Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Abraham Lincoln het gesê: ’n Mens is so gelukkig as wat hy besluit om te wees. Jy kan ook op net soveel geluk aanspraak maak as wat jy bereid is om te gee; nie meer nie!
JOSUA – GOD SEËN GELOWIGE LEIERS
Ds Andrè van den Berg
"... Mense eerbiedig slegs leiers wat eerbiedwaardig optree. Sonder eerbare leiers kan geen land voorspoedig wees nie.... Joshua het die sedelike en maatskaplike aftakeling van sy volk aanskou. Daarom het hy, toe hy die leisels by Moses oorneem, daarna gestreef om sy volk op die beginsels van reg en geregtigheid te rig."
“ ..... Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan” - Jos.1:9
Josua is een van die mees onkreukbare karakters in die Bybel. Sy lewe draai om die as van sy uitsonderlike geloof in God. Toe die 12 verspieders van hul tog om die Beloofde Land te bespied, terugkeer, het tien van hulle ʼn negatiewe verslag ingedien - die Kananiete is te sterk om te oorwin, die stadsmure te stewig om te breek en sommige van die inwoners te groot om mee skoor te soek!
Hierdie verspieders het op sig en nie in die geloof geoordeel nie. Daarom was hulle baie bang. Twee het egter uit ʼn geloofsoog na die situasie gekyk - Kaleb en Josua. Daarom het hulle anders berig: |” Die land ... is ʼn buitengewoon goeie land. As die Here ʼn welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring... Wees net nie teen die Here opstandig nie...” (Num.14:7-9).
Israel het ter stond die meerderheidsverslag aanvaar en die opstellers van die minderheidsverslag ter dood veroordeel. Was dit nie dat God ingegryp het nie, is Josua en Kaleb daar en dan gestenig (:10)! Ja, eerbare mense ontvang dikwels harde houe van eerlose mense.
Dit het God so kwaad gemaak dat Hy Israel met ʼn plaag wou uitroei was dit nie vir Moses wat vir hulle gepleit het nie! As vonnisversagting sou Israel 40 jaar in die woestyn deurbring totdat al die klaers uitgesterf het. Net hulle kinders sou die Beloofde Land binnegaan.
Dis tragies om daaraan te dink hoe God Israel met bonatuurlike hulp uit Egipte na ʼn land hoogstens drie maande se trek te voet uitgelei het. Maar as hulle naby kom, trek hulle kleinkoppie en wil selfs die gelowige verspieders teregstel. God draai hierdie doodstraf as’t ware om as Hy ʼn hele geslag van Israel veroordeel om in die woestyn te sterf sonder om die Beloofde Land in te gaan. So is hulle aanvanklike vreugde en toekomsdrome deur hul eie toedoen en ongeloof verongeluk - alles tevergeefs!
Omdat hulle God geglo het, het Josua en Kaleb wel die Beloofde Land binne getrek nadat Josua vir Moses as leier opgevolg het. Baie jare daarna het hy voor ʼn geloofsuitdaging te staan gekom toe Israel die vol Jordaanrivier moes oorsteek. Josua het geweet dat God sou help. En Hy het! “... Vandag sal Ek begin om jou groot te maak voor die oë van die hele Israel, sodat hulle kan weet dat Ek met jou sal wees soos Ek met Moses gewees het. Gee jy dan bevel aan die priesters wat die verbondsark dra, en sê: Net soos julle aan die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan bly staan” (Jos.3:7,8). Dieselfde ding wat met Moses by die Skelfsee gebeur het, het ook met Josua by die Jordaanrivier gebeur; Israel het droogvoets deur diep water getrek!
Josua het ook benewens God se hulp ook dié van sy eie leër ander mense se hulp benodig. God het dit beskik dat Ragab die verspieders weggesteek en help ontsnap het waarvoor sy en haar huisgesin se lewens gespaar is. Toe dit tyd word om Jerigo in te val, het die inwoners die stad se hekke gesluit. God het egter die stad laat val.
Omdat die tweede stad, Ai, baie kleiner as Jerigo was, het Josua ʼn kleiner leër uitgestuur waarna Israel op sy baadjie gekry het omdat Agan, ʼn Israeliet, van die goed tydens die verwoesting van Jerigo gevat het t.s.v. God se waarskuwing om niks te vat nie. Israel het ʼn les geleer - daar is ʼn direkte band tussen nederlaag en ongehoorsaamheid!
Nadat Agan gestenig is, het Israel weer teen Ai opgetrek en dit verower. Daarna het Josua deur die geloof nog talle oorwinnings oor Israel se vyande behaal en by geleentheid selfs die son by Gibeon laat stilstaan! Wat ʼn leier!
