Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moses sê aan sy volk om kleinvee te slag vir die pasgaviering en die bloed aan hulle deurposte te smeer sodat die engel van die Here verby sal gaan en nie ook hulle eersgeborenes te laat sterf soos hy met die Egiptenare doen nie. Moses maan die volk ook om die pasgaviering geslag na geslag te onderhou as heilige instelling uit dankbaarheid dat hulle gered is en nie deur die dood daar in Egipte getref is nie. Presies so verwag die Here van al sy kinders, geslag na geslag, om uit dankbaarheid dat Hy ons van die ewige dood met sy kruising gered het, nagmaal keer op keer te vier as teken en seël van die nuwe lewe wat ons ontvang het.
JOU BRON VAN BLYWENDE BLYDSKAP...
...IS DIE SEKERHEID VAN JOU VERLOSSING DEUR JESUS CHRISTUS
Ds Andrè van den Berg
“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” - Fil.4:4
In die ou tyd kon onderdane met die nodige toestemming hul koning persoonlik gaan spreek het. So lees ons hoe Salomo twee vroue wat elkeen die moederskap van ʼn sekere baba opgeëis het, te woord gestaan het. Dit het ook gebeur dat die koning soms op reis moes gaan en sy onderdane hom nie kon spreek nie. Hoe het hulle geweet of hy tuis of op reis was? Wanneer hy tuis was, het die paleis-owerheid ʼn vlag voor die paleis laat wapper. As dit nie gewapper het nie, was die koning nie tuis nie.
Blydskap is die koninklike vlag wat voor die paleis van gelowiges se harte wapper wat sê: Jesus, die Koning is hier tuis. Hierdie blydskap beland nie toevallig in ʼn mens se lewe nie, maar is die gevolg van regte besluite en regte optredes.
Wat dryf ʼn mens tot sulke besluite en optredes?
Die Heilige Gees wat in gelowiges werk: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”(Gal.5:22). Let op blydskap; dit staan tweede op Paulus se “vrugte”-lys omdat dit ʼn onontbeerlike element van ʼn gelowige se lewe is: “Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel alle opregtes!”(Ps.32:1.)Blydskap maak die vreugde van ons verlossing in Jesus aan ʼn verloregaande wêreld bekend; ʼn vreugde soos van iemand wat lank in ʼn tronk was en dan vrygelaat word. Dis die vreugde van ʼn reddende koersverandering - jy is nie meer op pad hel toe nie, maar hemel toe.
Die skrywer C.S Lewis was ʼn selferkende ateïs met verskeie doktorsgrade en ʼn professoraat aan ʼn universiteit. Toe God Sy hand op hierdie begaafde man se lewe lê en hy kragdadig tot bekering kom, het hy onmiddellik Christelike lektuur begin skryf. Die titel van die eerste boek was Surprized by Joy!
Daar is ʼn lied wat sê: “Love and marriage goes together like horse and carriage”. Dit is ook van Christenskap en blydskap waar – die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Baie mense verkeer onder die waan dat Christene lang, suur gesigte moet hê – begrafnisondernemer gesigte. Wie so optree, doen die saak van God meer skade aan as wat hulle ooit besef.
Daar is egter twee soorte blydskap in die lewe: eerstens die kortstondige blydskap van die wêreld en tweedens die langdurige blydskap by God soos wat ons in die gelykenis van die Verlore Seun vind. Die kortstondige blydskap sien ons in sy hunkering om uit die huis te kom en hom aan genot oor te gee. Dan is daar die blywende blydskap van die Vaderhuis waarheen hy ná berou teruggekeer en met groot vreugde ontvang is.
Egte blydskap word nie by verkeerde plekke of die verkeerde mense gevind nie. Die bron van blywende blydskap is die sekerheid van verlossing deur Jesus Christus. Dis om te weet dat daar Iemand is wat jou onvoorwaardelik liefhet en die lewenspad enduit met jou sal saamloop. Hierdie wete laat jou sing: “Ek weet vir seker; Jesus is Heer – Hy het my sonde uit liefde vergeef. Ek was verlore, maar is gevind; nou het ek vrede – ek is Gods kind”. Christenskap neem nie vreugde uit ons lewe weg nie, maar plaas dit juis daarin terug, soos sout wat aan kos smaak gee.
