Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons sien oral om ons hoe mens onder die spreekwoordelike broodlyn leef; vroeër jare het ons feitlik nooit 'n blanke bedelaar gesien nie, vandag het elke straathoek een of meer. En ons gee dikwels 'n geldjie of iets anders om hulle te help, maar dink ons ooit aan hulle geestelike broodlyn, daardie groter behoefte wat dikwels nie raakgesien word nie? Gebruik die geleentheid om met hierdie mense oor hulle emosionele en geestelike welstand te praat en u sal verbaas wees hoe groot behoefte hulle daaraan openbaar!
SONDAG OF SABBAT?
Ds Andrè van den Berg
Mense wat deur die leer van die Messiaanse Jode meegevoer word, dring op die herstel van die Joodse sabbat aan. Van hulle glo selfs dat Christus nie na die aarde sal terugkeer alvorens die sabbat herstel is nie. Hulle beskou die hou van die Sondag as sonverering wat glo deur keiser Konstantyn begin en deur die Roomse kerk deurgevoer is.
Waar kom die sabbat vandaan? God het dit in die OT as rusdag bepaal:
“En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus.... En God het die sewende dag geseën en dit geheilig...” (Gen.2:2,3).
Ex 16 gee die eerste aanduiding van die sabbatsgebod toe Israel aangesê is om dubbeld die hoeveelheid manna op die sesde dag op te tel sodat hulle op die sewende dag kon rus. Daarna kom dit in die Tien Gebooie voor.
Alhoewel God op die sewende dag van sy skepping gerus het, was die sewende dag nie toe al ʼn gebod nie. Dit het eers 2,500 jaar later tydens Israel se woestyntog deel van die Ou Verbond geword.
In die OT en tydens Jesus se aardse lewe is die rusdag op die Saterdag gehou. Eers ná sy opstanding is die Sondag as rusdag gehuldig om deel van die uiterlike onderskeid tussen Jode en Christene uit te maak. Daarbenewens het Christene hul nie meer laat besny nie, maar gedoop en ook nie meer die pasga gevier nie, maar die nagmaal gebruik – alles sigbare onderskeidingstekens.
Omdat die eerste Christene hoofsaaklik Jode was, het hulle die sabbat as rusdag gehou. Die Heilige Gees het egter deur die apostels gewerk en gelei om die Sondag as rusdag te hou. Dis die dag van die Here genoem en het na Jesus se opstanding uit die dood verwys. Ná die apostels se stryd teen wettisisme in die vroeë kerk, het al die gemeentes die Sondag as rusdag afgesonder.
Daarom is Christus die oorsprong van Sondag-onderhouding. Hy het op die eerste dag van die week uit die dood opgestaan:
“En baie vroeg, op die eerste dag van die week, net na sonop, kom hulle by die graf.. . En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus... Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie... " (Mark.16:2,6).
In Openb.1:10 sê Johannes dat hy die Openbaring op die dag van die Here op Patmos ontvang het; die afsonderingsdag van Christene.
Dat Jesus ná sy opstanding twee keer op ʼn Sondag aan sy dissipels verskyn het, dui ook op die belangrikheid van hierdie dag vir Hom (Joh. 20:1,19,26). Daarbenewens is die Heilige Gees ook op ʼn Sondag uitgestort. Hand. 2:1 sê spesifiek dat dit op die dag van die Pinksterfees was - wat die Jode op ʼn Sondag gevier het. Met hierdie gebeure het Jesus die belangrikheid van die Sondag bevestig. Alles het met ʼn doel gebeur.
Christus het ook vir Paulus gelei om die rusdag op ʼn Sondag te vier:
“Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ʼn mens ontvang of geleer nie, maar deur ʼn openbaring van Jesus Christus” (Gal.1:11,12).
Gelowiges het op die eerste dag van die week byeen gekom en Paulus het vir hulle gepreek en die nagmaal bedien (Hand.20:6,7). Die Korintiërs het ook op die eerste dag van die week fondse vir die behoeftige gelowiges in Judea ingesamel (1 Kor.16:1,2).
