Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die HERE het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop – Psalms 147:11
ELIA EN ELISA (3)
Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA
GRUWELIKE AFGODEDIENS
Dr JP Botha
Omri het twaalf jaar lank, vanaf 885 tot 873 v.C. oor die noordelike tien stamme van Israel regeer. Gedurende hierdie betreklike kort tyd, het hy merkwaardige prestasies vir Israel behaal, maar hy het die goue kalwers aanbid en van God en sy gebod was daar absoluut niks in sy lewe te bespeur nie.
Agab neem oor
Sy seun Agab, wat hom in 873 v.C. opgevolg het en koning oor Israel was tot sy dood in 854 v.C., het in alle opsigte probeer om sy pa se voetspore te druk. Hy het die hoofstad Samaria met groot swier nog verder uitgebou en die muur om dié deel van die stad wat op die laer helling van die heuwel geleë was, nog verder versterk om vyandelike aanvalle te kan weerstaan. Hy het ook die paleisgeboue op die kruin van die heuwel, wat deur Omri volgens Assiriese styl en model opgerig is, verder só versier en verfraai, dat daar van Agab se "Ivoor-paleis" gepraat is.
Die Baäl-diens word gevestig
In die sentrale deel van die stad het Agab 'n groot tempel laat bou vir die aanbidding van die heidense afgod, Baäl Melkart, wat hoofsaaklik deur die Fenisiërs aanbid is. Die hoofstruktuur van hierdie plek was 'n groot binnehof, deur dik mure omring, met 'n klein kapelletjie, waar 'n vlam voortdurend op 'n altaar gebrand het.
Isébel
Die stukrag agter die invoering van hierdie afgodsdiens in Israel, was Agab se vrou, Isébel. Hy is nog voor sy pa Omri se dood met haar getroud. Sy was 'n Sidoniese prinses of 'n Tiriese koningsdogter. Haar pa was Et-Baäl, die koning van Tirus en Sidon, wat die afgod, Baäl Melkart aanbid het.
Sidon was 'n Fenisiese of Kanaänitiese hawe aan die kus van die Middellandse See, noordwes van Israel. Die Israeliete het nie in Josua se tyd hierdie Sidon verower nie en die twee kulture het mettertyd vermeng geraak, sodat Israel ook die heidense afgode begin aanbid het.
Die Kanaäniete het geglo dat Baäl, hulle Songod, verantwoordelik is vir die reën op die aarde en dat daar 'n vroulike god is, Asjera, wat vrugbaarheid gee aan plant, mens en dier.
Die Baäl-diens floreer in Israel
Hierdie afgodery is reeds eeue oud. Toe Israel in Kanaän kom, het hulle op verskillende plekke die Baäls aangetref, elkeen met 'n ander naam. In die oos-Jordaangebied het hulle afgodery bedryf onder die naam Baäl-Peor. Hierdie Baäl is blykbaar beskou as die besitter van die berg Peor. Elkeen van die Baäls het sy eie plek of landstreek gehad waar hy vereer is.
Israel is deur die sinnelike aard van die verskillende Baäl-dienste aangetrek, want dit is tog so'n praktiese godsdiens, waar jy die voorwerp van aanbidding voor jou kan sien en aan hom hulde kan bring, soos aan die goue kalwers en die heilige boomstamme.
Reeds in die rigters se tyd het die volk al lustig begin meedoen aan die Baäl-afgodery. Die Here het aan Gideon opdrag gegee om die Baäl-altaar van sy pa te gaan afbreek. Baäl was toe nog nie stewig in Israel gevestig nie, maar die vermaarde koning Salomo het aan die einde van sy koningskap die verspreiding van afgodediens in Israel bevorder toe hy deur sy baie uitlandse vroue verlei is om dit self te beoefen.