Toe Josua egter oud begin word, het God hom aangesê om die land tussen die 12 stamme te verdeel. So het dit dan gebeur dat hy in die ouderdom van 110 jaar die Israeliete byeen laat kom het: “... en Josua oud en ver op sy dae... het die hele Israel laat roep... en vir hulle gesê: Ek is oud, ek is ver op my dae; en julle het self gesien alles wat die Here julle God aan al hierdie nasies voor julle uit gedoen het; want die Here julle God, Hy het vir julle gestry” (Jos.23:1-3).
Josua het by dié geleentheid Israel daaraan herinner dat as sy God gehoorsaam was, Hy haar voorspoedig sou maak en teen haar vyande beskerm. Indien sy ongehoorsaam sou raak en aan heidense dinge meedoen, Hy hulle uit die land sou ban (Jos.23:15) wat dan ook tydens die latere twee ballingskappe gebeur het. Josua het aan God al die krediet vir Israel se redding gegee.
Wat die karakter van Josua so merkwaardig maak, is die lang geloofspad wat hy met God geloop het. In Gen.5 lees ons van Henog wat met God gewandel het. Dit was ook van Josua waar wat talle rolle gedurende sy lewe vertolk het: slaaf, soldaat, dienskneg, spioen, nasionale held, staatsman en heilige.
Hy is gedurende Israel se slawerny as slaaf in Egipte gebore. Miskien het hy as jongman die sweep van die slawedrywers self op sy lyf gevoel. Israel se vernedering en ellende was ook sy ellende en vernedering, so ook die hunkering na vryheid. Ja, Josua se karakter het in die stroom van die lewe ontwikkel en sy eerbare lewe was die paspoort na ware geluk.
Hy het die sedelike en maatskaplike aftakeling van sy volk aanskou. Daarom het hy, toe hy die leisels by Moses oorneem, daarna gestreef om sy volk op die beginsels van reg en geregtigheid te rig. Josua se kragtige optrede het mense aangemoedig om die lewenspad reg te loop. Ja, as ’n volk goed gelei word, loop mense nie sommer verkeerd nie!
Josua was ook ʼn onverskrokke soldaat en bedrewe in oorlogvoering. Hy het van verspieders gebruik gemaak en daar was dissipline in sy leër. As militaris en goeie herder het hy nie nodig gehad om onderdanigheid van sy skape af te dwing nie. Onder ʼn sterk generaal is daar nie swak soldate nie!
Josua was aanvanklik ʼn dienskneg van Moses. Hoofstuk een begin deur na hom as: “... Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses...” te verwys. In die laaste hoofstuk word daar na hom as die dienaar van God verwys - ʼn grootse titel. Sy naam beteken: God is redding. Moses en Josua het beide geleer om eerder na God op te kyk as om op mensemagte te vertrou. Beide van hulle het die moed gehad om die wêreld aan te durf en die geloof om berge te versit. Moses sowel as Josua het na aan hul volk geleef om hul probleme te verstaan en naby aan God om dit op te los.
As staatsman het Josua van God opdrag ontvang om die land onder die 12 stamme op te deel. En as heilige het hy die teenwoordigheid van God ervaar: “.... Ek sal jou nie begewe en nie verlaat nie” (Jos.1:5). “En die Here was met Josua en die gerug van hom het deur die hele land gegaan” (6:27). Geen wonder dat Israel lank na sy dood oor hom gerouklaag het nie!
Josua se voorbeeld en nagedagtenis het die volk en leiers lank bygebly: “En Israel het die Here gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat lank na Josua nog in die lewe was...” (Jos.24:31). Mense eerbiedig slegs leiers wat eerbiedwaardig optree. Sonder eerbare leiers kan geen land voorspoedig wees nie.
Josua het die lewenspad so reguit geloop, dat dit vir hom nie nodig was om sy volk te leer wat reg en wat verkeerd was nie. Hulle kon maar net na hul leier kyk. Eerbare mense leef nie tevergeefs nie. Die geskiedenis van die mensdom is ook die lewensbeskrywing van eerbare leiers. In Josua se geval het mense kennis geneem van iemand wat na God se hart geleef het!
God seën gelowige leiers met ʼn heilige karakter. Josua het inderdaad aan die betekenis sy naam voldoen – God is redding. Hy het so geleef dat as almal soos hy was, die aarde ʼn stukkie paradys sou wees. Daarom is sy lewe na 3500 jaar vandag nog ʼn lewende getuienis vir almal wat met God wil wandel.
Amen!