Paulus sit in ʼn koue Romeinse tronksel wanneer hy hierdie brief aan die gemeente in Filippi skryf. Waaroor skryf hy? Slegte tronkkos, onvoldoende beddegoed waarmee hy die koue moet trotseer of verwaande Romeinse soldate wat hom met minagting behandel? Nee, niks daarvan nie. Hy skryf 12 keer in hierdie kort brief van vier hoofstukke oor blydskap. “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” (teks).
Paulus het daar in die koue tronksel ervaar dat Christus nie gekom het om sy leed as gevangene weg te neem nie, maar in sy beproewing sy lewe met Sy teenwoordigheid te vul. Gelowiges het geen beproewing waarvan Jesus nie weet nie en word in tye van beproewing deur ʼn God van liefde vasgehou. Paulus het geweet dat hierdie tydelike beproewing nie met die vreugde wat daar vir hom in die hemel gewag het vergelyk nie.
Blywende blydskap het niks met uiterlike omstandighede te doen nie, maar het sy oorsprong in Jesus Christus. Die befaamde Duitse skrywer Goethe het gesê: “Dis nie wat om ons is nie, maar wat in ons is; dis nie wat ons besit nie, maar wat ons is wat ons gelukkig of ongelukkig maak.” Geneeshere sal vir jou sê dat blymoedige mense die spanning en stres van die lewe baie beter as morbiede mense hanteer. “Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurig fees” (Spr.15:15).
Paulus maak die Bron van sy blydskap bekend: “IN DIE HERE” Jesus gee ons blydskap wat nie van ons kan weggeneem kan word nie; nie deur beproewing, eensaamheid, droefheid, siekte of selfs die dood nie. “Verbly julle altyd in die Here!” nie net as dit goed gaan nie, maar in alle omstandighede – sonskyn, onweer, vrede, storm, gesondheid, siekte; in lewe, en ja, selfs in die dood.
Paulus herhaal dan die oproep: “Ek herhaal: verbly julle!” Herhaling is ʼn beproefde opvoedkundige beginsel, omdat die mens geneig is om gou te vergeet.
Daar is so min blydskap in die wêreld waarin ons leef. God verwag van ons om daagliks tot die volume van blywende blydskap by te dra. Moenie die duisternis vervloek nie, maar steek eerder jou kersie van blydskap aan en help om die duisternis terug te drywe. Christus se opdrag is: “Julle is die lig vir die wêreld … laat julle lig so skyn voor die mense dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”(Mt.5:15-16)
Vrouens is lief vir grimering en spandeer baie geld daarop. Daar is egter ook grimering vir mans sowel as vrouens wat niks kos nie - blydskap. Wat harte van vol is, loop gesigte van oor. As blydskap op gelowiges se gesig ontbreek, is so ʼn gesig geskend. Ja, gelowiges wat geen blydskap ervaar nie, doen God ʼn oneer aan.
Die hunkering na God is die begin van blydskap. Daarom kan die wêreld ons geen ware blydskap bied nie; slegs Christus. Hy gee blywende blydskap. Gelowiges het alle rede om een groot Halleluja van kop tot tone te wees.
Daar is ʼn eeue-oue legende wat vertel dat, nadat Satan uit die hemel gewerp is, hy by geleentheid ʼn engel uit die hemel ontmoet het. Die engel vra hom toe wat hy die meeste mis vandat hy uit die hemel weg is? “Ek mis die vreugde van die hemel” het hy geantwoord. Hierdie noodsaaklike, onvernietigbare Christelike blydskap het grootliks in ons wêreld weggeraak. Jesus sê in Joh.16:22: “Niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.” Blydskap maak van arm mense ryk mense.
Amen!