Waarom het Paulus spesifiek op die eerste dag van die week gepreek? Waarom het die gemeentes op die eerste dag van die week nagmaal gebruik? Waarom het gemeentes op die eerste dag van die week geld vir behoeftiges ingesamel? Toevallig? Nee, maar omdat Christene die Skrif verstaan en deur die Gees gelei is om op die eerste dag van die week bymekaar te kom, God te aanbid en die gemeenskap van die gelowiges te ervaar.
Christus het met sy dood die OT wet vervul en beëindig. Christene is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade (Efes.2:8). Derhalwe is Christene onder geen verpligting om die OT wette te onderhou nie. Hulle is net aan een wet gebonde - die liefdesgebod ((Mt.22:37-39).
Gelowiges wat verstaan hoe die NT oor die wet praat, kan nie die Joodse sabbat onderhou nie. Hulle is dan juis daarvan ontslae!
“Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie” (Rom.7:6).
Wie van boeie ontslae is, bind hom mos nie weer daarmee nie!
Die wet het sy waarde vir sy tyd gehad. Met die sterwe en opstanding van Christus het dit uitgedien geraak.
“Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom.6:14).
Toe die Nuwe Verbond kom, is die oue vervul en het dit tot niet gegaan.
Die doel van ʼn nuwe wet is immers om iets beter in die plek van ʼn ou een te stel. Daarom durf geen Christen die Joodse sabbat onderhou nie. Dit skreeu teen die genade! Paulus sê in Rom.13:9 baie duidelik dat al die gebooie in die gebod van naasteliefde saamgevat is. Dit sluit ook die sabbat in. Daarom is mense wat na die Ou Verbond terugval, òf dwaas òf mislei.
Een van die belangrikste dinge wat gelowiges oor die sabbat moet weet, is dat dit vir die mens gemaak is en nie die mens vir die sabbat nie. Dit beteken dat God mense nie daarmee aan bande wou lê nie. Die sabbat moes nie vir hulle ʼn las wees nie. Hy het die heilige rusdag juis vir die mens se beswil ingestel sodat hulle hulself nie oorwerk nie.
“As jy jou voet terughou van die sabbat – om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ʼn verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here.....” (Jes.58:13,14).
Die Jode het op die sabbat besonder erns met hul godsdiens gemaak. Dit was ʼn getuienis teenoor die heidene wat geen rusdag eerbiedig het nie. In Ex.31:13 word dit dan ook ʼn teken genoem. So ook in Eseg.20:12:
“Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ʼn teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die Here, is wat hulle heilig”.
Die opskrif by Mt.12:1-8 lui dat Jesus die Here van die sabbat is. Hy het die sabbat met sy Persoon vervul en nuwe inhoud daaraan gegee. Hy het die diepere betekenis daarvan beliggaam. Jesus het die kerklui van sy tyd ontstel deur skynbaar ongeoorloofde dinge op ʼn sabbat te doen. Hy het siekes genees en sy dissipels toegelaat om koringare langs die pad in te samel. Dit het teen die grein van die wettiese kerklui ingedruis en was dan ook een van die hoofredes waarom hulle Hom laat kruisig het. Wie die sabbat breek, moes self gebreek word (Ex31:14)!
Gelowiges moet lig loop vir wettisisme. God spreek telkens sy misnoeë teen uiterlike vormgodsdiens uit - mense wat godsdienstige rituele aanhang sonder dat hulle hart daarin is.
“Bring nie meer skynheilige offergawes nie... Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste.. . hulle is My ʼn oorlas. Ek is moeg om dit te dra” (Jes.1:13,14).
Paulus was ontsteld toe die Galasiërs, nadat hy die evangelie van genade aan hulle verkondig het, weer in Joodse wettisisme verval het.
“O, onverstandige Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle nou so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was! Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof” (Gal.3:1-5).
Dit lyk asof die Galasiërs se godsdiens uit ʼn klomp moets en moenies bestaan het en alhoewel hulle Jesus bely het, hulle nog steeds van die bekeerdes verwag het om hulle volgens Joodse voorskrifte te laat besny. Daarom berispe Paulus hulle ernstig:
“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Gal.5:1).
Hy waarsku in verse 3 en 4 dat as ʼn gelowige hom laat besny, hy in die Ou Verbond terugval en dan verplig is om die hele wet te onderhou. So ʼn mens draai sy rug op Jesus en verag die genade!
