Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Genade is nooit ooit vanselfsprekend nie. Ons dink omdat ons die genade oor ander mense sien, dit kom ons ook toe. Pleit liewer om genade vir jou skuld, dan sal jy opregte dankbaarheid daarvoor hê.
WIE ORE HET OM TE HOOR, LAAT HOM HOOR!
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
"Kosbare landbougrond wat in die verkeerde hande beland, raak onproduktief. Kyk maar wat met ons eie land sedert 1994 gebeur het! ... Dis belangrik dat ons op die vier soorte grond waarop die saaier in die Bybelverhaaljie gesaai het, let omdat een daarvan ’n prentjie van jou eie hart skilder. Kyk of jy dit herken... Miskien het die Here aan die begin van 2013 ’n spesiale woord vir jou. “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!" - Mt.13:9.
Jesus was ’n leermeester duisend en het die vermoë gehad om tonele uit die daaglikse lewe te gebruik om mense diepsinnige geestelike lesse te leer. Sy gelykenisse was aardse verhale met hemelse betekenisse. Die Gelykenis van die Saaier is ’n treffende voorbeeld hiervan.
Toe Jesus by geleentheid by die See van Galilea kom, het so ‘n groot skare om Hom saamgedrom, dat Hy in ’n skuit moes klim en ’n entjie wegvaar voordat Hy met hulle kon praat. Dink u in: Jesus op ’n skuitkansel en die gemeente op die strand. Wat ’n prentjie; wat ’n preek!
Jesus gebruik ’n beeld wat aan almal bekend was – ’n saaier en saad. Al die saad lyk aan die begin dieselfde maar almal eindig nie eenders nie. ’n Groot deel daarvan bring geen oes in nie.
Jesus het dié gelykenis vertel om die toehoorders iets van die menslike hart te vertel. Die Saaier is die Heilige Gees, die saad is die Evangelie en die grond is verskillende harte.
Daar is twee moontlikhede - mense hoor die Evangelie, kom tot bekering en lewer ’n geestelike oes op of hulle hoor dit, maar hoor dit ook nie, kom nooit tot bekering en lewer niks van waarde vir God se koninkryk op nie. Hulle is horende doof vir die Evangelie.
Jesus se preek gaan oor ’n Saaier, die saad en grond. Kom ons staan kortliks by elkeen hiervan stil en vra dat elkeen sy hart sal ondersoek en vra watter soort grond hy is. Miskien het die Here aan die begin van 2013 ’n spesiale woord vir jou. “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!”
Die saaier:
Die saaier het met groot verwagting gesaai en uiteraard wins vir sy moeite verwag. So is dit ook met God. Hy het sy Seun in die wêreld gestuur om vir sondaars te sterf (saad in die grond). Daarna het Hy sy Gees gestuur om mense van sonde te oortuig en godsvrugtig te wandel ten einde ’n goeie oes ter ere van sy Naam in te samel. ’n Goeie oes bring rykdom vir ’n boer. So ook ’n oes van geredde siele eer aan God. Dis waarom God siele red – dit strek tot sy eer.
Die saad:
Elke saad wat die saaier gesaai het, het die moontlikheid gehad om meer op te lewer. “En ’n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig” (:8). So is die saad van die Evangelie. As dit in die regte hart val, ontkiem en vermeerder dit. “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, die maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra…Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra…” (Joh.152,16).
Saad verander altyd die grond waarin dit gesaai word. Wat kaal grond was, lewer ’n oes op en die saaier is baie bly daaroor. As die saad van die Evangelie ’n plek in ’n hart wat deur die Woord van God omgeploeg is, vind en deur die Heilige Gees voorberei is, ontkiem dit in so ’n hart en verander daardie hart om ’n oes tot eer van God op te lewer.
Die gelykenis vertel egter van ’n probleem wat ontstaan het; nie by die saaier of die saad nie. Die saaier was bekwaam en die saad van goeie gehalte. Die probleem het by die grond gekom waarop dit gesaai is. Dit het op die oog af goed gelyk. Die verskil het egter aan die lig gekom toe 75% daarvan geen oes opgelewer het nie.
