Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wil jy 'n sterk volk sien? Sorg dat die gesins- en familielewe moraal en moreel sterk is. Nou mag ons vra waarom ons volk vandag in hierdie verknegte, moreel en moraal verdrukte toestand is...
DIE BYBEL (33)
Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
Genesis (3)
Die sondeval
Die paradys het nie lank gehou nie. Spoedig val die skaduwee van die sonde oor die tuin. Die listigste van die diere, die slang, vra die vrou of God regtig gesê het dat hulle nie van enige boom in die tuin mag eet nie.
Nadat die vrou geantwoord het dat God hulle verbied het om te eet van die boom wat in die middel van die tuin staan, gaan die slang op slinkse wyse voort om die vrou te verlei om van die boom te eet. Die slang verseker die vrou dat hulle nie sal sterwe nie en suggereer dat die eintlike rede vir die verbod is dat God bang is dat hulle dan alles sal ken soos Hy. Die slang se verleiding slaag en die vrou kyk met nuwe oë na die boom en vrugte. Drie dinge gebeur opeenvolgend: Die vrou besef die vrugte is goed om te eet, mooi om na te kyk en ten slotte word dit ook begeerlik omdat dit kennis kan bied. Daarop kan die vrou nie meer weerstand teen die slang se verleiding bied nie en pluk sy van die vrugte om daarvan te eet. Sy gaan ook verder deur van die vrugte vir haar man aan te bied. Die man vra geen vrae nie en eet van die vrugte, sonder enige beswaar of agterdog.
Die onmiddellike gevolg van die ongehoorsaamheid en eerste sonde was die bewuswording van eie naaktheid, wat as die eerste bron van nuwe kennis aangebied word. Hiermee is die intieme band tussen man en vrou verbreek, en dit het ook implikasies vir die verhouding met God. Wanneer hulle hoor hoe God in die tuin wandel, kruip hulle tussen die bome vir Hom weg.
Ten spyte van die mens se sondige ongehoorsaamheid, neem die Here die inisiatief deur na die mens te roep: “Waar is jy?” Hierdie roep, gebore uit die Here se genade, vind weerklank deur die hele Bybel heen. In baie opsigte kan die res van die Bybel beskryf word as die wisselwerking tussen die sondige ongehoorsaamheid van die mens en die genadige inisiatief van die Here.
Die gevolge van die sonde kring steeds wyer uit. Nadat die man antwoord dat hulle weens hulle naaktheid vir die Here wegkruip, is die noodwendige vraag hoe hulle weet dat hulle kaal is? Dit gee aanleiding tot ‘n hele reeks bykans komiese verskonings. Die man gee die vrou die skuld en die vrou gee op haar beurt weer die slang die skuld.
Die Here reageer op hierdie verskonings deur al drie figure te straf wat by die eerste sonde betrokke was:
Die slang word vervloek om op sy maag in die stof te seil en vyandskap word tussen die mens en die slang ingestel. Daar word ook voorspel dat die menslike nageslag die slang se kop sal vermorsel en dat die slang die mens in die hakskeen sal byt, wat neerkom op voortgesette konflik. Tog sal die slang nie mag oor die mens kan behou nie.
Die vrou sal met moeite en pyn kinders in die wêreld bring. Hiermee saam word die vrou ook gestraf deur na die man te hunker en deur hom oorheers te word. Sodoende word die manlike dominering van die vrou gesien as ‘n resultaat van sonde en nie as ‘n skeppingsopdrag nie.
Deur die man word die aarde vervloek, maar hy word self nie vervloek nie. Sy straf behels dat hy met groot swaarkry uit die aarde ‘n bestaan sal maak. In samehang hiermee word aangedui dat die mens sterflik is deur hom daaraan te herinner dat hy uit stof gemaak is, en nou word bevestig dat die mens tot stof sal terugkeer.
Daar is egter ook rede tot hoop. Nadat die vrou Eva genoem word, word sy as die moeder van alle mense aangewys. Dan tree die Here op ‘n merkwaardig versorgende manier op deur velklere vir die sondige mensepaar te maak en dit nog vir hulle aan te trek, ‘n hoopgewende beeld van die Here as versorgende God, wat nie net skep nie, maar sy skepping onderhou.
Waar die eerste twee skeppingsverhale op ‘n geseënde noot afsluit, veroorsaak die eerste sonde dat die mens uit die tuin van Eden weggestuur word. Die mens se bestaan in die paradys is verby en ‘n lewe van swoeg en sweet lê nou voor.