Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Selfkennis is groter as alle wetenskap. Om jouself te ken soos jy werklik is, is die sleutel na feitlik elke sukses. Die meeste huwelike misluk nie omdat eggenotes met mekaar ontevrede is nie maar omdat hulle hulself nie ken nie. Om te weet presies wat jou sterkpunte en jou tekortkominge is, is om te weet wat jou lewensdoel is, en dít is die grootste skat wat 'n mens in hierdie wêreld kan verwerf. Dán alleen kan jy seker wees dat jy Godvrugtige besluite dwarsdeur jou lewe sal neem.
DIE BOEREVOLK AANBID 'N STEEDS REDDENDE GOD
Ds AE van den Berg
“En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” - Mt.28:20 (1 Sam.1:9-19)
Op 16 Des.1949 het dr. D.F Malan tydens die inwyding van die Voortrekkermonument sy bekende Quo Vadis toespraak gehou: Suid-Afrika, waarheen gaan jy? Hy was bekommerd oor sy volk wat van die Voortrekkergees afvallig geword het en het hulle baie ernstig vermaan om na die Christelike lewensweg terug te keer. Vandag, 64 jaar later, vra ons met baie meer kommer in ons hart: Waarheen is die Boerevolk op pad? Van die eertydse Christelike lewenswandel is daar weinig te sien; God word nie meer gevrees nie.
Op die vraag waarheen ons op pad is, moet ons vra: Waar kom ons vandaan? Het ons ’n doel aan die suidpunt van Afrika? Hieroor is daar meningsverskil. Daar is volksgenote wat onwrikbaar glo dat God die Boerevolk vir ’n bepaalde doel wil gebruik. Daar is egter ook van ons eie mense wat so deur vrysinniges gebreinspoel is, dat hulle eerder aan toeval as goddelike bestiering glo. Dit sal ek, te oordeel na ons geskiedenis, veral Bloedrivier, nooit as te nimmer glo nie!
Elke gelowige het die opdrag om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees. Ons moet die geseënde boodskap van God se genade aan alle mense verkondig. God het ons juis na donker Afrika laat kom om sy lig aan mense wat in sonde-duisternis verkeer te versprei. Ons durf God nooit slegs vir ons eie volksgenote opeis nie; Hy is ’n God vir almal wat die knie voor Hom buig!
God kies nie kant nie. “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie” (Rom.2:11). By Bloedrivier kies Hy nie die Voortrekkers bo die Zoeloes omdat hulle blank is nie, maar omdat hulle gelowig was. Hulle geloof het hulle gered want God skaar Hom by gelowiges. “Welgeluksalig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het” (Ps.33:12).
Die wonder by Bloedrivier gebeur omdat die Voortrekkers tot God gebid en onwrikbaar geglo het dat Hy hulle sal red. Hulle het na aan God geleef en sy Woord getrou gelees en bestudeer. Daarom was hulle geloof nie net in hul woorde duidelik nie, maar ook in hul lewensgang sigbaar. Hulle heiligheid het gesorg vir hul veiligheid!
Die Voortrekkers het geweet dat God vrymagtig optree soos wat dit Hom behaag. Daarom het hulle nie met die gelofte God in ’n ding probeer indwing nie. Al wat Cilliers en sy manne God beloof het, was dat indien hulle welslae sou hê, hulle uit dankbaarheid sekere dinge sou uitvoer; Geloftedag sou soos ’n dankdag tot God se eer gehou word.
Cilliers en sy manne het in die aangesig van ’n gewisse dood besef dat hulle geheel van God afhanklik is en geen voorwaardes aan Hom gestel nie. Met die gelofte wat afgelê is, het hulle erken dat slegs God hulle in daardie benarde situasie kon red en Hom beloof dat hulle nageslag die wondergebeure sou bly herdenk sodat al die eer aan God sou gaan en nie aan mense nie. Dit is dan ook baie duidelik in die gelofte verwoord. In die gelofte gaan dit om dankbaarheid vir God se genadige ingrype.
Gebed verander sake. Moses het gebid en die see het voor hom oopgegaan. Elia het gebid en vuur uit die hemel het op Karmel neergedaal. Sarel Cilliers het gebid en die barbare is verslaan. Ja, die sterkste gelowiges is hulle wat in die geloof bid. Sonder geloof is niks moontlik nie. Met geloof is niks onmoontlik nie. Daarom het die Voortrekkers daardie dag hul lewe in die hande van Hom wat die heelal gemaak het toevertrou en soos Daniël se drie vriende ongeskonde aan die dood ontkom.
