Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe lyk jou persoonlike verhouding met God? Kan mense werklik sien dat jy Jesus liefhet? Getuig jy ooit van Hom? Onthou: niemand kan jou nie die hemel indra nie. Jy moet ’n persoonlike verhouding met Jesus hê, anders is jy verlore!
KERSFEES OF NIE?
Ds AE van den Berg
“En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar”;
Is 25 Desember werklik die geboortedag van Jesus of kom dit uit die heidendom soos sommige kritici beweer? Die antwoord op beide die vrae is nee; 25 Desember is nie die werklike geboortedag van Jesus nie. Dit kom egter nie uit die heidendom nie. Wat wel waar is, is dat 25 Desember sedert die vierde eeu n.C. die Christelike kerk se feesdag is waarop Jesus se geboorte gevier word. Let wel: sy geboorte en nie sy geboortedag nie!
Koningin Elizabeth het ’n amptelike verjaarsdag met ’n nasionale fees wat nie op haar werklike verjaarsdag gevier word nie. Met Kersfees is dit pressies dieselfde; dis nie ’n geboortedag-herdenking nie, maar ’n herdenking van Jesus se geboorte – dis twee verskillende dinge.
Dat Jesus se geboorte op of naby aan 25 Desember geskied het, is ’n baie sterk moontlikheid. Die vroeë kerk het aan die hand van ou Joodse geskrifte die tyd van Sagaria se diensbeurt in die tempel uitgewerk. Dit was glo in September van daardie jaar. In daardie tyd het ’n engel aan hom verskyn en van Johannes (die Doper) se komende geboorte verwittig. Werk dit ’n bietjie uit - Elizabeth was ses maande swanger toe ’n engel Maria oor Jesus se komende geboorte ingelig het. Dit was dus in Maart. Die kerk het hierdie datum op 25 Maart bereken. Die geboorte van Jesus was nege maande later – 25 Desember.
Daar is talle besware teen hierdie datum. Desember is winter in die Noordelike Halfrond en herders sou kwansuis nie in die koue in die veld wees nie. Dis moontlik. Tog moet daar rekening gehou word dat skape die heel jaar by die tempel geslag is, hoofsaaklik skape wat in Betlehem (naby Jerusalem) aangehou is. Daarom kon dit in Desember gewees het.
Uit ou geskrifte is dit duidelik dat Kersfees nie in die vroeë kerk gevier is nie. Dit het eers in 386 n.C. ’n vaste datum in die kerk geword, waarna 25 Desember oral byval gevind.
Veertien eeue later het kritici met bewerings voor die dag gekom dat Kersfees ’n heidense oorsprong het en die Roomse Kerk die skuldige een was wat ’n heidense fees verchristelik het. Daar is hoegenaamd geen bewyse vir so ’n aantyging nie. Gevolglik hou dit nie water nie.
Kersfeesdag kom wel na aan die wintersonstilstand wat deur die Romeine op 26 Desember gevier is nadat dit deur ’n weeklange fees van 16-23 Desember voorafgegaan is. In die vroeë kerklike geskrifte is daar geen aanduiding dat die kerk ’n datum van die heidene geleen of dat Kersfees die heidense fees vervang het nie.
Die kerk was egter bewus van hierdie heidense fees, maar het geglo dat die herdenking van Jesus se geboorte op 25 Desember nie blote toeval was nie, maar deur God so beskik is. En daar was ’n goeie rede voor. In die Noordelike halfrond het die son dan gedraai en somer-toe begin beweeg. Die heidene het dan ’n sonfees ter ere van die onoorwinlike son gevier.
Maar Wie is die ware onoorwinlike? Jesus Christus, onse Here! Hy is ook die lig wat in die donker verskyn het; die Son van geregtigheid wat opgekom het. Dit was vir die gelowiges ’n goddelike bevestiging van ’n wonderlike waarheid.
Die presiese datum van Jesus se geboorte maak regtig nie saak nie. Christene herdenk nie sy geboortedag nie, maar sy geboorte as sulks. Nie die dag nie, maar die wondergebeure waarvan die teksvers melding maak. “En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar”.
