Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Beproewing is onvermydelik, maar om daaroor te bly sanik en in ellende te verval, is opsioneel. Daarom moet ons gedurig damwalle van moed om ons bou sodat ons die vloede van vrees buite kan hou.
DIE BYBEL (42)
Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
Josef, die man in die bres
Die laaste deel van die Genesis-boek is ‘n novelle oor die lewe en invloed van een van Jakob se seuns, Josef. Sy lewensgeskiedenis is bepalend vir wat later met Israel gebeur het.
Disintegrasie van Jakob se gesin
Die spanning tussen Josef en sy broers het ‘n aanloop. Josef is die seun waarvoor Jakob lank gewag het by sy gunstelingvrou, Ragel, en daarom trek hy vir Josef voor. Dit maak Josef verwaand. Hy skinder by sy pa en dra ‘n koninklike kleed as teken van die begunstiging wat van sy pa kom.
Selfaanmatigend vertel Josef hoe goed hy is. Natruurlik lei dit tot jaloesie by sy broers. Twee drome van Josef vererger die saak. In albei drome voorsien hy dat hy heerser word en dat sy hele familie, insluitend sy pa, voor hom buig.
Die spanning bou op: Wat gaan van dié verwaande mannetjie word? Wanneer hy op ‘n keer ver van die huis by sy broers aankom, gebruik hulle die geleentheid om hul wraak op hom te neem. Hulle gooi Josef in ‘n put. Aanvanklik wil hulle hom doodmaak, maar Ruben red sy lewe. Hulle besluit om Josef eerder as ‘n slaaf te verkoop. Josef se drome lê aan skerwe as hy op pad is as ‘n slaaf na ‘n ver en vreemde land.
Die handelaars wat Josef koop, kom uit Gilead en is verwant aan Ismael se mense uit die Noord-Arabiese woestyn. Hul handelsware van balsem en gars word in Egipte gebruik om medisyne en parfuum te vervaardig en lyke te balsem. Later neem Jakob se seuns dieselfde ware na Egpte as geskenke vir die koning wat vir die noodvoorrade verantwoordelik is.
Die broers kom by die huis aan met die leuen dat Josef deur wilde diere gevang en verskeur is. Jakob glo dit. Sy reaksie is vir die broers onverwags: hy is ontroosbaar.
Dit wil voorkom of Genesis 38 nie inpas by die Josefsage nie. Deels is die funksie om die verhaal te vertraag sodat spanning oor die lot van Josef by die leser kan opbou. Andersyds beklemtoon dit die feit dat Jakob se gesinslewe deur diepgaande probleme gekenmerk word. Hier word van die leviraatshuwelik vertel.
Die leviraatshuwelik of swaershuwelik word in Deuteronomium 25 beskryf en beteken dat wanneer ‘n getroude man sterf sonder om ‘n seun te hê, sy broer ‘n kind by die weduwee moet verwek.
Die motivering hiervoor is dat die dooie se gedagtenis sal bly voortbestaan omdat daar ‘n seun is wat die herinnering aan hom kan uitbou. Die seun kry die naam van sy oorlede “pa” en as seun is hy ook erfgenaam. Hy dien ook as sekuriteit vir sy ma, want vroue het in die Antieke Midde-Ooste geen regsbevoegdheid gehad nie. Hy doen alle transaksies namens sy ma en hy beskerm haar.
Juda se twee seuns trou so ná mekaar met Tamar, maar albei sterf sonder dat hulle ‘n seun het. Onan sterf omdat hy weier om die ou gebruik na te kom om vir sy broer ‘n seun te verwek. Na regte moes Juda sy volgende seun aan Tamar gee, sodat sy ‘n nakomeling vir Juda kon verwek en die stam kon voortgaan, maar Juda maak asof hy daarvan vergeet het. Hy is bang sy derde seun gaan ook dood as hy met Tamar trou. Intussen word Juda ‘n wewenaar. Op ‘n slinkse manier slaap Tamar dan by Juda en word by haar skoonpa swanger.
Slaap by haar skoonpa? – Vir moderne mense is so iets onaanvaarbaar, maar Bybelse verhale moet teen die agtergrond gelees word waarteen dit afgespeel het. Volgens sommige kenners was dit eintlik in die antieke reg Juda se plig om ‘n seun by Tamar te verwek.
Juda se reaksie as hy hoor dat sy weduwee-skoondogter swanger is, hou ook verband met die reg van die dag: sy het oortree en verdien die doodstraf. Tamar kan egter bewys dat haar skoonpa die pa van die kinders is. So word ‘n tweeling gebore: Peres en Serag. Peres was vir latere Jode ‘n belangrike figuur as voorvader van Koning Dawid.