Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons beproef word, moet ons God nie gedurig met verwytende vrae bestook nie. Soek eerder ‘n nuwe ontmoeting met Hom, ja, ‘n nuwe ervaring van sy teenwoordigheid en grootheid. Om God te midde van ons nood opnuut te vind, is een van die heerlikste winste wat beproewing kan oplewer.
ELIA EN ELISA (4)
Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA
DIE GROOT DROOGTE
Dr JP Botha
Toe ek van Tisbe af langs Gilead se waterstroompies stap in die rigting van die Jordaan, het daar 'n fris luggie vanuit die weste opgesteek en 'n breë wolkbank uit die Middellandse See het dofweg op die horison begin vorm. Ek het daaraan gedink dat ons binne 'n paar dae die eerste lentereëns kon verwag en dat die Here onuitspreeklik goed vir ons is deur dit jaar na jaar op die regte tyd aan ons te voorsien vir ons tuine, vir ons landerye en vir weiding vir ons vee. Maar die klomp Baäl-dienaars sê mos hulle afgod beheer die natuur, die son en die reën, die groei en vrugbaarheid van die veld en van mens en dier. Glo hulle dit werklik?
Na Samaria
Onderwyl ek so loop en dink, het die Here die boodskap wat ek aan Agab moes gaan afgee, al hoe duideliker in my ingebrand. Ek is deur die Jordaan en het sonder versuim die pad na Samaria ingeslaan. Laat daardie namiddag het die stad op die heuwel voor my gelê. Ek het in die paadjie by die ruwe kliphuisies van die gewone mense verbygestap. Hulle het dig versprei gelê op die laer helling van die heuwel. Toe ek by die hoofhek kom, was Agab se raadsmanne en oudstes besig om op die wandelplein hulle regsake te besleg. Ek het verbygestap en oral smouse gesien wat probeer om hul handelsware van die hand te sit. Elkeen van hulle, by wie ek verbygestap het, het belangstellend opgekyk en my aangestaar. Hulle het my kleredrag en voorkoms as vreemd en ongewoon beskou, want dit was van saggebreide vel en ek het 'n harige rooi mantel om my skouers gedra.
Nadat ek omtrent 'n half kilometer by al die nuuskieriges verbygestap het, kom ek by die groot stadspoort, met sy enorme verdedigingstorings aan weerskante. Ek het ingestap, want die poort het oopgestaan en mense het in en uit beweeg. Die wagte het hulle nie aan ons gesteur nie. 'n Paar tree verder het die geweldige struktuur van die wagtoring op die suidoostelike hoek van die muur wat die koninklike gebouekompleks omsluit het, die lug ingetoring. Die paar wagte bo-op het van onderaf klein vertoon en ek het geweet hulle beloer my met meer agterdog as nuuskierigheid, want hulle is verantwoordelik vir die veilige bewaking van Agab se koninklike fort hier op die heuwel en my vreemde voorkoms kon hulle laat besluit dat ek 'n afgesant of spioen van die vyandelike Arameërs moes wees.
Daar het niks gebeur nie en ek het amper weer 'n half kilometer verder langs die swierige huise van hooggeplaaste amptenare gestap voordat ek by die paleis self aangekom het. Ek het my verstom oor al die buitensporige versiersels wat orals teen die mure aangebring is.
Toe ek my aanmeld, het een van die wagte my na binne geneem en deur die groot gehoorsaal begelei na 'n soort verhoog waar die koning besig was om lui-lekker te ontspan in 'n sagte gemakstoel, voordat sy lakeie later mense vir onderhoude na hom inbring. Hy het effens verras opgekyk toe hy my gewaar, so asof my voorkoms hom interesseer en hy onseker was of hy my vantevore al onrmoet het.
My boodskap
Tot op daardie oomblik het ek net geweet dat die Here my met 'n boodskap na Agab gestuur het, maar die besonderhede daarvan was nog vir my versluier totdat ek besig was om nader te stap. Dit het meteens soos 'n helder lig my bewussyn deurstraal. Ek het voor hom gaan staan en vir hom gesê:
"Koning Agab, ek kom net vir jou sê, so seker as wat die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, dat in die volgende paar jaar daar in die land geen reën of dou meer sal val nie, behalwe as ek, Elia, so sê!"
