Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons gedagtes nie met een of ander sinvolle taak gevul is nie, laat dit ruimte vir die duiwel. En hy kom nooit alleen nie. Hy bring altyd ‘n klomp bose gedagtes en verleidings saam.
SOOS 'N PEN IN GOD SE HAND
Ds Andrè van den Berg
“Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense” (2 Kor.3:2)
Lank gelede was daar ‘n potloodmaker wat baie trots op sy werk was. Sy potlode was kunswerke. Eendag het hy, voordat hy een van die potlode in ‘n pakkie gesit het vir hom gesê: “Daar is vyf dinge wat jy moet weet voordat ek jou die wêreld instuur; onthou dit elke dag en moet dit nooit vergeet nie. As jy dit doen, sal jy die beste potlood wees”. Toe begin die potloodmaker die vyf dinge op te noem.
- Die potlood sal groot dinge in die lewe kan doen, as hy gewillig in iemand se hand sal lê.
- Hy gaan van tyd tot tyd skerpgemaak word ten einde diensbaar te wees.
- Hy sal foute maak, maar omdat hy ook van ‘n uitveër voorsien is, sal hy sy foute kan herstel.
- Alhoewel hy ‘n kunswerk is, is sy buitekant nie die heel belangrikste nie, maar sy binnekant
- Hy moes sy merk op elke oppervlak maak, ongeag die omstandighede. Hy moes net aanhou skryf.
Hoe waar is dit nie ook van gelowiges in ‘n geestelike sin nie.
1. Jy sal groot dinge doen as jy toelaat dat God jou ter hand neem.
Sommige mense is van kleins af in God se hand. In die OT lees ons van Samuel wat as seuntjie na die tempel gebring is. Sy moeder het geweet dat haar kind iets besonders in die Skepper se hand sou wees. Hy het die grootste rigter van sy tyd geword.
In die NT lees ons van Johannes die Doper. Toe Maria by Elisabet kom, het die ongebore kind in haar van vreugde opgespring en is Elisabet met die Heilige Gees vervul. Sy het geweet dat Johannes iets besonder in die Skepper se hand sou word; die wegbereider vir Jesus.
Toe Johannes begin preek, het baie tot bekering gekom. Na sy dood het Jesus van hom gesê:
“Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie” (Mt.11:11).
Samuel was die grootste van die rigters en Johannes die Doper die grootste van die profete. Die rede vir hul sukses was dat hulle God toegelaat het om hulle ter hand neem.
2. Die kind van God sal gereeld skerpgemaak word.
Gemak stomp gelowiges af. Hulle word soos ‘n stomp potlood wat sleg skryf. Daarom maak God ons van tyd tot tyd skerp. Paulus getuig hiervan:
“Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely (2 Kor.11:24,25). “Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê....sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Efes.4:12,13).
Beproewing maak gelowiges skerp. Elia is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Nadat hy die Baäldienaars op Karmel oorwin het, was hy genoodsaak om vir sy lewe die woestyn in te vlug. Van glorie na vernedering! Na ‘n paar dae het hy onder ‘n besembos gaan lê en gebid om te sterf waarna God ‘n engel met brood en water gestuur het om hom te verkwik:
“Hy het toe opgestaan ....en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb” (1 Kon.19:8).
Om 40 dae en nagte aaneen te loop, is net moontlik indien jou geloof vlymskerp is. Kort daarna is Elia lewend in die hemel opgeneem en word hy as die grootste profeet in OT beskou. Daarom het hy saam met Moses op die berg van die verheerliking by Jesus verskyn; die wet en die profete (Mt.17).
3. Die potlood is ook van ‘n uitveër voorsien.
As die kind van God fouteer, gee God hom die geleentheid om dit met berou uit te vee en die verhouding met Hom te herstel. Petrus is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Wanneer Jesus van sy naderende dood praat en sê dat almal aan Hom aanstoot gaan neem, is Petrus vol bravade.
Hy sou Hom nie verlaat nie! En kyk wat het gebeur; Petrus was die eerste wat Hom verlaat en selfs drie maal verloën het!
Petrus kon die dissipelkring verlaat en na sy ou lewe teruggekeer het. Hy het egter die regte ding gedoen en nie ‘n fout met ‘n fout opgevolg nie. Petrus het by die diisipels gebly totdat Jesus hom weer aangesien het.
“Laat my skape wei” (Joh.21).
En hoe het hy hulle nie laat wei nie!
Ná die wondergebeure op Pinksterdag het Petrus ‘n vreeslose preek gelewer waartydens 3000 mense tot bekering gekom het. Wat leer ons hieruit? Dat as jy ‘n fout gemaak het, jy dit kan uitvee. Daar is ‘n uitveër aan elkeen van ons se lewenspotlood. Dis standaardtoerusting. Die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde!
4. Leer ook van die potlood dat die belangrikste deel van jou nie die uiterlike, maar die innerlike is.
Dit gaan in die lewe nie om die gesig, liggaamsbou, klere, besittings of wat ook al nie, maar om die siel. Al lyk ‘n potlood ook hoe mooi, as die lood nie reg werk nie, is dit nutteloos. Jesus sê van ons binneste:
“Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” (Mt.16:26).
5. Laat jou merk op alle lewensterreine ongeag jou omstandighede.
Doen jou plig en wees dankbaar dat God ‘n doel met jou het. Doen wat die gelowiges in Korinthe moes doen. Naas Athene was Korinthe die grootste stad in Griekeland en die hart van die heidendom. Die inwoners was baie vleeslik ingestel. Gevolglik moes gelowiges hier hard werk.
Paulus het drie jaar hier gewerk en ‘n sterk gemeente op die been gebring. Die heidene het gesien dat die Christene anders was. Hulle het anders geleef, gepraat en opgetree. God het ‘n doel daarmee gehad. Hulle was Sy brief aan ‘n verlore mensdom. Die Korintiërs was potlode in Sy hand. Gevolglik was hulle getuienis treffend. Nie soseer met die lippe nie, maar met die lewe. Dis wat God wil hê; lewende potlode!
Israel was onwillige potlode.
"Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is” (Jer.29:13).
God vra gewillige potlode. Dis net moontlik as ons werklik ‘n brief van God aan verlorenes is:
“...omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart” (2 Kor.3:3).
‘n Kind van God laat, soos ‘n potlood, sy merk op alle lewensterreine na.
Gelowiges is ‘n brief van God en Hy die Afsender. Dis geskryf met die Gees van die lewende God vir sy diens. Hy skryf met geestelike potlode. Briewe van aardse skryfmateriaal is verganklik, maar nie diè wat deur die Gees geskryf is nie. Dis eg en onverganklik. Paulus het die Tien Gebooie in gedagte as hy van die kliptafels praat. Dis verganklik. Daarom bestaan dit nie meer nie.
God gebruik ander skryfmateriaal - mense se harte. God het, soos die potloodmaker, ons ook kunswerke gemaak. Ons is immer na Sy beeld geskape. Waarom bestaan ons? Wat is ons doel in die lewe? Om ‘n brief van God aan verlorenes te wees. Kan mense dit sien? Is ons anders? Kom ons lê ons opnuut in die hand van ons Maker om meer bruikbaar in Sy diens te wees.