Die vraag is nie of ons Kersfees mag vier nie, maar hoe gelowiges dit moet vier. Kersfees is ’n tyd van welwillendheid; ’n tyd van gee. God het gegee; ons moet ook gee. Daarom gee ons geskenke. Ongelukkig het dit wat heilig is ’n handelsfees geword - mense word met hoë pryse uitgebuit. Om te voorkom dat Kersfees heidene aanstoot gee, word eerder van die Festive Season gepraat.
In sy lelikste vorm is Kersfees die geleentheid vir ongelowiges om hulle aan drank te buite te gaan en ydele partytjies te hou. Ander mense wil weer met Kersfees die vrede van die Kersverhaal ervaar sonder om die Vredevors te ken. Vir Christene is dít geen Kersfees nie! Kersfees is die geleentheid vir getuienis van Christus se geboorte wêreldwyd. Daarom bly Christene dit wêreldwyd vier. Almal moet weet dat die Verlosser gebore is. Gaan jy hierdie Kersfees jou huis as ’n getuienis dat Jesus gebore is, opmaak?
Vergelyk ’n bietjie Kersfees met Paasfees. Die een herdenk Jesus se koms na die aarde en die ander een sy vertrek. Die een gaan oor ’n geboorte en die ander een oor ’n dood. Kersfees is ’n tyd van ware feesviering en Paasfees van droefheid oor sonde en verootmoediging voor God. Ja, daar is ’n tyd vir alles, soos Salomo sê.
Christene moet in die Kerstyd in die goeie sin van die woord ook geesvang. Gelowiges verkeer net in ’n anderste stemming. Hoe wonderlik sou dit nie wees indien ons die Kerstydgees in flesse te kon opvang en elke maand een daarvan oopmaak nie!
Ek glo dat Kersfees ’n feestelike geleentheid is wat deur God beskik is. Indien dit ’n heidense ding was, sou God eeue gelede in die kerk ingegryp en dit stop gesit het! Ons glo mos dat Jesus aan die regterhand van God sit vanwaar Hy sy kerk regeer.
Christene moet iets mooi van Kersfees maak – huise versier en aan kinders verduidelik waarom ons geskenke gee, dat daar ’n God en nie ’n Kersvader is nie. Die hoofsaak is: Vier Kersfees rondom Christus. Wie dit nie doen nie, doen Jesus ’n oneer aan!
Neem in hierdie tyd aan die kerk se vieringe deel soos Kerssangdiens/Kersspel of Kersdag-diens. Dis goed om op Kersfees opgewonde soos ’n kind te wees want ons Verlosser het as ’n kind aarde toe gekom. Vier Kersfees met liefde. Lê die strydbyle by. Wie Kersfees nie in die hart het nie, soek dit tevergeefs in geskenkpapier onder ʼn kersboom.
Kersfees gaan oor God se liefde. “Want so liefhet God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het….” (Joh.3:16). Dit wat God in Christus kom doen het, is die ewige maatstaf van wat liefde is. Vier Jesus se geboorte deur liefde te bewys. Ons liefde vir mekaar spruit uit God se liefde vir ons. Ons het mekaar lief omdat ons God liefhet. Daarom is dit lekker om as familie by mekaar te kom en iets spesiaal vir mekaar te doen.
Wat gaan mense Kerstyd in jou huis sien? By geleentheid was koning Hiskia tot die dood toe siek waarna God hom genees het. Daarna het hy buitelandse besoekers ontvang wat in ’n bondgenootskap met Israel wou sluit. Tydens ’n besigtigingstoer het Hiskia hulle alles, van sy wapentoerusting tot sy skatkamers toe, gewys. Toe hulle weg is, vra Jesaja hom: “Wat het hulle in u huis gesien?” (2 Kon.20:15). Jesaja was nie nuuskierig nie, maar wou Hiskia teregwys. Hiskia het hulle alles behalwe sy siekbed gewys, God se grootste gawe aan hom; gesondheid. Hiskia het nagelaat om teenoor heidene van sy God te getuig.
Moenie dat mense Kerstyd alles behalwe Jesus in jou huis sien nie. Jy het ’n getuienis. Moet dit nie agterweë laat nie!