Op 16 Desember 1838 het God sy kinders se smekinge gehoor en aan 407 Voortrekkers ’n klinkende oorwinning oor 12,000 Zoeloes gegee sonder om paniekerig te word. Wie die Onsigbare ken, kan die onmoontlike verwag.
Die Voortrekkers het hul gelofte gestand gedoen en daarna 16 Desember as ’n wydingsdag aan God gewy om soos ’n Sondag deur te bring. Hulle het hul nageslag geleer om geestelike betekenis aan hierdie dag te heg. Wie hierdie dag nie as ’n Geloftedag gedenk nie, is ontrou aan sy eie verlede; ook diegene wat van Geloftedag ’n versoeningsdag gemaak het. Geloftedag het hoegenaamd niks met ’n versoening met heidense magte te doen nie
Talle mense het geen erg aan die gelofte omdat hulle hul nie daaraan gebonde voel nie. Niemand kon glo namens hulle ’n gelofte by God aflê nie. Hoe dink jy? Kyk gerus na 1 Sam.9 waar die kinderlose Hanna by God om ’n kind smeek en ’n gelofte doen dat sy hierdie kind vir God sal grootmaak deur hom vir tempeldiens beskikbaar te stel. God het haar gebed verhoor en die seuntjie wat sy gebaar het, het sy op driejarige ouderdom na die tempel teruggeneem en haar belofte nagekom sonder dat Samuel ’n sê gehad het. Hanna se gelofte aan God het Samuel vir die res van sy lewe gebind. Ons doen dieselfde met die doop van ’n kind.
Die Voortrekkers het namens hulself en hul nageslag ’n gelofte aan God afgelê, ’n gelofte wat ons steeds bind omdat ons geskiedenis onlosmaaklik met die van die Voortrekkers verbind is. Met die viering van Geloftedag sê ons opnuut vir God dankie dat Hy in ons voorsate se lotgevalle ingegryp het, anderste was ons miskien nie vanoggend hier nie.
Op die vraag waarheen ons op pad is, is daar baie antwoorde. Pessimiste glo dat dit klaar is met Kees. Duisende volksgenote is sonder hoop vir die toekoms. Die optimiste, waarby ek myself insluit, glo dat God ’n groot doel met ons het en alles ten beste sal uitwerk al het ons land met iets anders as die nag donker geword. Ek dank God dat Hy vir baie van ons volksgenote geestelike nagsig gegee het sodat ons in hierdie donker dae steeds sy Vinger in ons Boerevolk se lewe kan raaksien en op Hom vertrou.
Kom ons hou aan twee dinge vas. Eerstens ons geskiedenis. Kyk en leer uit die geskiedenis en weet dat God nooit verander nie. Hy het die Israeliete telkens in benouende omstandighede gered, so ook die Voortrekkers. Moenie jou gebondenheid aan die verlede as ’n plig beskou nie, maar eerder ’n vereiste. Dit wat God in die verlede gedoen het, doen Hy vandag en môre. Moet nooit jou geloof in die toekoms verloor nie. Suid-Afrika het ʼn nood aan gelowiges wat aanhou om gelowig te leef.
Benewens die geskiedenis moet ons ook aan ’n tweede ding vashou - God se beloftes. Hy is nie net die God van die verlede nie, maar ook van die toekoms. Moenie vir die dag van môre bang wees nie. Hy wat ons in die verlede gered het, sal ons weer red. Leef net kinderlik afhanklik van Hom!
Kom ons basuin dit op hierdie Geloftedag aan die wêreld uit: Die Boerevolk aanbid ’n reddende God! Hy wat in die verlede gered het, red in die hede en ook in die toekoms; ons geloof in Jesus bou vir ons ‘n brug na die toekoms.
Daarom gaan ons met die oë gevestig op God die donker toekoms sonder vrees tegemoet. Al weet ons nie wat die toekoms inhou nie, weet ons vir seker in Wie se hand dit is. Die toekoms is so helder soos God se beloftes want die toekoms behoort aan Hom. En waar ek gaan, is Hy by sy kinders: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld”.
Dank God dat die toekoms van ons volk nie in die hande van heidene berus nie, maar in Syne. Daarom gee ek op hierdie Geloftedag geen treë sonder Hom nie. Met Hom loop ek tot aan die uithoeke van die aarde!