Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is 'n direkte verband tussen jou geestelike lewe en hoe jy jou geld spandeer. Jou spandering bepaal hoe ver God jou met geestelike seëninge vertrou – hoe meer God jou gee, hoe groter is jou verantwoordelikheid.
DIE UURGLAS LOOP UIT (10)
DIE BOEKE IS GEOPEN
“En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:12,15).
Paulus het nooit die evangelie verkondig sonder om na ʼn baie belangrike waarheid te verwys nie nl. dat elke mens met die oordeelsdag rekenskap van sy lewe voor Jesus sal moet gee nie:
“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Dis ʼn waarheid wat gelowiges verbly en ongelowiges baie ongemaklik maak. Net voor sy teregstelling vermaan Paulus die jong Timoteus om hierdie waarheid te bly verkondig. Hy skryf dat die mense van die laaste dae dit nie meer sal wil hoor nieomdat hulle ʼn renons in hierdie waarheid gaan hê (2 Tim.4).
Paulus sê vir die Atheners:
“...omdat Hy’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand.17:31).
Petrus skryf dat die oorwinning van Jesus oor die dood so ʼn geweldige impak gehad het, dat dit tot die goddeloses wat destyds in die sondvloed omgekom het, deurgedring het:
“Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely ... Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onder-wyl die ark gereed gemaak is....” (1 Petr.3:18-20).
Niemand praat in die Bybel méér oor die hel as Jesus self nie. Openb.20 beskryf ʼn toneel van Hom wat op ʼn groot wit troon sit waarna verbysterende dinge gebeur nl. dat die hemel en die aarde weg is. En dis nie blote beeldspraak nie!
Paulus skryf in Rom.8:20 dat God die hele skepping aan verganklikheid onderwerp het wat beteken dat alles wat verganklik is, eendag gaan ophou bestaan. Petrus skryf:
“Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand “ (2 Petr.3:10).
Die mensdom gaan op die aarde bly slegs solank as wat dit God behaag. Ons het geen begrip van hoe dinge in die heelal in mekaar steek nie. Ons weet net dat God die son laat skyn of die wind laat waai en dat die lewe daarsonder onmoontlik is. Daarom is die Bybel vir ons baie meer werd as die wetenskap wat nie eens die skepping kan verklaar nie.
Openbaring vertel hoe God met vuur uit die hemel alles in ʼn oogwink tot niet gaan maak en geen mens dit sal oorleef nie. Daarom word in vers 12 en 13 net van die dooies gepraat. Dis egter vreemde dooies want hulle is bewus van alles wat gebeur. Hulle staan klein en groot voor die regterstoel van Jesus. Met hierdie “klein en groot”word bedoel: almal wat op die aarde geleef het. Dus is daar noukeurige boekhouding van elkeen se lewe gehou en die boeke met daardie boeke met die oordeelsdag oopgemaak.
Baie mense wat dink dat die dood soos slaap is. Seker daarom staan op duisende grafstene “Rus in vrede” gegraveer. Dis nie wat die Bybel sê nie. In die gelykenis van Lasarus en die ryk man staan daar:
“En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem” (Luk.16:23).
Die dood is dus nie ʼn ewige slaap soos wat sommige mense dink nie maar eerder ʼn ewige wakkerwees omdat God ons met onsterflike siele geskape het. Gevolglik is die dood slegs ʼn tydelike versteuring waardeur die siel van die liggaam geskei word. Self die dood is net tydelik en word met die oordeel vernietig.
Voor die oordeelsdag gebruik Satan die dood dikwels as ʼn karwats. Hy was selfs oor die oorskot van Moses in ʼn woordewisseling met die engel Migael betrokke (Judas:9). Jesus het egter met sy opstanding uit die dood die karwats uit sy hande geneem en speel Satan in die eindoordeel geen rol nie, maar verdwyn van die toneel waarna niks weer van hom gehoor word nie.
God bring op die oordeelsdag elke liggaam en siel bymekaar uit ongeag hoe mense omgekom het; ook hulle wat ter see vermis geraak het.
“En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke” (Openb.20:13).
God is nie net ʼn almagtige Skepper nie, maar ook ʼn almagtige Herskepper. Niemand kan vir Hom wegkruip nie. Almal sal voor Hom aantree.
Wanneer dit gebeur, verdwyn die dood en kan gevolglik geen ontvlugting vir goddeloses bied nie want die dood is self dood. Openbaring verwys daarna as die tweede dood (20:6,14). Daarna breek die waarheid van die ewige geluksalige lewe so beslissend deur soos wat gelowiges hulle nooit kon voorstel of die goddeloses ooit kon glo nie.
Dis egter nie die einde van alles nie want ons lees van ʼn derde boek wat oopgemaak word nl. dié van die lewe. Openbaring verwys telkens hierna. Daar word bv. van die Antichris gesê:
“En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie”(13:8).
God ken sy kinders van die skepping af by die naam. Daarom sê Jesus:
“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie (Joh. 6:37).
Hoeveel te meer sal hierdie woorde met die oordeelsdag nie volle betekenis kry nie!
In die OT lees ons van hoe vaders soms vir hul seuns ʼn bruid laat haal het. Dink aan Abraham wat sy dienskneg gestuur het om vir Isak ʼn vrou te gaan haal. God het ook vir sy Seun ʼn bruid bestem - die gelowiges wat deur die eeue: “... saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” Openb.17:14.
God sorg deur die eeue dat daar mense is wat die knie nie voor Baäl buig nie, al neem die ongeregtigheid ook hoe ernstig toe en al droog die liefde feitlik op. Daar sal tot en met die oordeelsdag gelowiges oorbly. God bestem dat mense die pad na die hemel kies. Jesus sê dat die meeste mense die pad na die hel kies:
“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mt.7:13,14).
Die oordeelsdag is baie naby. Wees wys en kies die ewige lewe bo die tweede dood want oop gaan daardie ewigheidsboeke oopgemaak word en sal geen goddelose die straf van God vryspring nie!