Na die skeuring in Israel het die afgodery veral in die noordelike ryk onder koning Jerobeam begin floreer, want hy het Israel doelbewus verlei en daartoe aangemoedig. Sy opvolgers, Nadab, Baesa en Omri het daarmee voortgegaan en die volk teen die Here laat sondig. Agab span egter die kroon met sy toewyding aan die Baälse afgodediens. Hy het aanvanklik nog in die Here geglo, maar na sy huwelik met Isébel, het hy geswig voor haar aandrang om die Baäl-diens in Israel in te voer en die afgodstempel daarvoor in Samaria op te rig. Om die seremonies en orgies behoorlik te kon uitvoer, het Isébel 450 Baäl-priesters uit haar land ingevoer. Maar vir die verering en diens aan die vrugbaarheidsgodin Asjera, was daar nog 400 "profete" nodig. Vir hierdie 850 afgodsdienaars is huise in Samaria gebou en die koninklike huishouding het aan hulle lewensonderhoud verskaf. Dit was 'n groot hap uit die belanstinggeld wat Israel moes betaal..
Geweeg en te lig bevind
Ek het dit my plig geag om Agab herhaaldelik te gaan waarsku dat God besig was om hom te weeg, maar hy het rustig voortgegaan om sy vrou se Baäl-godsdiens te bekragtig, totdat dit uiteindelik die staatsgodsdiens van Israel geword het. Hy was maar net die karikatuur van 'n teokratiese koning, 'n goddelose gevoelsmens, wat volkome onder die invloed van sy heidense vrou verkeer het. Nogtans het hy later verskeie militêre oorwinnings oor sy buitelandse vyande behaal, omdat die Here nie sy volk in die steek wou laat nie.
Isébel verag Israel
Toe koning Et-Baäl van Tirus se dogter Isébel met koning Agab van Israel getroud is, het sy nie haar lot ingewerp by die volk waar sy voortaan haar lewe sou slyt nie. Sy het gedink dat sy afkomstig is van 'n wreldbekende, beskaafde, seevarende nasie, die Fenisiërs, en dat die Israeliete maar 'n primitiewe ou klomp is met 'n agterlike godsdiens, wat stimulasie broodnodig gehad het. Daarom het sy nie net met die grootste fanatieke ywer haar Baäl-godsdiens in Samaria ingevoer nie, maar ook onder die waan verkeer dat sy Israel se geloof in hulle God sou kon vernietig, as sy die Here se profete in die land vervolg en laat vermoor.
Maar daar was 'n hofmaarskalk by die paleis van Agab werksaam wat die Here met sy hele hart gedien het. Dit was Obadja, wat gesorg het dat die profete altyd betyds berig ontvang het van die koms van Isébel se sluipmoordenaars. Sy het nietemin baie van hulle om die lewe laat bring, maar Obadja het daarin geslaag om 100 profete in 'n grot weg te steek en van voedsel te voorsien.
Intussen het Isébel se sieklike verering en aanbidding van haar afgod Baäl Melkart in sy tempel in Samaria voortgegaan en my volk Israel, wat in die verlede die Here so maklik kon vergeet en vreemde gode aanhang, het hartlik meegedoen by die onheilige altare en ander aanbiddingsplekke wat vir Baäl in die land opgerig is.
Ek kon nie begryp dat my volk geestelik so blind geword het dat hulle nie kon sien dat hulle besig was om dooie, nikswerd voorwerpe te vereer, wat geen goddelike krag hoegenaamd besit het nie. Ek het besef dat hulle hierdeur die almagtige God van hemel en aarde terg en ontken dat Hy hulle eeue lank al rig en lei en dra. Hoe kon hulle Hom so maklik vergeet!
Ek het die Here vuriglik gebid om tog lankmoedig te wees oor sy afgedwaalde volk en dat Hy in sy groot almag moet gee dat Israel weer in berou na Hom sal terugkeer en hul nodelose afgodsaanbidding sal staak.
Ek word God se boodskapper
Ek het geweet die Here hoor my smekinge, maar ek het nie geweet dat Hy 'n paar dae daarna, toe ek rustig by my tuiste in Tisbe sit, met my persoonlik sou praat en sê wat Hy met Israel gaan doen nie. Ek het 'n heerlike opdrag van Hom ontvang en kon skaars wag tot die volgende dag voordat ek die pad suidwaarts ingeslaan het om my sending te gaan volbring. So ver as wat ek geloop het, het ek Hom geloof en gedank, want Hy het sy volk nie vergeet nie en Hy gaan iets groots vir hulle doen!
________________