Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het aan die fariseërs gesê dat Hy barmhartigheid wil sien by mense, nie allerhande offerandes nie. Is ons nie dikwels wreed en veroordelend teenoor ons medemens sonder goeie rede nie? Ons moet onthou dat die oordeel God alleen toekom.
WORD STERK IN DIE HERE
Ds Andrè van den Berg
“En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” - Mt.24:37-39
Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, was dit oor iets wat baie ver in die toekoms gelê het. Tog was die boodskap toe alreeds duidelik: Die aarde sal, soos in die dae van Noag, weereens vergaan, maar nie weer herstel word nie. Die wederkoms van Christus is die finale gebeure. Glo u dit?
Ongelowiges glo nie in die wederkoms nie; die aarde sal maar net aangaan soos dit reeds eeue lank die geval is. Dit getuig van ongeloof, ʼn ongeloof waarvan Jesus in Mt.24 praat. Min mense sal vir sy wederkoms reg wees, ook mense wat dit met die mond bely, maar, soos die vyf dwase maagde in die gelykenis, dit eintlik nie verwag nie.
Jesus sê dat die lewe tot op ʼn bepaalde dag normaal sal verloop. Mense sal koop en verkoop, plant en oes, trou en kinders grootmaak totdat die Groot Verdrukking aanbreek en die mensdom deur die oordeel en toorn van God getref word. Jesus vergelyk dit met die dae van Noag toe dinge normaal verloop het tot op die dag dat Noag die ark ingegaan en God die sluise van die hemel oopgemaak en die hele mensdom op agt na, verdrink het. Noag het hulle telkens gewaarsku maar is as ʼn alarmmaker bespot. Hulle sou hul woorde saam met die water van die vloed sluk!
In die tyd van Noag was die mensdom boos en korrup – soos ook vandag... Hulle het hul eertydse vertroue van God na die mens verskuif, hul rug na die lig gedraai en die duisternis omarm. Sodoende het hulle die mooi van die lewe onder geweldige druk geplaas, soos tans weer gebeur omdat booswigte boosheid goed laat voorkom. Een groep se boosheid word die ander se straf.
Booshede styg sedert April 1994 soos ʼn stofwolk in ons stede en dorpe op. In die eerste vyf jaar van sg. demokrasie het misdaad met 717% gestyg! Mense word doodgeskiet, ouers maak kinders dood, kinders maak ouers dood, kinders maak mekaar dood. Dood, dood en nogmaals dood! Alles ruk hand uit, net soos in die dae van Noag.
Toe die Boerevolk sy vryheid op die altaar van internasionale aanvaarding geplaas het, het hy, soos Juda van ouds, ʼn doodswens op homself gehaal: “Maar hulle sê: Dit is tevergeefs; want ons sal na ons gedagtes wandel, en ons sal elkeen volgens die verhardheid van sy bose hart wandel” (Jer.18:12). Ons het ʼn swaard vir ons eie bors skerp gemaak.
God is ʼn God van orde. Oral waar booshede seëvier, verdwyn wet en orde. Almal het regte, selfs die gehardste misdadigers, maar niemand neem verantwoordelikheid nie. Alles draai om verdraagsaamheid hetsy in die politiek of in kerklike geledere - hoe groter die verdraagsaamheid hoe skraler die sedelike norme. Dan gebeur met ʼn volk wat met Israel gebeur het waarvan die einde van die boek Rigters melding maak - elkeen het gedoen wat reg was in sy oë. ’n Volk kan geen groter ongeluk oorkom, as om die geloof in Christus te verloor nie!
Wanneer dit gebeur, pleeg mense toenemend selfmoord, mense wat nie meer vir die lewe kans sien nie. So ook ander bose vergrype soos die wettiging van genadedood wat al hoe sterker opklink, selfs van kerklui se kant! Sien u wat gebeur? God se orde word omgekeer - lig word duisternis en duisternis lig. Dit maak dat wetteloosheid en korrupsie aanvaarde samelewingsnorme word. Daarom doen staatshoofde en hoëlui se skandale geen afbreek aan hul gewildheid nie.
Dis tragies hoeveel onskuldige bloed in die naam van demokrasie en vryheid daagliks vergiet word. “Egipte sal ʼn woesteny word, en Edom ʼn woeste wildernis wees... dat hulle onskuldige bloed in hulle land vergiet het” (Joël 3:19). Dit is wetteloosheid - sonder God, sonder wet!
