opstaan en baie gelowiges sal hul lewens verloor.
“En wanneer hulle hulle getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak. (Openb.11:7).
Dis wat met Jesus gebeur het nadat Hy sy getuienis afgehandel het. Wees gewaarsku dat geloof nie goedkoop is nie. Wie Een wil volg wat deur die wêreld gekruisig is, moet self verwag om gekruisig te word!
Die kans is daar dat die ware kerk soos wat ons dit ken, sal ophou bestaan en, soos in die eerste Christen-eeu, ondergronds moet gaan. Dit blyk uit 2 Thess.2 wanneer die Antichris in die nuwe tempel gaan sit:
“Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (:3,4).
Met die Babelse verwarring op kerkterrein lyk so ʼn iets nie te vergesog nie. Kyk maar net na Protestantse kerke se ontsondiging van gruwels en toename in gemene sake met die Roomse Kerk. Hierdie kerk is die setel van die valse profeet wat die wegbereider van die Antichris is. Almal benewens die uitverkorenes sal die Antichris en deur homdie Satan aanbid.
Satan het egter nie die hef in die hand nie. Hierdie tyd van beproewing wat met die groot verdrukking begin, is deur God as ’n noodsaaklike sifting bepaal. Dit gaan intens wees maar nie baie lank duur nie, anders sou niemand gered word nie. Gelowiges het die troos dat God al die bose magte met vuur uit die hemel sal verteer (Openb.20:9).
Dus is die leer van die duisendjarige vrederyk vreemd aan die Skrif. Wie dit verkondig, leer in werklikheid twee wederkomste. Jesus kom aarde toe om vir ʼn duisende jaar oor ʼn vrederyk te regeer waarna Hy terug gaan hemel toe net om later weer as Regter te kom - twee wederkomste. Dis onbybels. Die Bybel praat nêrens van so ’n vrederyk nie. Dis ’n sektariese afleiding sonder enige waarheid.
Wie wil weet hoe die einde sal wees, moet net Mt.24 lees. Jesus gee hierin die presiese volgorde waarin die laaste dinge sal verloop. Johannes herhaal dieselfde volgorde in Openb.6. Daar is geen duisendjarige vrederyk of sg. wegraping nie!
Wie Openbaring reg wil verstaan, moet ernstig waak dat sy verbeelding nie met hom op loop gaan nie. Die Skrif moet altyd met die Skrif vergelyk word. Openb.20 is net soos die vrou en die draak van Openb.12 nie ʼn chronologiese verloop van gebeure nie.
En al is Satan miskien al losgelaat, weet gelowiges dat God steeds in volle beheer van die wêreld is. Ons moet net vashou aan die versekering in Rom.8:
“...dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (:38.39).