Voordat ek die ergernis en verstomming behoorlik op sy gesig kon lees, het ek omgedraai en uitgestap met dieselfde paadjie waarlangs ek gekom het.
Dis snaaks, het ek gedink, dat hy my nie laat agternasit en vang nie. Ek het besef dat die Here 'n geweldige verantwoordelikheid op my skouers geplaas het, maar ek het ook besef dat ek nie in eie krag optree nie, maar dat ek net 'n gewillige instrument in sy hande moet wees.
Die droogte slaan toe
Op pad terug na my tuiste in Tisbe het ek gewaar dat die weersomstandighede wat die vorige dag met my koms geheers het, totaal verander het. Daar het 'n dor, warm wind uit die oostelike woestyn gewaai en die belowende wolkies wat oor die Middellandse See opgekom het, weggedryf. Toe ek uiteindelik Gilead se mooi wêreld nader, was ek verbaas om te sien hoe hierdie vurige wind reeds begin het om alles wat groen was te verskroei. Toe het ek geweet my woorde aan Agab is besig om in vervulling te gaan en dat daar 'n groot droogte aan die kom was.
Toe die broodnodige, lewegewende reëns gedurende die volgende maande geheel en al wegbly, het die hele land begin om onder die knelling daarvan te ly. Die vroeë reëns het nie geval nie en die stortreën of winterreën het weggebly, asook die laatreëns. Gedurende die warm, droë somer wat gevolg het, was daar geen vogdraende seewinde wat die land gewoonlik smôrens met 'n ryk doulaag geseën het nie. Tuine en landerye het verdroog, want die talle waterstroompies wat na die Jordaan vloei, het in hul beddings weggesak. Die gras van die veld het verdor en die vee se weiding het heeltemal opgeraak.
Ek vlug na Krit
Ek het gewonder of die Baäl-aanbidders in Samaria tot inkeer sal kom wanneer hulle ontdek dat hulle god nie in staat is om reën te maak en die droogte te breek nie. Toe het die Here aan my openbaar dat my lewe in Tisbe in gevaar is, omdat Isébel na my laat soek met die plan om my om die lewe te bring. Die Here het vir my gesê dat ek na die spruitjie Krit moet gaan en my daar moet gaan versteek.
Hierdie spruit se water het uit die rantjies noord van die Jabbok gekom en suid van die Jarmoek, 'n paar kilometer van Tisbe af in 'n afgeleë streek in die Jordaan gevloei. Dit was blykbaar die enigste een in die land wat nog water gehad het en die Here het beloof om vir my daar te sorg. Daar naby in die rantjies langs die spruitdal, was 'n klein grot waarin ek kon skuil.
Wat 'n wonderlike God is die Here nie! Toe ek die eerste môre uitstap, kom daar verskeie kraaie aangevlieg. Elkeen het iets in die bek gehad. Hulle het op 'n groot klipplaat naby my kom sit en stukke vleis en brood daarop gelos en weer weggevlieg. Waar hulle dit vandaan gehaal het, het net die Here geweet. Hy het hulle elke môre en aand gebied om my van hierdie voedsel te voorsien.
Dit was nie vir my snaaks dat God juis hierdie roofvoëls gebruik het om vir my kos te bring nie. Daar was geen gevaar dat hulle dit self sou verslind nie, want die kwaai droogte het reeds die lewe van soveel velddiertjies geëis dat daar vir hierdie swart voëls meer as genoeg was om op te aas.
Die wonder het elke môre na sonsopkoms en saans na sonsondergang plaasgevind. Ek het voedsel gehad en water om te drink en was veilig weggesteek vir koningin Isébel se wraaksugtige oë, want toe die droogte al hoe erger word, het sy besef dat ek daar iets mee te doen gehad het. Sy het gemeen dat as ek dan 'n droogte kan veroorsaak, kan ek mos reën ook maak, wat sy tevergeefs deur haar 450 Baäl-profete probeer doen het. As sy my kon opspoor en Samaria toe kon bring, kon sy my mos forseer om reën te maak. Haar soldate se soektog na my was tevergeefs.