Hierdie onskuldige bloed is nie net dié van vreedsame burgers wat deur booswigte vermoor word nie, maar ook dié van mensies in wording wat nog nie eens die lewe aanskou en hulself nie teen moordenaars kan beskerm nie. Na berekening word 50 miljoen babas jaarliks ter wêreld geaborteer - 137,000 lewens daagliks; meer as een per sekonde. Dis ʼn menseslagting soos daar nog nooit in die geskiedenis was nie. Dit kan mos nie anders as om God, die Gewer van lewe, te vertoorn nie!
In 1940 is onderwysers in Amerika se staatskole gevra wat hulle grootste probleme met skoolkinders was. Hulle noem toe op: Kinders wat uit hul beurt praat, kougom kou, raas, indruk en mors.
Toe onderwysers 50 jaar later die selfde vraag gevra is, het die probleme baie anders gelyk: dwelmmisbruik, drankmisbruik, tienerswangerskap, selfmoord, roof en aanranding. Dis die geweld van die laaste dae - ʼn doodskultuur.
Kinders wat wapens skool toe bring is redelik algemene nuus. ʼn Paar jaar gelede is ʼn skoolseun in Krugersdorp deur ʼn medeleerling met ʼn swaard doodgemaak. Kinders wend hul al hoe meer tot geweld om van hul persoonlike frustrasies in die gesinslewe ontslae te raak. Let op die speletjies wat in video-arkades, op rekenaars en met konsoles gespeel word – baie daarvan is doodsspeletjies.
Alles is vandag met geweld gevul – TV, films, strokiesverhale. En wat doen ouers daaraan? Niks nie. Solank as wat dit kinders van hulle nek af hou, is hulle tevrede. Sulke argeloosheid maak van vervaardigers multi-miljoenêrs!
Die Evangelieskrywer Lukas gee ʼn gelykluidende beskrywing van Mt.24 en gebruik Lot as voorbeeld: “ Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: Hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Luk.17:28-30).
Die mense van Sodom was uitsonderlik boos omdat hulle skaamteloos homoseksualisme bedryf en God se huwelik-orde omgekeer het; ʼn gruwel wat tans in ontspoorde kerke met allerlei morele verskonings doodgeverf word. ʼn Meisie wat ʼn vrou word, is een van God se mooiste kunswerke. Maar ʼn man wat ʼn vrou word, is een van die Satan se lelikste skilderye!
Terug by die geweld in ons gebroke samelewing. Wat is geweld? Die fisiese vertoon van misplaaste trots. Die val van Satan is ʼn treffende voorbeeld hiervan – misplaaste trots wat opstand ontketen het. Let op die misplaaste trots van diktators en tiranne in heerserrolle. Hulle regerings is vrot van geweld en korrupsie!
Die wêreld is ryp vir God se oordeel. Hy is nie afwesig by dit wat vandag gebeur nie, maar sien alles vanuit die hemel. “Die Here is in sy heilige paleis.... sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. Die Here toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet” (Ps.11:4,5). God se uurglas is besig om leeg te loop!
Al hoe meer volke breek bande met God: “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad ten die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps.2:1-3).
Dis ʼn verterende blindheid van die siel wat van mense leë doppe in ʼn hol wêreld maak. Laat ons net na een vryheid smag nl. dié wat ons in ons gebondenheid aan God vind.
Jesus draai geen doekies om nie as Hy sê dat vir gelowiges van die laaste dae groot stryd voorlê. Dit sal so hewig wees, dat as God die dae van die Groot Verdrukking nie verkort het nie, niemand gered sou word nie! Die Christendom is nie ʼn luilekker lewe nie, maar stryd waarvoor ons voor die tyd ingeoefen moet raak. Ons kan nie soos die vyf dwase maagde wag tot op nommer 99 en dan wil regmaak wat ons versuim het nie. Die tyd om in die Here sterk te word, is nou!
“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Efes.6;10.11).
Wie in dié tyd nie geestelik sterk is nie, gaan ʼn slaaf word van die nare omstandighede waarvan Christus ons in die Profetiese Rede waarsku. Die geskiedenis van die kerk gaan eindig soos dit begin het – met ʼn stryd teen die Satan waartydens die koring van die kaf geskei word; ware gelowiges van skyngelowiges.
Ek pleit dat jy terwyl jy die tyd het, in die Here sterk sal word. En as jy vir jou geloof deur die donker moet loop, jy nie sal ophou voordat dit lig word nie. Geen vrug smaak so lekker as die een waarvoor jy die verste geloop het nie. Moenie toelaat dat die wanhoopsdampe van die hel die helder lig van die hemel wat op ons as oorwinnaars wag verdring nie! Christus het ons ʼn wonderlike belofte gegee: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mt.28:20).
Amen!