In Gal.4:9 praat Paulus van die armoedige eerste beginsels wat weer gedien word en sê in vers 10:
“Julle neem dae en maande en tye en jare waar”.
Hy verwys na die Joodse feeste en sabbat. Net soos wat dit nie meer nodig was om hierdie feeste te vier nie, is dit ook nie nodig om die sabbat te onderhou nie. Al die feesdae was slegs ʼn skaduwee van die ware rus wat in Christus sou kom.
Die Kolossense is ook deur wettisisme gepootjie:
“As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? – almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan – volgens die leringe van mense, wat, alhoewel dit ʼn skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees” (Kol.2:20-23).
Paulus sê duidelik dat die OT feeste nie op Christene van toepassing is nie.
“Laat niemand julle dan oordeel in spys en drank of met betrekking tot ʼn fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ʼn skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus. (Kol.2:16,17)
“Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee wat sou kom; die werklikheid is Christus” (NAV).
Paulus het dikwels met die Jode wat hul gebruike op die Christene probeer afdwing het, gebots. Sekere gelowiges het geglo dat as iemand ʼn Christen word, hy steeds die Joodse gebruike moes onderhou. In Kol.2 sê Paulus dat al hierdie wette skaduwees van beter toekomstige dinge was.
Die OT was slegs skaduwees van dinge wat nog nie sigbaar was nie. Dis soos wanneer iemand om ʼn hoek staan maar wie se skaduwee vir ander sigbaar is. Hy is uiteraard meer as sy skaduwee. Laasgenoemde is slegs ʼn teken van sy naderende koms. So was die onderhouding van sekere seremoniële wette, feeste en sabbatte alles skaduwees van Jesus wat sou kom. Wie die Joodse sabbat onderhou, is soos iemand wat die skaduwee bo die persoon verkies.
Alles in die OT wys na Jesus heen; elke seremonie, fees, offer en sabbat; alles slegs skaduwees. Jesus is die werklike inhoud van die Sondag. Daarom is sy koms, sterwe en opstanding die grondmotief vir Christene se onderhouding van die Sondag as rusdag. Die Heilige Gees het die kerk gelei om Christus se opstandingsdag as rusdag te onderhou!
Die sabbat het mense laat rus. Dit was egter ook ʼn voorafskaduwing van die werklike rus wat sou kom – die rus in Christus Jesus. Die skrywer van die Hebreërbrief skryf treffend hieroor. Die ware sabbatsrus vind plaas wanneer ʼn sondaar deur die bekering in Jesus tot rus kom:
“... Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb.4:7)
Dis nie meer ʼn spesifieke dag nie. Gelowiges kan enige dag tot die rus in Christus toetree.
Wie in Jesus rus gevind het, rus soos God van sy werke (Heb.4:10). Hy het dit wat die fisiese sabbatsrus bedoel was om te doen, ten volle nagekom. Ons gee nie aan die sabbatsgebod gehoor nie omdat Jesus dit vervul het. Jesus is die ware rus:
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” ( Mt.11:28,29).
Elkeen van die Tien Gebooie word in die NT noukeuriger behandel. Net nie die een oor die sabbat nie. Dit kom nêrens in die NT voor nie. Nog minder is daar enige aanduiding dat die Sondag die Saterdag vervang het. Dit sou uiteraard op ʼn nuwe wet neerkom.
ʼn Streng Sondag-onderhouding met moets en moenies lei tot wettisisme en vervreem gelowiges van die genade. Dit laat ook die gevaar ontstaan dat mense net een dag in die week aan God wy en die res leef soos wat hulle wil. Sondae word dan bloot die dag waarop die sondes van die week bely word. Paulus praat juis van die Jode wat die een dag ten koste van die ander oorbeklemtoon het:
“Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk...” (Rom.14:5).
Gelowiges moet elke dag van die week die sabbatsrus ervaar.
Dis egter vir gelowiges ʼn sielsverkwikkende gebruik om minstens een dag per week in besonder op hul verhouding met Christus te fokus, maar nie as ʼn nuwe wet nie. Dit kan enige dag van die week wees. Dit gaan uiteraard om die reëlmaat van een uit sewe dae. Die Joodse sabbat het bv. van ʼn Vrydag 18:00 tot ʼn Saterdag om18:00 geduur wat ook ʼn deel van die sesde dag ingesluit het. Derhalwe gaan dit in Ex 20:8-11 nie oor ʼn spesifieke weeksdag nie, maar om die reëlmaat van een uit sewe.
