Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy nog leef kan jy van alle nare ondervindings herstel al vat dit ook jare. Dit lê binne die gebied van die lewe. Jy het die lewe nodig om te kan herstel. Daarsonder kan jy nie foute regmaak nie. As jy lewe, kan jy herstel.
ELIA EN ELISA (13)
Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA
HONGERSNOOD IN SAMARIA
Dr JP Botha
Ek wil nou vir jou die merkwaardige verhaal vertel van die beleg van Samaria, wat plaasgevind het onderwyl ek daar in die stad gewoon het. Dit het so lank geduur dat die geteisterde inwoners van die stad naderhand van honger begin sterf het, voordat die Here Hom oor ons ontferm en ons gered het.
Die Arameërs maak weer oorlog
Na al die goedheid en guns wat ons aan die klomp blinde Arameërs bewys het, wat ek in Samaria ingelei het, en nadat die Here hulle generaal se melaatsheid genees het, het almal gedink dat hulle nou sou skaamkry en Israel met rus laat. Benhadad III was egter 'n oorlogsugtige koning wat met begerige oë vanaf Damaskus gekyk het na die aangrensende gebiede rondom die vrugbare landstreek van Ramot in Gilead, waaruit die Siriërs die Israeliete verdryf het in koning Agab se tyd en waar hierdie vors van Israel gesneuwel het. Benhadad het besluit om Israel weer aan te val en het met 'n geweldige groot leërmag suidwaarts getrek. Koning Joram se verkenners het hom betyds gewaarsku dat die Siriërs of Arameërs in aantog was. Hy het hulle met 'n sterk Israeliese troepemag tegemoet getrek en in die omgewing van Ramot in Gilead slag gelewer en verbete weerstand gebied. Maar Benhadad se hordes was onkeerbaar en Joram moes langsamerhand al vegtende terugval na die skuilings van sy hoofstad, Samaria.
Die beleg begin
Benhadad het met sy legioene laer getrek in die bosse van die laagte onderkant die heuwel van Samaria en hom klaargemaak om die stad te beleër, totdat hy sou oorgee. Die Arameërs se boogskutters het die stad elke môre tot op trefafstand genader en gevegte aangeknoop met Israel se boogskutters, wat op die hoë stadsmuur verskans was. Die Arameërs het gewoonlik die slegste daarvan afgekom, want hulle pyle, wat opwaarts getrek het, het hul trefkrag verloor en meesal teen die hoë muur vasgeslaan, terwyl ons skutters van bo af verderf onder die vyand gesaai het.
Maar Benhadad was nie haastig om die stad te verower nie. Hy het geweet dat Samaria nie maklik deur geweld ingeneem kon word nie. Koning Omri, Joram se oupa, het die stad op 'n baie strategies geskikte terrein op die plato van die berg laat bou, wat dit vir 'n vyand bitter moeilik maak om hom stormenderhand te verower. Daarom het die Aramese koning besluit om die stad te beleër totdat die voedselvoorrade daar binne opraak en Joram gedwing word om oor te gee.
Die honger begin knaag
Benhadad het hom met sy hele leërmag in hul honderde tente agter die heuwel in die bosse gerieflik ingerig om heerlik te ontspan en lekker piekniek te hou, want in sy laer was daar geen gebrek aan lewensmiddele nie. Ons wagte het elke dag vanaf die uitkyktoring in die stad gesien hoe wavragte kos vir die vyand aangery word.
Afdelings van die vyandelike leër het gereeld rondom die stad gepatrolleer en gesorg dat niemand van buite of van binne af kon deurglip nie.
Die dae het weke en maande geword en ons voedselvoorraad in die stad het feitlik heeltemal opgeraak. Die bietjie wat daar nog was, is teen fabelagtige pryse verkoop. Die kop van 'n donkie, wat onder normale omstandighede nooit geëet sou word nie, is naderhand vir byna 'n kilogram silwer verkoop en 'n klein skeppie duiwemis het 57 gram silwer gekos.
Die honger het wreed aan mens en dier begin knaag. Dit was aaklig om die verhongerde rydiere, wat nie meer voer gehad het nie, te aanskou en te sien hoe mense, veral kinders, van honger begin sterf.
Die twee vroue
Koning Joram het hom die lot van die geteisterde stad erg aangetrek. Toe hy geleentheid gehad het om die Here met volle oorgawe te dien, het hy dit nie gedoen nie, maar aangehou om die Baäl-afgod van sy pa Agab en sy ma Isébel aan te hang. En nou gee hy waarlik die Here die skuld vir al die ellende wat in die stad heers!
Op 'n goeie dag besluit hy om 'n bietjie uit sy paleis uit te kom en te kyk hoe sleg dit in die stad gaan. Die adjudant van sy lyfwag het hom vergesel. Toe hulle al op die stadsmuur langs stap, kom hulle 'n vrou teë wat voor Joram neerval en uitroep: "Help, heer koning, o help my tog!"
Die beleg van Samaria het sy duidelike letsels op haar uitgeteerde liggaam nagelaat en haar diepgesonke oë spreek van honger en lyding.