Ek vlug na Sarfat
Die droogte se tweede jaar het die ellende wat oor die hele land geheers het, vererger. Die ou spruitjie Krit se laaste bietjie water het ook opgedroog en ek kon nie meer langer daar bly nie, want Isébel het nog oral deur die land na my laat soek. Maar die Here het my weer na uitkoms en veiligheid gestuur. Hy het gesê ek moet Israel verlaat en na die land van die Fenisiërs gaan. Hy sal daar vir my sorg.
Ek het toe al met die Jordaan langs noordwaarts gestap, tot by die See van Galilea verby en toe noordwes gedraai en met die rotsagtige kuslyn opgestap tot by die dorpie Sarfat, elf kilometer vanaf die hawe Sidon.
Die meel in die pot en die olie in die kruik
Die Here het vir my gesê dat Hy 'n weduwee wat hier woonagtig was, beveel het om vir my te sorg. Hoe dit moes gebeur, het ek toe nog nie geweet nie, want die droogte het ook hier in die buiteland geheers en oral was daar hongersnood.
Laat die middag by my aankoms in die dorpie, sien ek 'n vrou uit haar huisie stap om vuurmaakhoutjies buite te gaan optel. Ek het dadelik geweet dat dit die weduwee was wat die Here van gepraat het en stap haar tegemoet.
Dit was onbetaamlik vir 'n vrou om sommer met 'n vreemde man te praat en ek was verras toe sy gaan staan en my met buitengewone belangstelling bekyk.
"Is u die profeet uit Israel wat die Here, julle God na my toe stuur om te versorg?"
"Ja, vrou. Ek het ver geloop Ek versmag van dors en ek is baie honger. Gaan haal tog vir my 'n bietjie water om te drink en bring tog vir my 'n stukkie brood ook saam."
"Toe sê sy: "Goed, man van God, water het ons darem nog, maar ek weet nie hoe ek u sal kan versorg nie. Ek het nog net 'n handjievol meel in die pot en 'n bietjie olie in die kruik. Ek tel nou juis vuurmaakhoutjies op om dit te gaan gaarmaak vir my en my seun. Daarna het ons niks meer om van te leef nie en moet dan maar, soos al die ander, ook van honger sterf."
Die Here het vir my gesê wat ek moet antwoord.
"Vrou, moenie bekommerd wees nie. Gaan bak eers gou daarmee vir my 'n broodkoekie en daarna sal daar nog genoeg meel en olie oor wees, sodat jy dit vir jou en jou seun kan gaarmaak."
Sy het my verbaas aangekyk. Ek sê toe: "Die Here, die God van Israel sê, die meel in die pot sal nie opraak nie en die olie in die kruik sal nie minder word nie tot op die dag dat die Here reën op die aarde sal gee."
Sy het my geglo en die Here het sy woord waar gemaak. Ons het geëet en ondervind hoe wonderlik dit is om gedurig onder die sorg van die almagtige God van hemel en aarde te wees. Sy het in die bokamer van haar huis vir my 'n slaapplekkie ingerig, en ek het geduldig gewag dat die ellende en verskrikking van die droogte moet verbygaan.
Haar seun sterf maar word weer opgewek
Die goedhartige weduwee het elke dag die wonder van die Here se voedselvermeerdering aanskou en gelowig geword, maar daar het tog nog 'n sprankie van haar vroeëre Baäl-afgodediens oorgebly.. Haar enigste kind, die ou seuntjie, het op 'n goeie dag sommer ernstig siek geword en gesterf. Toe het sy my sommer beskuldig en gesê: "Man van God, wat het u my nou aangedoen? Het u spesiaal na my gekom om al my sondes te openbaar en my ou seuntjie te laat doodgaan?"
Ek het sy ou liggaampie van haar skoot af opgetel en hom na die bokamer gedra en op die bed neergelê en die Here gebid om tog nie hierdie ramp oor die vrou wat my so goed versorg, te bring nie. Ek het driemaal oor hom gaan lê en weer gebid dat die Here sy lewe moet laat terugkeer. Dit het gebeur! Hy het begin asemhaal en sy oë oopgemaak en het meteens niks meer makeer nie!
Wat 'n vreugde het ons nie saam beleef toe ek haar kind weer springlewendig vir haar terugbring nie! Sy het net gesê: "Nou weet ek dat u 'n man van God is en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is."
Daarna het sy nie meer getwyfel nie.
_______________