Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Vandag het jy nog 'n dag vol genade beleef. Die vraag is of jy dit raakgesien het. Of het jy jou blind gestaar teen die swaarkry, pyn of dalk ander ongerief wat jy moes verduur? Onthou dat ons binne hierdie gebroke wêreld al hierdie dinge sal beleef, maar dat ons met God se genade binne hierdie belewenis beskerm en gedra word, suiwer deur Genade!
DIEN HOM UIT DANKBAARHEID
Ds Andrè van den Berg
“...want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges” - Rom.16:18
Om godsdienstig te wees, beteken om diens aan God te lewer. Dis wonderlik om, gesien in die lig van Joh.3:16, iets vir God te kan doen. Jy dien miskien op die Kerkraad, bring jou kant by die jeug, sing in die koor, is vlytig in die gemeente; alles goeie dinge. Is dit egter genoeg om jou in die hemel te bring? Kan diens met ander woorde die bekering vervang?
Al sê mense dit nie reguit nie, leef baie mense asof diens wel die bekering kan vervang. Dit skep ʼn valse veiligheidsgevoel wat miljoene mense al die ewige dood laat beêrwe het. Dis soos om die vyand op jou drumpel te hê, maar nogtans te glo dat jy veilig is. Valse vertroue lei dikwels tot die dood. Op geestelike gebied lei dit altyd tot die dood!
Om God sonder die bekering te dien maar nogtans te glo dat jy hemeltoe gaan is growwe selfmisleiding:
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! Sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Mt.7:21-23).
Ware godsdiens behels meer as blote fisiese mensediens. Sulke diens is nie die fondament van die koninkryk van God nie, maar ʼn bykomstigheid. Wie dit nie insien nie, dien hoogstens die kerk maar nie Koning van die kerk nie! Baie mense het die kerk in hul harte maar nie die Koning van die kerk nie!
|
Dis waarop die teksvers neerkom: Kerkdiens kom slegs tot sy reg indien dit ʼn persoonlike verhouding met Christus, die Hoof van die kerk, as onderbou het. Ware godsdiens begin en eindig nie met fisiese diens nie. Dit begin met bekering en eindig met ʼn ewige verheerliking van Hom wat ons deur sy bloed van ʼn ewige dood gered het. Diens alleen laat nie die wortels van die geloof in jou groei nie. Christus verheug Hom nie bloot in mense wat bereid is om vir die kerk te werk nie, maar in mense wat soekend dienswillig is; mense wat geleenthede soek en opofferings maak om Hom te verheerlik. En daarvoor moet elke gelowige sy kop, hart en hande ondersoek. Wanneer hy sy kop ondersoek, moet hy hom die vraag afvra of hy werklik God uit dankbaarheid dien of om eie selfsugtige redes? God het ʼn behae in soekers: “ Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word|” (Mt.6:33). Hartwerk is belangriker as handewerk. Geen mens kan op eie stoom die hemel ingaan nie. Diens sonder geloof is soos ʼn horlosie sonder wysers. Geloofsgehoorsaamheid moet die as wees waarom diens aan God draai. Hierdie begrip kom telkens in die Romeinebrief ter sprake en omsluit ook as’t ware die hele Bybel. Maar hoe lyk geloofsgehoorsaamheid? Ek wil dit aan die hand van ʼn elektriese ketel verduidelik. Die ketel is die beeld van die gelowige en die koord is die Woord van God. Ketels word gemaak om water te kook en gelowiges gewederbaar om vir God te kook: Die enigste manier hoe 'n ketel kan kook, is om elektrisiteit deur die koord te ontvang. Met gelowiges werk dit ook so – hy moet sy krag van God kry. Daarsonder sal die ketel, al lyk dit ook hoe mooi, nooit kook en vir mense van nut wees nie. Diens sonder die bekering is nuttelose tydsverkwisting! Binne-in die elektriese koord is daar twee drade; een bruin en een blou. Die elektrisiteit vloei egter slegs deur die bruin draad die ketel binne. Die blou draad kanaliseer die stroom na buite - dit bevat geen krag om die ketel te laat kook nie, slegs die bruin draad. Die Bybel is 'n samestelling van twee hoofdele: Die evangelie (bruin draad) en die wet (blou draad). Die Evangelie het krag; God doen alles wat vir ons nodig is om kind van Hom te word en die hemel te beêrwe. Die Wet handel oor die mens en sy gehoorsaamheid aan God. Ons ontvang die redding slegs deur die Evangelie - dit wat God gedoen het, en nie deur die Wet, dit wat die mens doen nie. Die koord prop op 'n spesifieke manier by die ketel in. Daar is koperplaatjies of pennetjies wat op die koord pas. Een daarvan vir die bruin draad en een vir die bloue. Die koperplaatjies is 'n beeld van geloofsgehoorsaamheid. Glo pas slegs op die Evangelie en diens op die Wet. Jy kan dit nie omruil soos wat mense in die gemeente van Rome wou doen nie. Jy sal nooit vir die saak van Christus kook nie. Alles sal dood en koud in jou geestelike lewe bly. Wanneer Christus die Evangelieboodskap van redding na jou toe bring, is dit soos die bruin draad wat krag in die ketel bring. Jy kry geloofsekerheid wat jou lewe verander en jou die 100% sekerheid gee dat jy ná jou dood nie hel toe gaan nie, maar hemel toe. En dit veroorsaak reaksie – dankbaarheid. En nou alleen is jou diens van waarde want uit hierdie sekerheid vloei ʼn begeerte om vir God iets te doen. Die pad waarlangs die dankbaarheid na buite vloei, is langs die pad van die Wet, die blou draad van diens. Maar eers moes die krag ingevloei het. Éérs redding dan diens; uit dankbaarheid. Dis waaroor die boodskap van Romeine gaan. Diens as dankbaarheid vir redding in Christus Jesus. Oral waar sulke diens gelewer word, seën God ʼn gemeente met vrede, eensgesindheid, ywer en dankbaarheid. Maar as daar afgewyk en die bruin en blou drade omgeruil word, kry jy verdeeldheid soos in die gemeente in Rome gebeur het. Jy moet eers die Here liefkry voordat jy Hom kan dien. Jy moet eers jou hart vir Jesus gee voordat jy vir Hom kan werk. Jy moet Jesus eerste in jou lewe stel voordat jy in sy wingerd kan werk. Jy moet eers met jou sondes afreken voordat jy dienskneg kan word. |