Die grond:
Dis belangrik dat ons op die vier soorte grond let waarop gesaai is omdat een daarvan ’n prentjie van jou eie hart skilder. Kyk of jy dit herken.
Die harde grond langs die pad verwys na smal voetpaaie wat destyds langs die saaigrond verbygeloop het. Dit was maar die paaie van destyds wat van al die voetverkeer hard soos sement geword het. Toe die saad hierop val, kon dit nie indring nie en het die voëls dit opgepik. Dis sprekend van die persoon wat die Evangelie hoor, maar nie wil verstaan dat hy hom moet bekeer voordat hy sterf nie. Hy hoor maar dit sink nie in sy siel in nie. “…Hoor altyddeur, maar verstaan nie en sien altyddeur, maar bemerk nie” (Jes.6:9).
Wat is die oorsaak? In die meeste gevalle is sulke mense so diep in sonde versink, dat hulle geen behoefte aan ’n lewensverandering het nie. Dit maak hulle koud en vereelt teenoor die dinge van God. Hulle harte is soos die voetpad wat met verloop van jare al hoe harder word. Die Evangelie dring nie hierdie grond binne nie. Satan vat die saad wat daarop val onmiddellik weg sodat die persoon nog harder word. Daar kom geen oes van hierdie saad nie!
’n Ander deel van die saad val op rotsagtige grond. Oppervlakkig beskou, het die grond goed gelyk om te besaai. Dit was egter net ’n dun lagie. Die saad het vinnig ontkiem, maar weens ’n gebrek aan diepte, verdroog sonder om ’n korrel graan op te lewer. Dis so sprekend van ’n emosionele reaksie op die Evangelie. Mense kom vuur en vlam tot bekering, maar verlaat na ’n kort tydjie soos ’n Demas van ouds die goeie weg en keer terug hul ou lewe. Hulle stap nie die pad van Jesus nie: “….As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mt.16:24). Daar kom uiteraard geen oes van sulke saad nie.
Die derde deel van die saad het op’n doringagtige plek beland. Weereens het die grond bo-op goed gelyk om te besaai, maar onder die oppervlak was daar onsigbare dorings en onkruid besig om op te kom. Toe die saad daarop val, het dit vinnig ontkiem. Alle aanduidings was dat dit ’n goeie oes sou oplewer totdat die onkruid die saad verstik en geen oes moontlik was nie.
Dit skets die mens wat voordeel uit die Evangelie probeer trek, maar steeds aan die dorings van die sonde vasklou. Sonder ’n merkbare breek met die ou lewe van sonde en ongeregtigheid, het die mens geen hoop op redding nie. Die saad van die Evangelie oorleef nie in ’n hart wat met verkeerde dinge gevul is nie. In die grond van jou hart staan daar een van twee dinge – vrug of sonde; nie beide nie. So ’n mens begin goed maar verdwyn baie vinnig van die geloofstoneel omdat sonde die geloof versmoor. Van sulke saad kom geen oes nie.
Uiteindelik het 25% van die saad in goeie grond geval. Dit was geploeg en voorberei om te besaai. Die saad het gegroei en ’n oes opgelewer wat die boer baie bly gemaak het. Hierdie prentjie skets die hart wat deur die Woord van God diep geploeg is en ’n goeie oes opgelewer het.
Die enigste verskil tussen die vier grondsoorte is die vrug wat dit opgelewer het. Op die oog af het dit eenders gelyk. Net die goeie grond het egter ’n oes opgelewer. Watter tipe grond is jy? Het die Evangelie waarlik vrugbare grond in jou hart gekry? Dis net aan die vrug wat jy dra, duidelik. Kyk na jou lewensboom. Dra dit vrug?
Kosbare landbougrond wat in die verkeerde hande beland, raak onproduktief. Kyk maar wat met ons eie land sedert 1994 gebeur het! Dieselfde ding is ook waar van die geestelike lewe. Miskien is hier harte wat jare gelede baie vrug gedra het, maar onproduktief geraak het. Kom ons kry dit weer aan die gang!