Joram sê vir haar: "As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou dan kan help? Daar is nie meer koring op die dorsvloere nie en geen mos in die parskuipe nie."
Die vrou het met 'n moeë hand oor haar oë gevee en die koning spraakloos aangestaar.
"Toe dan nou! Wat is dit met jou?" sê Joram.
Sy aarsel nog, maar wys dan skielik na een van die huisies in die nabyheid.
"Ag my heer, die vrou wat dáár woon en ek was goed bevriend. Daar was nooit enige onenigheid tussen ons nie. Ook ons kinders, my seun en haar seun, het elke dag saamgespeel, want ons woon langs mekaar. Maar ag, my heer, vandat die vreeslike honger in Samaria gekom het, het die onheil ons verteer. 'n Paar dae gelede het ek en sy oor al die bitterheid gepraat en toe ons so na ons kinders kyk, só maer en uitgeteer dat hulle lankal nie meer wou speel nie, maar net soos ons gesit en wag het vir die dood, toe sê die vrou: 'Wat help dit alles tog? Hulle sal verseker tog maar sterf. Dis beter dat ons hulle uit hulle lyding maar verlos. Kom ons slag vandag jou seun en môre, as die honger weer begin te knaag, dan neem ons myne weer...' Ag my heer, ek wil nie daaroor dink nie, maar so het ons my seun toe die dag gekook...en hom geëet. Maar toe ek die volgende dag vir haar sê: 'Gee nou weer jou seun...', het sy hom weggesteek."
Toe het Joram van ontsteltenis sy bewende hande na die kraag van sy bokleed gelig en sy koninklike gewaad van bo na onder oopgeskeur. Almal in die nabyheid kon sien dat hy 'n roukleed aangehad het. Sy adjudant het hom aan die arm geneem en na die paleis weggelei. Toe hulle wegstap, roep hy uit: "Mag die Here my straf as ek vandag die kop van Elisa, die seun van Safat, op sy lyf laat bly!"
Hy pak dus die skuld van al die ellende op die Here en daarom wil hy my doodmaak, want ek is die Here se profeet.
Jy sal dit met jou eie oë sien
Joram het ook dadelik probeer om die daad by die woord te voeg. Hy het 'n boodskapper na my huis toe gestuur om te kom kyk of ek daar is. Die Here het vir my gesê dat hierdie man op pad na my toe was en dat koning Joram my om die lewe wou bring. Ek was in my huis besig om samesprekings te voer met die oudstes van die stad en het vir hulle gesê om die deur te sluit en hierdie gesant nie toe te laat om binne te kom nie, maar toe gewaar ek vir koning Joram en sy adjudant kort agter hom.
Die koning het blykbaar sy plan verander om my kop af te kap, want toe ek by hom kom, sê hy: "Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop?"
"Koning Joram, op die Here kan jy altyd hoop. Sy genade is oorvloedig, selfs oor jou wat Hom nie wil dien nie en agter nuttelose afgode aanloop, soos wat jou pa, Agab, gedoen het. Maar hoor wat sê die Here oor hierdie onheil wat ons getref het: Môre hierdie tyd sal die mense vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria."
Ek sien toe dat die vertroueling van die koning, die adjudant wat hom ondersteun, hom vir my vererg. Hy kyk my met 'n grynslag aan en sê: "Ag profeet, moet tog nie sulke onsin praat nie! Jy weet tog net so goed soos ek dat dit nooit kan gebeur nie, al maak die Here wat jy aanbid, ook vensters in die hemel."
Ek het hom met medelye aangekyk, want ek het geweet wat met hom gaan gebeur. Ek sê toe maar net vir hom: "Jy sal dit met jou eie oë sien, maar nie die voorreg hê om self daarvan te eet nie."
Dit het hom só kwaad gemaak dat hy die koning aan die arm gegryp het en hom weggelei het na die paleis.
Die Arameërs vlug
Die Here het ook aan my openbaar wat daardie nag sou gebeur: Koning Benhadad en sy duisende Arameërs het heerlik in hul tente lê en slaap, want indien koning Joram sy verhongerde soldate in die nag 'n uitval na die laer sou laat maak, sou die brandwagte hulle betyds waarsku. Maar meteens het almal wakkergeskrik van 'n groot gedruis en 'n harde lawaai, wat niks anders kon wees nie as dié van honderde strydwaens en perde wat op die beleërde stad afstorm. Benhadad en sy verskrikte offisiere het gedink dat die konings van die Hetiete en van Egipte met strydwaens, perde en 'n groot leër opgedaag het om die koning van Israel te kom ontset.
'n Groot skrik het die Arameërs beetgepak. 'n Bevel om te vlug, was amper nie eers nodig nie. Hulle het alles net so gelos, tente, perde en donkies en holderstebolder vir hul lewe gevlug. Hulle was só desperaat om weg te kom, dat hulle kledingstukke en ander artikels wat hulle inderhaas gegryp het om saam te neem, orals langs die pad weer neergegooi het toe hulle nie vinnig genoeg kon wegkom nie.
Die vier melaatses
Kort nadat al die Arameërs van hul kamp af weggevlug het, het vier melaatse manne op die toneel afgekom.
