Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Kyk, wat ek as 'n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel." - Pred. 5:17
DIE UURGLAS LOOP UIT (11)
Die verheerlikte bruid
“En een van die sewe engele .... het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam”(Openb.21:9).
In die OT lees ons van Moses wat by geleentheid op ʼn berg geklim het waar God hom noukeurig voorgeskryf het hoe om die tabernakel op te rig en daarna reg in te rig. Dit moes as ʼn sigbare simbool van God se inwoning onder sy volk dien en almal wat dit besoek het, moes weet dat God op besondere wyse hier te vind was.
In Openb.21 word Johannes ook deur die Gees na ʼn hoë berg meegevoer om hom te wys hoe die woonplek van God onder die mense op die nuwe aarde gaan lyk. Die eerste tabernakel het net een poort aan die oostekant gehad. Die laaste een het 12 poorte; drie in elke windrigting en kan van alle kante af binnegekom word.
Johannes sien die name van die 12 stamme van Israel op die stadspoorte en die name van die 12 apostels op die stadsfondamente. Dis die simbool van die apostels se uitdra die evangelie van verlossing aan alle volke, tale en nasies. Dis die ware kerk en bruid van Christus deur die eeue. Johannes sien die eindproduk.
Bruide doen altyd groot moeite om hulle vir hul troudag mooi te maak. Geen bruid vergelyk egter met die skoonheid van die bruid wat hier beskryf word nie. Volgens die Bybel was Moses ʼn aantreklike man. Toe hy destyds na die opdrag om die tabernakel in te rig, van die berg gekom het, het sy gesig so geskitter dat mense nie na hom kon kyk nie. Hy moes ʼn sluier moes dra (Ex. 34).
Jesaja profeteer dat Jesus nie uiterlik aantreklik sou wees nie:
“...geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien, en geen voorkoms dat ons Hom sou begeer nie”(Jes.53:2).
Waarom nie? Omdat Hy die volle gewig van God se toorn oor sondes kruistoe moes dra.
Tog het Hy na sy opstanding die mooiste mens in die heelal geword wat talle ouwêreldse digters in vervoering gehad het. Dit kan ook nie anders nie, want Hy is die Bruidegom wat vir Hom uit die ganse mensdom ʼn bruid vergader en aan alle gelowiges die versekering gee dat hulle ook eenmaal as sy bruid sal skitter:
“Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader...”(Mt.13:43).
Paulus skryf dat een van die hoofredes waarom Jesus Homself gewillig laat kruisig het, is om sy bruid
“...te heilig... te reinig... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef.5:26, 27).
Om te weet dat jy deel van die bruid van Christus is, moet volgens Johannes die sterkste aansporing wees om jouself vir die koms van die hemelse Bruidegom gereed te kry (1Joh.3:3). Die finale mooimaak en verheerliking van die bruid, word deur God self gedoen. En Hy doen dit deur dieselfde magsdaad waardeur Hy die ou hemel en aarde geskep en die nuwe hemel en aarde herskep het.
Die bruid van Christus gaan in ʼn wonderlike huis woon. In Openb.21 probeer Johannes hierdie asemrowende woning aan die hand van beelde van allerlei kosbare edelgesteentes en edelmetale te skets. Die skoonheid daarvan is egter so onbeskryflik, dat woorde hom te kort skiet.
Die eerste ding wat Johannes opval, is dat die hemelstad geen natuurlike lig nodig het nie. Die lig wat daar is, kom direk van God self. Lig is vir God baie belangrik. Op die eerste skeppingsdag was daar al lig al het God eers op die vierde dag die son, maan en sterre geskape om te skyn. Die grootste Lig was egter aan die kom. Jesus is die Lig van die wêreld (Joh.8:12).
“In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense” (Joh.1:4).
Johannes sê van homself as Jesus se wegbereider:
“Hy het tot ’n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo” (:7).
Daarna sê hy voorts:
“Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld” (:9).
Die Nuwe Jerusalem word vir almal wat Jesus as Verlosser aangeneem het, voorberei. Wat ʼn wonderlike vooruitsig om reeds hier op aarde te weet wat op jou in die toekoms wag! Dis ook al rede waarom die kerk nog bestaan; die ewige inwonertal is nog nie vol nie. Die kerk maak as’t ware die inwoners bymekaar. Sodra die inwonertal vol is, is die kerk se taak afgehandel en verdwyn dit.
Elke inwoner se naam is in die boek van die lewe opgeskryf. Net hulle word toegelaat en geen ander een nie al was hy ook baie godsdienstig en ywerig in sy kerk. Die bekering is die toegangskaartjie na die hemelstad. Pas dus op vir godsdienstigheid sonder godsvrug:
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Mt.7:21-23).
Benewens die wonderlik gesig van die Nuwe Jerusalem sien Johannes ʼn suiwer fontein:
“Water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam”(Openb.22:1).
Dit laat ʼn mens aan die profetiese gesig wat Esegiël in Babel gehad het, dink. Die profeet sien in ʼn verrukking van sinne hoe water wat onder die eertydse tempel uitgestroom het, hoe verder hoe dieperhet dit geword en alles wat dit aanraak gesond gemaak.
“En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word.En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal ’n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom” (Eseg.47:8,9).
Wat het Esegiël hier gesien? Die beeld van die kerk van Christus wat eers meer as 600 jaar later gestalte sou kry om na baie eeue in die Nuwe Jerusalem te eindig. Dit sou sondige siek lewens genees en selfs strome uit hierdie mense wat genees is, laat vloei. Jesus sê:
“As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink. Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh.7:37).
Paulus is ʼn treffende voorbeeld van so ʼn genesing.
“Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels... het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ’n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor ’n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg..... En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen?(Hand.9:1-5).
Paulus het baie gedoen voordat hy in 68 nC terwille van sy geloof in Rome onthoof is. Hy skryf aan die Korintiërs hoe die bekering lyk:
“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
Om in die hemelse stad woning te kan verkry, moet jy in Jesus nuut word!