Die siening dat die onderhouding van die Sondag in die plek van die sabbat gekom het, is nie korrek nie. Die een het nie die ander vervang nie. Toe Christus aan die kruis gesterf het, is die Joodse sabbatsonderhouding beëindig en nie met ʼn ander dag vervang nie. Gelowiges is egter deur die Gees gelei om spontaan op Sondae byeen te kom.
“Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie meer onder die wet nie” (Gal.5:18).
Daarmee het hulle die reëlmaat van een dag uit sewe eerbiedig, nie as ʼn nuwe wet nie maar ʼn heilige geleentheid.
Openbaring is die laaste boek van die NT en teen ongeveer 95nC geskryf waarna die era van die Kerkvaders aangebreek het. Hulle was die volgende geslag van kerkleiers. Hulle het uiteraard die naaste aan die tyd van die apostels geleef en bied insiggewende getuienis aangaande die Sondag as rusdag. Die Roomse Kerk het eers eeue daarna ontstaan en is derhalwe geen faktor in die Sondagheiliging soos wat dwaalleraars verkondig nie.
Die Kerkvaders het, interessant genoeg, glad nie van mekaar oor die Sondag as rusdag verskil nie. Die Didaché (die leer van die 12 apostels), een van die oudste Christelike geskrifte wat teen 90 nC ontstaan het, meld dat gelowiges op Sondae (die dag van die Here) byeengekom het. Daar is genoegsame aanduiding dat die eerste Christene, waar hulle hul ook al bevind het, op die eerste dag van die week vir prediking, nagmaal en aanbidding byeen gekom het. Die Brief van Barnabas (100nC) lui:
“Ons onderhou die agtste dag met vreugde, die dag waarop Jesus ook weer uit die dood opgestaan het” (Die Brief van Barnabas 15:6-8 ).
Die geskrifte van Kerkvaders soos Ignatius, Justinus, Tertullianus, Origines en Augustinus bevestig dieselfde gebruik.
Justinus die Martelaar (140 nC.) skryf dat die gemeente op die dag wat in Rome Sondag genoem word, bymekaar kom omdat dit die dag is waarop Jesus uit die dood opgestaan het. Tertullianus (200nC.) skryf dat gelowiges in teenstelling met diegene wat die Saterdag hul sabbat noem die dag ná Saterdag vier en dat dit vir hulle ʼn vreugdevolle dag is.
Dwaalleraars wat sê dat keiser Konstantyn die sabbat van die Saterdag na die Sondag verander het omdat hy ʼn sonaanbidder was en die songod daardeur verheerlik het, slaan die bal baie ver mis. Konstantyn het eers in 313nC met die Edik van Milaan godsdiensvryheid aan die Christene in sy ryk gegee. Sondagheiliging was toe al meer as 250 jaar in gebruik!
Die Roomse Kerk het reg van die begin af haar geskiedenis laat neerskryf. Dit word in ʼn biblioteek in die Vatikaanstad bewaar. Daar is hoegenaamd geen aanduiding van enige keiser of pous wat die sabbat na die Sondag verander het nie. Nog minder dat die hou van eredienste op Sondae ʼn Roomse bevel was. Gelowiges het lank voor die ontstaan van dié kerk op Sondae byeengekom.
God het die Ou Verbond net aan Israel gegee. Toe Jesus sterf, het dit verval. Daarom het die gordyn in die tempel met die kruisiging geskeur (Mt.27:51). Gevolglik het die Joodse sabbat met die dood van Jesus geëindig. Hoe kan ʼn pous, etlike eeue later, die sabbat van ʼn Saterdag na ʼn Sondag verander as daar niks was om te verander nie?
Jesus se opstandingsdag vorm die grondslag van die Christelike Sondagsviering. Hy staan hier sentraal. Ten spyte van die duidelikheid van die Bybel oor die Christelike rusdag, is daar nog steeds mense wat die uitgediende Joodse sabbat, die skaduwee, onderhou. Mag God hulle tot ware insig bring!
Kol.2 :16-23