Hierdie arme wesens het onder normale omstandighede maar 'n bitter lewe in die veld buite die stad gely, waar hulle in afsondering moes leef, om nie die ander inwoners met hul siekte te besmet nie. Weens die hongersnood in die stad het ook hulle 'n hongerdood in die gesig gestaar. Dit het hulle waaghalsig en roekeloos gemaak. Hulle het vir mekaar gesê: "Waarom bly ons nog langer hier tot ons sterf? As ons besluit om in die stad in te gaan en die mense ons daar sal verdra, sal ons daar van honger doodgaan, want daar is geen kos nie. As ons hier bly, gaan ons ook dood. Kom ons loop oor na die kamp van die Arameërs toe. Dalk gee hulle vir ons kos en laat ons lewe."
Hulle het die Aramese laer behoedsaam genader en was verbaas om alles so verlate aan te tref. Hulle het 'n tent binne gegaan en daarin genoeg gekry om te eet en te drink. Daarna het hulle uit ander tente silwer, goud en klere versamel en dit gaan begrawe. Toe het hulle gewetens hulle aangekla. Hulle het vir mekaar gesê: "Ons maak nie reg nie. Vandag is 'n dag van blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning."
Volkome verlossing
Koning Joram en sy raadsmanne wou nie die storie glo wat die vier melaatses aan die wagte by die poort gaan vertel het nie. Hy was ontevrede om so in die middel van die nag wakkergemaak te word. Hy het gesê: "Hierdie ding is net weer 'n set van die geslepe Benhadad. Hy weet baie goed hoe uitgehonger ons is. Ek is seker daarvan hulle het net hulle kamp verlaat en 'n endjie in die veld teruggetrek om ons uit die stad uit te lok. As ons dan ondersoek gaan instel wat in hulle kamp aangaan, val hulle ons van agteraf aan en swerm in hul honderdtalle ons stad binne."
Een van die offisiere het egter voorgestel dat hulle vier van hulle brandmaer perde voor twee strydwaens inspan en die spoor van die vlugtende Arameërs moes volg. So ver as wat hierdie patrollie gery het, was daar tekens van die vyand se oorhaastige vlug. Hulle het tot by die Jordaan gery en omgedraai en gelukkig met die arme maer trekdiere Samaria weer ongedeerd bereik. Hulle kon die koning nou verseker dat al die Arameërs nog steeds al vlugtende op pad na Damaskus was en dat dit veilig was vir die volk om die geteisterde stad te verlaat en die kosvoorrade in die verlate kamp van die vyand te gaan haal.
Jy sal nie self daarvan eet nie
Vroeg die volgende môre het man, vrou en kind met sakke en kruike deur die poort van die stad beweeg, in die rigting van die Aramese laer. Die stroom van mense het al groter geword, toe die eerstes vanaf die laer met hul gevulde houers begin terugkeer. Die koning het sy adjudant, op wie se arm hy die vorige dag geleun het, beveel om die verkeer in die poort te reël. Hy en sy helpers het spoedig hulle hande vol, maar gelukkig is die poort wyd en 'n onafgebroke stroom mense skuifel opgewonde deur na die vryheid van die oop veld daar buite, met die blye vooruitsig om met voedsel terug te keer.
Die adjudant sien hoe die mense terugkom met kruike vol meel en sakke vol gars en dink: "Hoe is dit moontlik? Het die profeet se God werklik vensters in die hemel gemaak? "
Die gedrang word al erger en hy besef dat die mense wat uitkom effens eenkant toe gedruk moet word, sodat dié van buite af kan binnekom. Hy roep en beveel en praat met die mense, maar die hele poort bly gevul met 'n vaste massa wat van binne af uitborrel.
Hy voel hoe die onmag en wrewel in hom oplaai, want hy is immers die adjudant van die koning en sy bevele behoort hier gehoorsaam te word. Hy skree op die menigte en spring voor hulle in, terwyl sy stem bokant die rumoer weerklink: "Luister, volk van Israel, maak nou pad vir dié wat buite wag om in te kom!" 'n Oomlik lank is sy hande in die lug sigbaar, toe hy die skare tot halt probeer roep, maar die druk van agter word te groot en toe hy struikel, flits die woorde deur sy onstuimige gemoed: "Jy sal dit met jou oë sien, maar nie daarvan eet nie."
"O God, is dit die wrede betekenis daarvan? Is dit die straf vir al my ongeregtigheid? O help, vergewe tog!"
Hy probeer orent kom, maar die eerste voete het reeds al oor hom getrap en hy word onafgebroke teen die grond vasgepen en die lewe uit sy liggaam gepers. Hy is skaars sigbaar in die verstikkende stofdampe, onderwyl honderde voete die lewelose liggaam van die koning se adjudant tot 'n vormlose plaveisel in die stof vermink.
Nog steeds beweeg die massa bankvas deur die poort, haastig om die langbegeerde voedsel te bekom, want die Here het sy volk nie vergeet nie. Hy het hulle straf opgehef en weer volkome uitkoms uit hul nood geskenk. Ons loof en prys en dank Hom vir elke wonderdaad en guns wat Hy aan ons bewys!
________________